Fopnuus saai paniek PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 22 May 2018 07:44
Untitled Document

Diegene wat gereeld op die sogenaamde ‘sosiale media’ kuier, word daagliks gebombardeer met ‘slegte’ nuus. Te gereeld is hierdie nuus besaai met ‘feite’ van twyfelagtige oorsprong en inhoud. Dikwels is dit bloot vals.

Goedgelowige mense deel verdigsels wat met duistere motiewe op ‘n magdom valse nuuswerwe versprei word, as die waarheid met hulle vriende op sosiale media. Gevolglik word paniek en swartgalligheid onnodiglik en wyd gesaai.

Hoe onderskei ‘n mens tussen werklike nuus en fopnuus? Wel, jy kan begin deur eers na die oorsprong van die skrikwekkende ‘nuus’ te kyk. Ons deel hier die name van net enkele fopnuuswerwe.

Die meeste van dié bronne van waninligting het hulle oorsprong in die buiteland. Vermy hulle en lig jou vriende wat so graag die skokkende inhoud met jou deel, ook in.

African News Updates, blackopinion.co.za, Pretorialive, Allnews.co.za, CitySun, Gossipmilsa.com,  News24-TV, Hinnews.com, Newsdayly.co.za, Live Monitor, Gossip Mill Mzansi, iMzansi, Newsatlastsa.online, Lovejessy.com, South Africa Latest News, Newspage.co.za, Sanews247.blogspot.co.za, Southafricabuzz.co.za, SouthAfricaUncut.com, Timesllve.co.za, Southern Daily en Wmcleaks.com word gereeld op sosiale media gesien en ongelukkig geglo.

Goeie nuus (wat jy maar kan glo) in dié uitgawe van die Bronnie (bl 10) is dat die water in dele van ons gebied getoets is en weer drinkbaar gevind is.

Nuus oor die beplanning van ‘n sogenaamde ‘megastad’ vir Cullinan (bl 8) sal deur sommige as goeie nuus beskou word. Ander sal dalk nie so opgewonde wees oor die oprigting van meer as 5 000 lae-koste-huise op ‘n landelike hoewegebied vlak teen die dorpie nie. Of jy nou die nuus as goed of sleg beskou, verander nie aan die feit dat só ‘n ontwikkeling die karakter en aard van die toerismedorpie onherroeplik sal verander nie.

Op bl 11 herinner ons jou aan die slegte nuus dat die brandseisoen weer op hande is. Die goeie nuus is dat ons jou vertel wat gedoen kan word om brandskade te vermy en waar jy om hulp hiermee kan aanklop.

Francois Breytenbach roep op bl 12 mooi herinneringe uit sy kinderdae in Bronbergland op. Hy onthou die omies wat toeka se vragmotors in skoolbusse kon omskep en hoe modderpaaie met ‘n muilwa aangedurf is.

Die tragiese storie van ‘n dapper tienermeisie wie se lewe net deur ‘n noodsaaklike operasie gered kan word, kan op bl 14 gelees word. Goeie nuus is dat jy kan help om die operasie moontlik te maak.

Ons vertel jou op bl 16 van allerlei opwindende dinge om in ons kontrei te doen en op bl 30 kan jy lees oor Tuks se oom Gert, wat eens ‘n twaksmous was: Alles en nog meer in hierdie Bronnie en daarby geen fopnuus te bespeur nie.

 

© 2018 Die/The Bronberger