Vurige nuwe leser PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 25 June 2018 10:18
Untitled Document

Willem Dreyer van Omakange skryf:
Ek bly op Omakange, dis omtrent 80 km suid van Ruacana in die noordweste van Namibië. Ek was op soek na katjiepiering- en koraalboomplantjies of sade en het al wat ’n webwerf is besoek om dit in die hande te kry.

Daar was ’n artikel oor katjiepierings in Die Bronberger gepubliseer en Google het dit as kruisverwysing gelys en so het ek toevallig op Die Bronberger afgekom. Wat ’n aangename verrassing!

Ek het dadelik aanklank gevind by julle mense en al julle artikels, rubrieke en briewe verslind. Dis wonderlik om weer in Afrikaans van egte Afrikaners te hoor en te lees oor sake wat ons plattelandse Afrikaners so na aan die hart lê. 

Daar is so ’n dun lyntjie, uit die 1920’s, wat my met julle omgewing verbind. My pa het by ’n oom van hom, genaamd Herman Carinus, grootgeword en hulle het ’n melkery by Donkerhoek gehad, maar dit was lank terug gewees.

Verder het daar ’n gedagte by my opgekom dat Die Bronberger dalk my nuuskierigheid kan bevredig. So tydjie terug was daar op KykNET se ‘Nisboere’ ’n stuk gewees van ’n boer wat weer die uitgestorwe kwagga geteel het uit die hedendaagse bergsebra.

Die DNA van ’n opgestopte kwagga wat êrens in ’n museum in Europa is, is vergelyk met die hedendaagse bergsebra en dis gevind dat dit nie ’n afsonderlike spesie is nie. Die unieke kleur, vaal agterlyf met strepe net op die voorlyf, was die gevolg van groepteling.

Nou wonder ek of die Kaapse leeu en die bloubok nie dalk ook dieselfde spesies is as die hedendaagse leeu en swartwitpense nie en dalk weer ‘uit die dood uit’ geteel kan word nie.

Die plaaslike dierkundiges mmm-en-haaa net as ek met hulle daaroor gesels. Ek is seker daar sal kundige Bronberger-lesers wees wat meer inligting sal kan verskaf.
Groete van ’n nuwe vurige Bronberger-leser.

Naskrif: Ek soek steeds katjiepiering- en koraalboomsade.

Ons het Willem in verbinding gesit met Blyfontein Kwekery, wat inheemse bome kweek, en hulle kon hom help. Goeie nuus is dat ons binne die volgende maand of wat ‘n deurblaai-funksie op ons webwerf gaan hê wat elektroniese lesers in staat sal stel om die advertensies ook te sien. As iemand iets weet oor die teling van die Kaapse leeu en bloubok, stuur vir Willem ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . – Red

 

© 2018 Die/The Bronberger