As die skoen pas . . . Op die spoor van Hollandse Hendrik Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 22 May 2018 10:03
Untitled Document

Angie Kleijn

Die Panagos-gebou is een van die heel oudstes in Pretoria en as hy kon praat sou hy jou die storie van dié dorp se eerste Hollandse immigrante in die1800’s vertel. Hy sou jou presies sê wat die verbintenis was tussen die De Bruyns met hulle Brabantse Skoenwinkel, wat later De Bruyns Skoenwinkel geword het, die Zagt-gesin, staatsekretaris Willem Eduard Bok, Ryk Freek Eloff en boukontrakteur Marinus Franken.

Die Panagos-gebou is op die hoek van Struben- en Paul Krugerstraat, wat eers Markstraat was. Hy het sy hedendaagse naam gekry toe Christoe Panagos dit in 1920 gekoop het. Lank voor dit, in 1875, het die landmeter-generaal ‘n diagram van die perseel opgetrek, wat wys dat daar vroeër reeds geboue gestaan het.

Daar is twee konstruksiedatums vir die ‘nuwe’ gebou wat daar opgerig is – 1880 en 1897, wat aandui dat die gebou oor ‘n tydperk van 17 jaar opgerig is. Die dubbelverdieping hoekgebou is die ouer een en het uit ‘n winkel op die grondvloer met ‘n woonstel op die eerste vloer bestaan.


Dié foto is in Paul Krugerstraat, wat toe nog Markstraat was, geneem. Regs is die perseel waar die Brabantse Skoenwinkel was en links die woning waar hoofregter John Gilbert Kotze, skrywer van ‘Memoirs and Reminiscences’ gewoon het
Bron: Pretoriana vol 1, nr 2

Hoekerf
Dié hoekerf het eers aan Marthinus Wessel Pretorius, eerste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), behoort. Hy was die stigter van Pretoria en het die dorp na sy pa, die Voortrekkerleier Andries Pretorius, vernoem.

Eintlik het die hele blok tussen Kerkplein, Mark-, Vermeulen- en Palace-straat ook aan Marthinus behoort. Dit het uit twee erwe bestaan: die oostelike erf, nommer 276, en die westelike erf, nommer 275.


De Bruyn se onderneming is aan die regterkant van dié foto in die ‘kamers’ in Markstraat (later Paul Krugerstraat) naby die hoek van Strubenstraat. Dit is langs die plek waar Hendrik Zagt later ‘n sake-onderneming begin het
Bron: Pretoriana, vol 3 en 4

Die skoolgebou was op erf 275 en dit is op 11 Januarie 1860 aan “de Gouvt. voor schoolgelegen” oorgemaak en is “als de Schoolerf” geregistreer. Die ou pastorie het op erf 276 gestaan en is in 1860 aan die Nederduits Hervormde Kerk verkoop. Marinus Franken het dit in 1887 aangekoop en dadelik weer aan die staat verkoop.

In 1892 het Marinus ‘n nuwe gebou op die hoek van Mark- en Schoemanstraat gebou. Dit is in dié gebou waar Pretoria se bekendste skoenmaker hom later gevestig het en seker gemaak het dat sy nasate ‘n honderd jaar later nog in Pretoria met skoene te doene gehad het.


Henk de Bruyn, regs op die groepfoto, was maar 12 jaar oud toe sy pa Hendrik dood is en sy ma Aleida die skoenwinkel onder die naam De Bruyns begin opbou het
Foto: My Heritage

De Bruyn
Hendrik de Bruyn het in 1886 in Pretoria aangekom en het hom aanvanklik in Markstraat-noord, naby die hoek van Strubenstraat langs die perseel waar die Panagos-gebou opgerig is, gevestig.

Toentertyd was die skoenhandel heeltemal anders as vandag en skoene is volgens maat gemaak. Die meeste mense het nog hulle eie leeste besit. Hendrik se eerste werkwinkel het baie op die regmaak van skoene gefokus. Daar is ook ‘aangemete’ skoene vir mense met voetgebreke gemaak.


