Molslang het mondvol vlymskerp tande PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 20 April 2018 12:47
Untitled Document

Molsdolheid heers weer in groot gedeeltes van die Bronberg-gebied. Tuine word omgedolwe, bolplante opgevreet en inwoners probeer allerhande rate om van dié rotmolle ontslae te raak. Dié keer het die oplossing egter kort op die probleem se hakke gevolg en molslange, welkom of nie, seil ewe tevrede in die gebied rond.

Daar is ‘n paar uitdagings wat met dié oplossing gepaard gaan. Hierdie is die tyd van die jaar wat molslangwyfies kleintjies kry. Ja, hulle word lewendig gebore en ‘n wyfie kan tot 95 kleintjies kry.

Dan is dit ook nie altyd moontlik om ‘n molslang suksesvol uit te ken as jy nie sy kop kan sien nie. Hy kom in ‘n redelike verskeidenheid van kleure en groottes voor en onvolwassenes lyk glad nie soos die volwassenes nie.


‘n Onvolwasse molslang
Foto’s: Wikipedia

Maar voor lesers begin dink die Bronnie sê ons moet slange op die bedreigde Juliana se gouemol sit, laat ons eers verduidelik wat die verskil tussen ‘n gouemol en rotmol is en hoe jy sal weet watter een by jou doenig is.

Die gouemol kom teen die noordelike hang van die Bronberg in diep sand voor. Dié 10 cm lange molletjie se tonnels is naby aan die grondoppervlakte en kan as riffies op die grond gesien word.

Gouemolle stoot nie hope grond op die oppervlakte uit soos molrotte nie. Boonop is hulle insekvretend, wat beteken jou bolplante is veilig.

Die gouemol is letterlik so blind soos ‘n mol; hy het geen oë nie, en maak staat op sy reuksintuig om hom van punt A tot B te kry. Gouemolle is enkellopers, maar kom in kolonies voor met ’n netwerk van tonnels.

As die mol in jou voortuin oë, knaagdiertande en ‘n stertjie het, hope vanuit harde grond opstoot en as jou plante begin vrek, dan sit jy waarskynlik met ‘n rotmol. En jou molslang is heeltemal in staat om dié rotmol se tonnels in te vaar.

Die molslang, Pseudaspis cana, kom in ‘n verskeidenheid habitatte voor en spandeer die meeste van die tyd ondergronds op soek na molle, knaagdiere en ander klein soogdiere. Hulle sal ook paddas, akkedisse en voëleiers vreet.


‘n Volwasse molslang kan geel of bruin wees in ons kontrei
Foto’s: Wikipedia

Dié slang het ‘n gepunte snoet en klein ‘koevoet-vormige’ koppie, wat goed vir sy ondergrondse bedrywighede aangepas is. Die prooi word gewoonlik aan die kop gegryp en versmoor, want molslange het geen gif nie.

‘n Molslang sal ter waarskuwing hard blaas as hy bedreig voel. As jy hom nie laat wegkom nie, sal hy nie huiwer om te byt nie. En byt kan hy baie seer byt en slagoffers moet dikwels dokter toe vir steke.

Die agterkant van elke tand het ’n skerp lem en as die slang byt, sal hy sy kop soos ’n outydse blikoopmaker op en af beweeg.

Dié slang se kop is eintlik besonder klein vir sy dik, gespierde lyf. So ‘n slang kan tot twee meter lank word. In baie streke is volwassenes geel tot ligbruin, maar die kleur kan wissel tot donkerbruin, rooibruin, grys en selfs swart. In die suide van die land is die meeste molslange swart.

Molslange paar in die laat lente, gewoonlik Oktober, en die wyfie is lewendbarend. Daar word gewoonlik 25 tot 50 kleintjies in die laat somer gebore, maar tot 95 kan in ‘n goeie molseisoen gebore word. Die jong slange is 20 tot 30 cm lank as hulle gebore word. Hulle is bont met ligte en donker kolle, wat patrone op die rug vorm.

Molslange kan glo redelik mak word en dié wat as troeteldiere aangehou word kan tot 20 jaar oud word.
Hoewel hulle nie giftig is nie, moet ‘n molslang se bytkrag nie ligtelik opgeneem word nie – veral omdat dit nie altyd maklik is om seker te wees dat dit ‘n molslang is wat jou gebyt het nie. Die kenners sê die heel laaste ding wat iemand wat gebyt is moet doen, is om die slang eers op die Internet te probeer identifiseer. Hou op tyd mors, klim in jou kar en ry dokter toe, sê hulle.

Alle slange moet met ontsag behandel word, maar geen slang behoort summier doodgemaak te word nie, sê die kenners.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger