Vullisverwyderaars is groot morsjorse PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 June 2018 10:22
Untitled Document

Inwoners van Cullinan is ontsteld oor die vullis wat dié toerismedorpie vol lê. Hulle kla dat die munisipale vragmotors, wat elke week die dorp se vuilgoed oplaai, rommel langs die paaie strooi.


Swart sakke waai uit die oop bokant van die vullisverwyderingsvragmotor
Foto: Gordon Webb

Inwoners sê dat die munisipale vullisverwyderingsvragmotor bo oop is en dat swart sakke en ander los gemors uit die vragmotor waai. ‘n Inwoner sê dat sy agter dié vragmotor gery het en dat ‘n swart asbliksak wat afgewaai het, haar voorruit met millimeters gemis het.


Asblikke voor die dorp se winkelsentrum loop oor
Foto: Marja Brunninger

Dan is daar ook ander oop vragmotors wat vullis by bergingshouers oplaai en dié los plastieksakke waai die wêreld vol as die vragmotors spoed optel. Winkeleienaars sê dat so ‘n vuilspul die beeld van dié toerismedorpie glad nie goed doen nie.


Baie vullis uit die omgewing word in oop vragmotors gelaai en waai dan die wêreld vol
Foto: Marja Brunninger

Die Diamant Kamer van Koophandel vergader een maal ‘n maand met die Tshwane Sakeforum. Gordon Webb van die Kamer sê dat Tshwane ongelukkig nie die laaste vergadering in Mei, toe die saak bespreek moes word, bygewoon het nie. Hy sê dat hulle die probleem in die volgende vergadering sal aanspreek.

 

© 2018 Die/The Bronberger