Willem Eduard Bok
Foto: Nederland's Patriciaat, Den Haag: Centraal Bureau voor Genealogie

Hendrik is op 14 Augustus 1858 in Amsterdam gebore. Tien jaar na sy aankoms in Pretoria, op
29 April 1896, is hy getroud met Aleida Christina Hendrika Cloetingh, wat op 12 Oktober 1869 in Zwolle, Nederland gebore is.

Hendrik was die derde generasie in ‘n ry met dié naam. Sy pa Hendrik is op 29 Mei 1825 in Amsterdam gebore en het op 15 Augustus 1849 met Maria Hendrika Juriaanse getrou. Sy oupa Hendrik was met Jannetje Spangenberg getroud.


Marinus Franken se graf in die Kerkstraatse Begraafplaas
Foto: eGGSA

Nog een
Met die jare het Hendrik de Bruyn se werkswinkel aanhou uitbrei en hy het in 1892 uit die perseel langs die Panagos-gebou getrek. Intussen het nóg ‘n Hollandse Hendrik, die keer Hendrik Zagt, die eiendom gekoop, wat op daardie stadium ‘n gedeelte van staatsekretaris Willem Eduard Bok se woonplek in Strubenstraat uitgemaak het.

Willem was ‘n vriend en vertroueling van Paul Kruger en het op die ouderdom van 30 in die ZAR aangekom. Hy is op 28 Junie 1846 in Den Burg, Texel, Nederland gebore. Toe hy 20 jaar oud was het hy na Engeland vertrek om tale te studeer. Daarná het hy ‘n loopbaan as handelaar gehad, voor hy Pretoria toe getrek het.


Die Panagos-gebou
Foto: The Heritage Portal

Dit was seker sy ervaring van Engeland, wat Paul Kruger laat besluit het om Willem deel te maak van die Onafhanklikheidsafvaardiging na Londen nádat Groot-Brittanje die ZAR geannekseer het.

Willem was later deel van ‘Die Volkstem’ se redaksie. Joernalistiek het in sy bloed geloop want sy neef, Edward Bok, was redakteur van ‘Ladies’ Home Journal’ in Amerika. Willem was staatsekretaris van 1884 tot 1888. Hy was ook klerk van die volksraad en regeringskommissaris van die toe pas ontdekte Witwatersrandse goudveld.


Gereedskap wat skoenmakers in die 1800’s gebruik het
Foto: claymoorslist.com

Zagt
Hendrik Zagt het Willem se grond in die 1890’s gekoop en het die dubbelverdieping hoekgebou, wat later deel van die Panagos-gebou geword het, opgerig. Dit was die een met die winkel onder en woonstel bo, om by Zagt se lewenstyl te pas.

Hy is in Amsterdam met Jacoba Hendrika van Ooste getroud en dié twee het na Pretoria geïmmigreer. Die dubbelverdieping gebou is later uitgebrei met nog vier persele.

Dit is rondom dié tyd dat Hendrik de Bruyn sy skoen-onderneming geskuif het; steeds in Markstraat, maar na die twee-verdieping-gebou wat Marinus Franken in 1892 op die hoek van Mark- en Schoemanstraat opgerig het. Die meeste bronne noem dit die Frankengebou, terwyl ’n paar van die De Rappergebou praat. 


‘n Skoenmaker se werkswinkel in die laat 1800’s
Foto: Vintage.es

Franken
Die Frankengebou was so skuins oorkant die plek waar die eerste Residensie-hotel gestaan het en Marinus Franken het glo gereeld in daardie losieshuis tuisgegaan. Sommige bronne sê dat dié losieshuis in 1880 aan hom behoort het. Later jare is die hele blok deur die Arbeidsdepartement ingeneem.

