Gebied se drinkwater kry groen lig PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 May 2018 07:47
Untitled Document

Drinkwater in Pretoria, Rayton, Cullinan en Bronkhorstspruit voldoen aan die minimum standaarde.
So sê AfriForum ná toetse wat in April gedoen is om die gehalte van drinkwater (bloudruppelstatus) en rioolwater (groendruppelstatus) te bepaal.

In Oktober het ons berig dat vuil en stink munisipale water in Cullinan en Rayton buikpyne en maagaandoening by honderde inwoners van die gebied veroorsaak het. In dieselfde tydperk was dele van Bronkhorstspruit se munisipale water ook erg onwelriekend en modderig.

Apteke en dokterspreekkamers het verlede jaar aan Die Bronberger bevestig dat ‘n toestroming van mense met klagtes oor kwaai buikpyne ervaar is. Mense is behandel teen buikpyne en sommige het glo velaandoenings en -uitslag ervaar.

Inwoners is omgekrap oor meer moeite nie deur die metroraad gedoen is om mense teen die gevare van die water te waarsku nie en ‘n groot aantal mense weier steeds om kraanwater te drink.


Vincent Marucchi van AfriForum se Rayton en Cullinan-tak toets water by Cullinan se rioolsuiweringsaanleg
Foto: AfriForum

Ná AfriForum se watertoetse in April, het Tiaan Oosthuizen, die burgerregte-organisasie se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord, gesê hulle kon vasstel dat al die gebiede in die Pretoria-omgewing se drinkwater aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie.

Hy het gesê dat hulle die watergehalte deurlopend sal toets, omdat inwoners ’n grondwetlike reg op skoon drinkwater het.

Volgens AfriForum se groendruppelresultate voldoen die rioolwater wat by ses rioolsuiweringsaanlegte getoets is, nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde nie. Die aanlegte is: Cullinan, Bronkhorstspruit, Kameeldrift (Baviaanspoort), Apiesrivier (Rooiwal), Centurion-Wes (Sunderlandrif) en Pretoria-Wes (Daspoort).

Die burgerregte-organisasie het sy kommer uitgespreek omdat rioolwater nie aan die gestelde standaarde voldoen nie.

“Ons sal dit verder ondersoek en optree indien nodig,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se streekskoördineerder vir Gauteng.

“AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek is op die stand van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte toegespits. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar op die gehalte van water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater (bloudruppel) en behandelde rioolwater (groendruppel) gelewer word,” sê Lambert.

 

© 2018 Die/The Bronberger