Megastad word vir Cullinan beplan PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 May 2018 08:05
Untitled Document

‘n ‘Megastad’ word vir Cullinan beplan. Dié ontwikkeling met meer as 5 000 wooneenhede gaan glo op 180 hektaar grond tussen Cullinan en Refilwe wees.

Die megastad gaan aan die oostekant van Collinweg wees, die pad wat noord loop vanaf die vierrigtingstop waar die R515 en R513 kruis. Die ontwikkeling gaan glo twee kleuterskole, ‘n laer- en hoërskool, kliniek, kerk, winkelsentrum, sportgronde, kantoorpark, vulstasie, taxistaanplek, gemeenskapsgeriewe en sewe parke insluit. Daar gaan groot klem gelê word op openbare vervoer.


Die beplande nuwe ontwikkeling is in die voorgrond met die myn se slikwaterdam en Refilwe in die agtergrond

Gauteng-provinsie beplan massiewe infrastruktuur-ontwikkeling met meer as R100 biljoen wat belê word in meer as 800 000 huise. Cullinan se nuwe megastad is een van 30 residensiële ontwikkelings in vyf aangewese ontwikkelingstreke in die provinsie.

Die Gautengse Provinsiale Regering sê dat die megastede in fases ontwikkel gaan word en dat aanvangsfases reeds vir hierdie finansiële jaar beplan word. Volgens die Gautengse Departement van Nedersettings vorm dié ontwikkelings deel van ‘n nuwe mandaat om weg te beweeg van sporadiese en ongekoördineerde ontwikkelings.


‘n Voorstelling van die behuising

Die megastede word beplan om heeltemal selfonderhoudend te wees en in die behuising-, ekonomiese- en sosiale behoeftes van ‘n gemeenskap te voorsien. Elke megastad sal anders wees, maar gaan kenmerke deel soos vrystaande huise en multi-verdieping woonstelblokke, voorsiening van ‘n gasnetwerkstelsel, hernubare energie, soliede afval- en afvalwater-herwinning.

Die doel van die megastede is om ‘n leefbare bestemming vir alle vlakke van die samelewing daar te stel om gemeenskapsintegrasie te bevorder.


Die ontwikkeling gaan langs Collinweg wees – die pad wat noordwaarts loop vanaf die vierrigtingstop waar die R515 en R513 kruis

Daar word voorsien dat die Cullinanse Megastad meer as 250 direkte en indirekte werksgeleenthede gaan skep. Die projek-eienaar is Verge Management Services, ‘n filiaal van Simeka Capital Holdings. 

Vir meer inligting, bel die projek-direkteur, Mulalo Colin Tshivhase van Verge Management Services by 011-518-4500 of 082-899-1473 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2018 Die/The Bronberger