Daar is baie min oor Marinus bekend. Hy is op 31 Maart 1847 in Haamstede, Holland gebore en is op 5 Junie 1907 in Pretoria oorlede en in die Kerkstraatse Begraafplaas begrawe. Hy het glo die tweede kerk op Kerkplein, ook bekend as die Franken-kerk, ontwerp. Die kerk is deur Van der Veen gebou. Ander bronne sê dat Tom Claridge die argitek van die tweede kerk was en dat Marinus Franken en W van der Veen die boukontrakteurs was.


Die hoekerf het eers aan Marthinus Wessel Pretorius, eerste ZAR-president, behoort
Foto: Wikipedia

Marinus se naam het in die Eerste Vryheidsoorlog in die koerant in Pretoria opgeduik. Hy en TN de Villiers het in die oorlog verlof gekry om huis toe te gaan, maar is toe daar gearresteer. Marinus is glo in die teenwoordigheid van sy eggenote, sonder klere in sy bed gearresteer. Die berig noem dat hy deur die kakies aangerand is en sy ‘breukband’ gebreek het. “Uitpeuling van sy dubbele breuk” was glo die gevolg.


Die De Bruyns het in 1895 Paul Kruger se skooneun, Ryk Freek Eloff, se huis gekoop nadat sy vrou, Elsie Francina, gekla het dat die huis in die middel van ‘n winkelbuurt was
Foto: Wikipedia

Skoenwinkel
Dit is in Marinus se Frankengebou waar Hendrik de Bruyn sy moderne skoenwinkel oopgemaak het. Hy het nou nie net meer ‘n werkswinkel gehad nie, maar het skoene, grootliks uit Brabant in België, ingevoer. Dit is hoe die winkel sy naam, die Brabantse Skoenwinkel, gekry het.

In 1895 het Hendrik weer getrek, maar steeds in Markstraat gebly. Dit het so gewerk: Paul Kruger se skoonseun, Frederik Christoffel (Ryk Freek) Eloff, het ‘n huis op Markstraat 309 gebou. 

Toe die huis net mooi kant en klaar was, het Ryk Freek se vrou, Elsie Francina, gekla dat die huis in die middel van ‘n winkelbuurt was. Ryk Freek moes noodgedwonge ‘n nuwe huis in Eloffsdal bou en Hendrik de Bruyn het die huis in Markstraat betrek.

Voor die huis het Hendrik ‘n nuwe winkel gebou en agter die huis ‘n werkwinkel om skoene te maak en herstel.


’n Skoenhoring van ‘De Bruyns Boot Store’ op die hoek van Kerk- en Markstraat, Pretoria

Dit het goed gegaan met Hendrik en hy het ook belang gehad in skoenwinkels op Elandsfontein, wat vandag Germiston is, en Krugersdorp. En toe breek die Engelse Oorlog in 1899 uit en Hendrik was so na aan bankrotskap dat hy ‘n gedeelte van die grond waarop sy Pretoriase stadshuis gestaan het, vir £50 verkoop het om ’n nuwe begin te maak.

Dinge het glo nooit weer klopdisselboom vir Hendrik verloop nie en hy is op 4 April 1911 oorlede. Ten tye van sy afsterwe was sy skoenwinkel nog as die ‘Brabantsche Schoenwinkel’ bekend. Hy het ’n bankrotboedel nagelaat en sy vrou Aleida het die skoenwinkel tot die bekende De Bruyn Skoenwinkel, wat generasies Pretorianers geken het, uitgebou.

Aleida se oudste seun, Henk, was maar 12 jaar oud toe sy pa dood is en hy moes inspring om in die winkel te help tot sy jonger boeties oud genoeg was om daar te begin werk. So het dit gebeur dat generasies De Bruyns hulle immigrant-grootjie se skoenwinkel in familie-besit gehou het.

 

© 2024 Die/The Bronberger