Tuks se Oom Gert was toeka se twaksmous PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 22 May 2018 08:06
Untitled Document

Angie Kleijn

Oom Gert is die naam van ‘n groter as lewensgrootte houtpop, wat sedert 1929 bykans jaarlikse ontvoerings as Tuks se gelukbringer deurgemaak het.

In verlede maand se Bronnie het Mauritz Naude ‘n lesersbrief geskryf om te vra of Gert van Niekerk, die eerste en enigste president van die Republiek van Stellaland, dalk dié Oom Gert was.
Mauritz sê dat die eerste foto van Gert (die beeldhouwerk) In ‘Oom Paul se buurman was ook ‘n president’ in ons Maart-uitgawe, baie soos Tuks se gelukbringer lyk en hy vra of daar enige verband is.


Oom Gert agter op ‘n bakkie saam met studente in 1939
Foto: web.up.ac.za

Die antwoord is dat dié houtpop met sy verslete hoed en groot baard, nie gemaak is om soos die Stellalandse president te lyk nie. Oom Gert was eers ‘n advertensie-standbeeld voor ‘n tabakwinkel.
Hy is in 1929 deur studente van die Universiteit van Pretoria (Tuks) voor die Van Erkoms Tabakwinkel in Pretoriusstraat gegaps. Hy het buite dié winkel met ‘n sak tabak en ‘n pyp in sy regterhand gestaan as ‘n advertensie vir Springboktabak.


Oom Gert het ‘n verrassingsverskyning gemaak vir ‘n Tuks Alumni byeenkoms en het saam met komediant, Casper de Vries, vir die kamera gekyk
Foto: Tuks Alumni

Ná die winkeleienaar later uitgevind het dat studente sy advertensie-beeld gegaps het, het hy hulle toegelaat om hom te hou.

Die studente het die houtbeeld aanvanklik Oom Paul genoem. Om verwarring met Paul Kruger en die standbeeld op Kerkplein te verhoed, het hulle hom in 1932 na Oom Gert herdoop. Die Stellalandse president, Gert van Niekerk, is reeds op 23 Oktober 1896 dood.


Oom Gert se houtgesig van naderby beskou
Foto: Sonoptehuis

Oom-Gert-die-gelukbringer het in verskeie koshuise op Tuks se kampus gewoon, insluitende ‘n paar besoeke aan dameskoshuise waar hy met hokkiestokke en hoëhakskoene verdedig is. Dié verdedigingspogings was glo redelik gewelddadig en die arme Oom Gert het oor die jare ‘n hele paar beserings opgedoen – van ‘n gekraakte skedel tot ‘n arm wat afgesit is.

In 1932 het twee Sonoppers en twee Kollegemanne vir Oom Gert gesteel en na enkele wedervaringe het hy weer sy tuiste in Sonop ingeneem.


Oom Gert op sy hout-staanblokke
Foto: Sonoptehuis

In 1942 het Kollege en Voortrekker onderskeidelik probeer om Oom Gert te steel, maar was onsuksesvol. In dieselfde jaar het Onderstepoort daarin geslaag om Oom Gert te ontvoer en het hom aan sy hand vas geketting. Toe Sonop hom terugsteel, moes hulle sy hand afsaag. Oom Gert het ongelukkig eers in 1998 weer volle gebruik van sy hand herwin.

In 1944 het Kollege hom ontvoer en kort daarna, Vergeet-my-nie. In 1945 het die tussentydse komitee besluit dat Oom Gert voortaan aan die koshuis wat die meeste geld met die Jooloptog insamel, sal behoort.


Springbok Tabak
Foto: Gumtree

In die 1950’s het die koshuise opgehou om onder mekaar oor Oom Gert te baklei en eerder gefokus op Wits se pogings tot ontvoering. In ‘Tukkies Oorskou sy Eerste Honderd Jaar, 1908 – 2008’, skryf Flip van der Watt dat die houtbeeld sy opwagting by elke intervarsity gemaak het as ‘n stille toeskouer van die aktiwiteite op die veld, terwyl eerstejaars, gewapen met stokke en pikhandvatsels, moontlike aanvalle op Oom Gert moes afweer.

Oom Gert was glo veral onder Witsies ‘n gesogte teiken. In 1950 het ‘n Witsie, vermom in ‘n wit baadjie, by Sonop Koshuis opgedaag onder die voorwendsel dat hy ‘n amptelike rotvanger is. Hy het die gebied goed gefynkam en die volgende dag moes verbaasde koshuisgangers hoor dat Oom Gert deur die ‘rotvanger’ ontvoer is en as gyselaar by Wits aangehou is.


Van Erkoms Tabak
Foto: Bid or Buy

Die laaste dameskoshuis wat Oom Gert gesteel het was Madelief in 1999, maar hy het sy pad glo gou weer terug na Sonop gevind. In ‘n foto wat in 2014 geneem is, het Oom Gert ‘n ogie gehou toe Jan-Paul Botha en Clark Fourie van Sonop die TuksRes-trofee vir Manskoshuis van die Jaar tussen hulle vasgehou het.

Blykbaar word Oom Gert deesdae veilig iewers in die universiteit, so ver as moontlik weg van studente, gehou.


Die oorspronklike Oom Gert het ‘n Springbok-tabaksakkie voor Van Erkoms se tabakwinkel vasgehou
Foto: Bid or Buy

 

© 2018 Die/The Bronberger