Tant Annetjie Coetzee het onlangs
99 jaar oud geword. Sy
het haar verjaarsdag saam met
ongeveer 20 van haar ou en nuwe
vriende in haar kamer by die sorgeenheid
op Kleinfontein gevier.
Die mense het beurte gemaak om
by haar in die kamer te gaan gesels
omdat almal nie gelyk kon inpas nie.
Annetjie het verlede jaar nog met
haar rolstoel sitkamer toe gery vir
haar verjaarsdagpartytjie.
Haar dogter, Mieka Erasmus, sê
hulle hoop om volgende jaar tant
Annetjie se honderdste verjaarsdag
te vier, maar dat haar ma nou merkbaar
verswak. “Ook die hede en
verlede se herinneringe is nie meer
so helder onderskeibaar as voorheen
nie,” sê sy.
Tog sing tant Annetjie soms nog en
is nootvas en helder van klank.
In Die Bronberger van Februarie
2007 het ons berig dat Tant Annetjie
toe reeds die oudste inwoner in die
sorgsentrum van Kleinfontein was,
maar steeds sonder ’n bril lees, haar
eie tande het en dat haar geheue
besonder goed was.
Anna Maria du Plessis is op 30 Januarie
1910 in Rustenburg gebore. Sy
is getroud met Nicohlaas Abraham
Coetzee en hulle het twee dogters,
Emmerenske Margaretha (Mieke)
en Francoise Christien (Franni).
Tant Annetjie het van jongs af belanggestel
in musiek en is na
matriek Stellenbosch toe waar sy
lisensiaat-sertifikate in klavier en
sang ontvang het. Sy het ’n mezzosopraanstem
gehad en het ook in
die orkes van die akademie as tjellospeler
opgetree. Na haar huwelik
het sy sang en musieklesse gegee,
insluitende private lesse en klasse
by die Rustenburgse Hoërskool en
later by die Afrikaans Hoër Seunskool.
Sy het ook ’n diploma in toneelspel
verwerf. Annetjie het graag met
haar hande gewerk en kunsklasse
geneem. Sy kon skilder, hekel,
hoede maak, emalje-, pottebakkers-en
houtsneewerk doen. Van haar
werk is opgeneem in die Nasionale
Kultuurhistoriese
Museum in
Skinnerstraat.
 Annetjie Coetzee
met haar
99ste verjaarsdag
|