Muilekar in die modder PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 22 May 2018 07:49
Untitled Document

Die onlangse nostalgiese terugblikke in Die Bronberger het Francois Breytenbach, bekend as Boskazi, laat terugdink hoe hy as kind van Bashewa af by Witpoortskool moes uitkom. Dié is ‘n verhaal van ’n muilekarretjie in die modder en van omies wat vragmotors met hout en seil in skoolbusse omskep het. Francois onthou busvensters wat uit ogiesdraad, soos dié van ‘n hoenderhok, bestaan het, kaartmannetjies wat die busdeur beman het en ‘n lekker groot ou spoorwegkosblik.

Francois Breytenbach

Toe iemand my ’n foto wys van die skoolbusse van lank gelede het my gedagtes onwillekeurig terug gedwaal na die dae toe ons van die dorp af getrek het en op Bashewa kom bly het. Ek het met een van daardie einste busse Witpoortskool toe gery.

Ons het die bus by Antie Pelser se winkel op Onbekend gevang. Die poskantoor se naam op Onbekend was later verander na Pk Welbekend, want te veel pos was terug gestuur en onderstreep met ‘Adres Onbekend’.


Francois (Boskazi) Breytenbach

Toe my pa van Germiston se myne Bashewa toe gekom het, het hy pure plaas geword. Soveel so dat ons nie eers met die Chev skoolbus toe gevat is nie, maar met ’n muilekarretjie. Ou Petrus moes vroeg-vroeg al die muile vang en inspan en dan het die Victors en die De Wets al langs die pad vir ons gewag.

Die ander families op Bashewa wat ek ook kan onthou was die Kosters, die Jonese en die Van Heerdens. Maar hulle kinders was nog te klein vir skool of hulle was op koshuis. Verder op pad na die bus toe was die ryk boere se plase. Die Shudas en die Bartmans en dié, maar hulle kinders was almal met karre aangery wat by ons muilekar verby gejaag het en ons toe onder die stof gegooi het.

Jy sien, daardie dae was die pad Witpoortskool toe en van Onbekend tot by Menlo Park nog stofpad.


Modder is ‘n lelike ding

Maar as dit gereën het, het die karre dubbel en dwars oor die modderpad gegly en selfs aan die kante in die modder vasgeval en was dit ons beurt om onder ons reënjasse te ‘smile’ as die muilekar verby trippel. Want sien, ’n muilekar skrik nie vir modder nie.

Die muilekar het so ’n ystertrap agter gehad om mee op te klim maar ’n kind kon lekker op hom sit en sy voete in die modder sleep. Ons het altyd hierdie voete-innie-modder voorreg vir Nic de Wet gegee, mits hy sy kosblik aan-‘pass’ sodat die res van ons daaruit kon smul. Nic het een van daardie groot spoorwegkosblikke gehad, wat so rond was aan die een kant en sy ma het hom vol gepak met allerhande lekkernye wat hy nie kon opeet nie, soos gekookte eiers en brood met vleis op en nou en dan selfs ’n koesister of ’n frikkadel.

Die muilekar-ry was darem nie te lank nie toe het oom Bodenstein se bus tot by Bashewa gery.


Die omies by die vragmotors wat hulle met seil en hout in skoolbusse omskep het

Hierdie omies het lorries in busse omskep met hout en seil en die vensters was maar net sterk ogiesdraad soos die van ’n hoenderhok. Buite het hy ’n seiltjie gehad, wat die omie in die oggende mooi netjies opgerol het en vasgebind het. In die winter of as dit reën het ons maar die venstertjies toe gelos. Agter was darem ’n groot houtvenster wat kon oopmaak en ook dien as nooduitgang.

Die bus het net vier lang bankies gehad van voor tot agter. Die een kant vir die meisies en die ander kant vir die seuns. Voor by die oom het een van sy witbroodjies sommer op die vloertrap gesit, en het hy soos ’n kaartmannetjie opgespring, die deur oopgemaak en uitgespring wanneer die bus gestop het om kinders op te pik.

 

© 2018 Die/The Bronberger