Effe goedkoper, dan was dit verniet PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 22 May 2018 08:03
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons swenk regs by Kleinfontein se afdraaipad in, want hier sien ons ‘n advertensiebord wat aankondig dat die ‘Bees Bistro’ in daai rigting oopgemaak het en ons loop draai mos graag by nuwe kuierplekke in die gebied.

As jy deur die valhek is, sit die plekkie reg voor en effe links van jou. Geen verkeer, of parkeerplekprobleem voor dié baksteengebou nie. Dis lekker stil en oop. Die bord bokant die Bees Bistro se ingangsdeur wil te vertel dat jy hier wegneem- en kuieretes kan kry, of dat jy kan ‘bestel en optel.’


Die ingang na Bees Bistro

Binne is ‘n sesstuks tafeltjies gedek vir dié wat hulle na kuieretes voel en op die voorstoep is ook ‘n tafel of drie. Hulle beplan nog ‘n systoep met meer kuierruimte, vertel die vriendelike vrou wat na ons omsien later.

‘n Bistro, só sê ‘hulle’, is ‘n klein restourantjie waar jy japtrapgeregte teen billike pryse kan kry. Dit het glo sy oorsprong in Parys van 1915 gehad toe Russiese soldate by eetplekke in dié stad ingewals het. Die Russe sou dan ‘bistro, bistro!’ roep wat in hulle taal ‘vinnig, vinnig’ beteken.


Calamari en ’n slaaibergie

Kleinfontein se bistro voldoen beslis aan een van die Franse bistro’s se vereistes. Die geregte se pryse is meer as billik. Die duurste hamburger kos byvoorbeeld net R42. Hulle noem dit die ‘Bees’ en dis ‘n dubbeldoorgedoente met twee plat frikkadelle en nog wat op. Die ander burgerverbuigings kos R31 en dit word saam met skyfies bedien.

Ligte etes wissel tussen R26 vir vlerkies en skyfies tot R34 vir calamari met skyfies. ‘n Ietsie iewers tussen dié twee pryse kan vir jou ribbetjies, sosaties, kwarthoender, vis of schnitzel saam met jou skyfies koop. Jy kan slaai pleks van skyfies bestel. Dit word op die spyskaart onder die hofie, ‘Gesondheid’ gelys.


‘n ‘Kombie’ van stokvis en sosatie

Die ‘Bees’ gaan groot op kombinasies. Die spyskaart praat van ‘kombos’ en ek wonder of dié afkorting vir die Ingelse ‘combos’ nie eerder ‘kombosse’ of iets moet wees nie. Metgesel meen so ewe ‘kombies’ sou nader aan juis wees.

‘n Gesin of groep van ses kan uit ‘n verskeidenheid ‘kombies’ kies en as die koste per kop net effe goedkoper was, was dit verniet. Diepbraai-hoender met ekstra vlerkies of schnitzels bedien saam met skyfies, uieringe en sous kos R99, wat neerkom op R16,50 per kop. Ja, regtig. Ribbetjie, calamari en sosaties voer ses mense teen R189 en ses hamburgers vir die ses eters weeg in teen R160. Dit vertaal as R26,60 per kop.


Die spesiale ‘generaalburger’
Foto: verskaf

Vriendelike vrou deel ons mee dat die pizzaoond amper klaar gebou is en die spyskaart wys reeds die pizza-keuses wat kom. Die pryse lyk ook hier bykans te goed vir die waarheid en ‘n paar oulike name is vir die platbrode gekies. Tuindwergie, heet die vegetariese keuse en die een met seekos is Nemo. Gereelde spesiale disse, soos die allemintige generaalburger of ‘n T-been met skyfies word teen dergelike spesiale pryse voorberei.

Ek besluit op ‘n kombie vir een en bestel vis en sosatie met skyfies. Metgesel hou gesondheid voor die oë en kies calamari met slaai teen R34. Met ons intrapslag was dit stil in die plekkie, maar skielik is daar ‘n toeloop van hongeriges. Ons is tevrede om effens langer op ons bestelling te wag as wat die Russe destyds dalk met ‘bistro, bistro’ in gedagte gehad het.

Jy kan deur die netjiese houtafskorting sien hoe woel die sjef in die kombuis om al die bestellings eetgereed te kry en hy lyk vir my na ‘n raakvatkok. Sindelik en flink werk hy met deurskyn-handskoene aan.


Ontvangstoonbank met vriendelike vrou

Metgesel se calamariringe word saam met ‘n mak slaaibergie voorgesit. Sy is tevrede. Die tjokka is volgens haar bykans perfek en vir slaai is sy meestal erg partydig. Die beslag om my stokvis geval my, maar die vis is ‘n bietjie te lank na my smaak onderdompel, wat die meeste van die ‘stok’ uit die vis gevat het. Vir die sosatie is kruisskyf gebruik en dit smaak vorentoe, al sou ek ook hier minder gaarmaak verkies het. Ons stem saam dat die aartappelskyfies voortreflik is.

Die Bees Bistro bedien nie drank nie, maar jy is welkom om jou eie wyn of bier te bring. Jy kan hulle bel by 012-534-3151 vir meer inligting.

 

© 2018 Die/The Bronberger