Watter een is in jou tuin? PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 22 May 2018 07:56
Untitled Document

Is dit die bruinlyster, olyflyster of rooibeklyster wat jy in jou tuin sien rondhop? Dié drie lysters lyk baie eenders en amateur voëlkykers raak verward, veral omdat ouer veldgidse glad nie eers ‘n voël soos die bruinlyster bevat nie.

Volgens die kenners is die olyflyster en bruinlyster eers ‘n klompie jaar gelede, ná genetiese navorsing, as twee verskillende soorte voëls begin sien. Om die verwarring verder aan te blaas noem sommige bronne die bruinlyster ‘n geelbeklyster.

Olyf
Die olyflyster, Turdus olivaceus, verkies digte struikgewas, beboste gebiede of woude en sal ook in plantasies, tuine en rivierbedding-plantegroei voorkom.

Sy borskant is meer oranje as dié van die bruinlyster en hy het ‘n wit anus streek. Die olyflyster word van die rooibeklyster onderskei deurdat hy baie minder of geen kaakstrepe het nie, met ‘n donker keel.

Sy roep is ‘n skerp ‘tjienk’ of yl ‘tsieeep’. Sy sang is ‘n fluitagtige ‘whieeet-toe-whieeet’.

As die mannetjie pronk, hang sy vlerke en sleep sy uitgespreide stert op die grond. Die bruinlyster se gedrag stem ooreen met dié van die olyflyster.


Die olyflyster, Turdus olivaceus

Bruin
Die bruinlyster, Turdus smithi, kan net met die olyflyster verwar word, maar hy is donkerder onder en gryser bo, veral op die kop. Sy oranje vere is tot die onderpens beperk en sy anusstreek is grys, nie wit nie. Hy bly in droër gebiede as die olyflyster, maar het aangepas om in voorstede te bly. Sy roep is soortgelyk aan dié van die olyflyster, alhoewel sy sangfrasering verskil.

Bruinlysters word gewoonlik in pare gesien, maar interaksie tussen ‘n hele groepie voëls is algemeen. Die olyflyster is minder sosiaal en meer geneig om vir mense weg te kruip.

Die bruinlyster en olyflyster is altwee 20–22 cm groot. Die rooibeklyster is ‘n bietjie kleiner, teen 18–22 cm.


Die bruinlyster, ook geelbeklyster genoem, Turdus smithii
Foto’s: Wikipedia

Rooi
Die rooibeklyster, Turdus libonyanus, het ‘n wit, fyn gespikkelde keel met breë swart kaakstrepe. Hy het ‘n oranje oogring en helder oranje snawel, waar die olyflyster ‘n geler snawel, donker oogring en ‘n donkerder keel het. Tog lyk jong rooibeklysters soos jong olyflysters, maar is ‘n bietjie ligter.

Rooibeklysters bly saam met olyflysters in doringveld, oop boswêreld, parke en tuine. Hulle roep is ‘n harde ‘pieeet-pieeo’-fluit teen skemeraand.

Lysters skrop grootliks op die grond rond op soek na prooi. Die bruinlyster en olyflyster vreet meestal insekte, erdwurms, slakke, spinnekoppe en klein akkedissies, maar ook kuikens wat pas uitgebroei het, vrugte en saad. Die rooibeklyster het ‘n soortgelyke dieet, maar neig ook na kleptoparasitisme, waar hy sal probeer om ander se kos te steel.


Die rooibeklyster, Turdus libonyanus

Broei
Lysters kan regdeur die jaar broei, maar die broei-spitstyd is gewoonlik van September tot Desember. By al drie van dié lysters bou die wyfie die nessie op haar eie.

Olyflysters en bruinlysters bou ‘n koppievormige nessie, so twee tot nege meter bokant die grond in ‘n boom of heining. Die nessie word met blare, takkies, gras en mos gebou en met modder en droë gras uitgevoer.

Die rooibeklyster sal soms ook stukkies tou, plastiek en papier in die nessie inbou. So ‘n nessie word gewoonlik ná ‘n reënbui gebou, maar as dit droog is, word alle boumateriaal in water gedoop om dit klam te maak.

Een tot drie blou eiers word na 14 tot 15 dae deur die wyfie uitgebroei. Die kleintjies kan na 16 dae begin vlieg, maar bly vir ‘n verdere twee maande van hulle ouers afhanklik. Lysters is glo baie toegewyde ouers en kuikens wat vroeg uit die nessie val en deur mense grootgemaak word, sal vir weke lank deur hulle ouers besoek en gevoer word

 

© 2018 Die/The Bronberger