Die hart klop warm PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 25 June 2018 10:19
Untitled Document

Welkom by die Bronnie se 16e hoogwinter-uitgawe. In hierdie bibbermaand bring ons stories uit die gemeenskap wat die hart sommer lekker warm laat klop.

Op bladsy agt berig ons oor die suksesvolle operasie wat ‘n pragtige 16-jarige meisie, Bianca Fourie, by ‘n hospitaal in Faerie Glen ondergaan het. Dié operasie was noodsaaklik om Bianca se lewe te red en haar die vooruitsig op ‘n beter lewe te gee. Ons het verlede maand berig oor Bianca se nood en baie Bronbergers het hulle harte en beursies oopgemaak om ‘n jong lewe te red en te verryk. Dankie.

Die stadsraad van Tshwane is bloedneus gelaat toe inwoners van ons gebied ‘n appèlsaak oor nuwe belastingtariewe gewen het. Op bladsy 12 kan jy lees hoe saamstaan deur inwoners die beoogde verhoogde belastingstruktuur vir onbeboude eiendom en hoewes afgeweer het.

Lees op bladsy 13 hoe gemeenskapslede ingespring het om vier verdagtes wat ‘n bejaarde vrou in haar huis aangerand het, op te spoor en aan te keer. In die berig hieroor bring ‘n polisiehoof hulde aan die onbaatsugtige diens wat gelewer word en ons is seker elke lid van die gemeenskap wat daarby baat vind, sal ook.

Leer meer oor hoe die kwesbaarste onder ons, mishandelde en verwaarloosde kinders, bygestaan en beskerm word. Op bladsy 15 kan jy ook uitvind wat elkeen kan doen om ‘n beter toekoms vir dié onskuldige vertraptes in ons omgewing te skep.

‘n Inwoner van Zwavelpoort se Paul Jungnickelhuis slaan ‘n rol los in die land se gewildste sepie. Op bladsy 16 kan jy meer te wete kom oor dié jong vrou met sterre in haar oë wie se droom waar geword het.

Die wêreld se eerste vrylating van ‘n bedreigde wildekatsoort het onlangs in ons gebied gebeur. Op bladsy 18 vertel ons jou van dié omgewingsdeurbraak en wys ons jou hoe ‘n ‘miershooptier’ lyk. Nog goeie omgewingsnuus is op bladsy 32. ‘n Deurbraak is gemaak om swartwattelbome, ’n indringerplant wat in ons gebied ’n baie groot probleem is, hok te slaan.

Die  storie oor Mathys Roets se rolstoelvriendeklub en hulle inspirerende bedrywighede kan op bladsy 30 gelees word.

Ons is dankbaar aan elke leser en adverteerder en vir die genade wat dit oor 16 jaar heen vir ons moontlik gemaak het om warmhartstories eie aan ons omgewing in die Bronnie te verpak en te deel.

 

© 2018 Die/The Bronberger