Skilder Eric Bolsmann het sy versameling van 23 olieverfskilderye van Pretoria tussen 1860 en 1900, laat verlede jaar by die Voortrekkermonument bekendgestel. Die skilderye is almal deur ‘n anonieme versamelaar gekoop. Eric het ‘n gids met inligting oor elke skildery opgestel. Hier kyk ons na die Poskantoorkroeg.
In 1888 was daar ‘n hele aantal kroeë rondom Kerkplein. Op die noord-oostelike hoek van die plein was Albert Brodrick se Hole-in-the-wall kroeg. Oorkant hom, op die suid-westelike hoek was die Poskantoorkroeg, so genoem omdat dit oorkant Pretoria se hoofposkantoor was.
Die oudste verwysing na die Poskantoorkroeg dateer terug na 1888 toe EH Clarke dit by
W McClennon gekoop het. Clarke het die deur na die hoek van die gebou verskuif, omdat dit as voordelig vir ‘n kroeg beskou is, en het ook ‘n stoep gebou.
Hy het die kroeg later aan LG Martin verkoop, wat die Tivoli-kroeg in 1892 in Kerkstraat langs The Press Building geopen het. Dit is waar Leo Weinthal die ‘Pretoria News’ gevestig het.
Eric Bolsmann se skildery van die Poskantoorkroeg
Teen 1889 was die Poskantoorkroeg Max Stadler se Wellington-kroeg, wat tot ná die Anglo-Boere-oorlog daar gebly het. Ná die oorlog was dit steeds vir ‘n jaar of wat die Wellington-kroeg genoem en Philip Lapin was die eienaar totdat dit die American Boot Store geword het.
Paul Kruger het ‘n kilometer laer af in Kerkstraat-Wes oorkant sy geliefde Dopperkerk gewoon en het twee keer elke dag verby dié kroeg beweeg. Die president was ‘n toegewyde geheelonthouer.
In 1904, die jaar toe Paul Kruger in ballingskap in Clarens, Switzerland oorlede is, is die Commercial-gebou, wat Café Riche insluit, op die terrein gebou. Dié gebou, ontwerp in die Jugensdstil, of Art Nouveau-styl, is steeds daar met Café Riche op die grondverdieping.
Volgens Rosa Swanepoel se navorsing oor die suid-westelike hoek van Kerkplein en Kerkstraat in 1888, was die gebou langs die Poskantoorkroeg die plek waar die haarkapper Adelaar gevestig was.
Die foto waarop die skildery gebaseer is kom uit ‘Young Pretoria, 1889–1913’ van Lola Dunston
Dan volg nog ‘n kroeg, die Horse Shoe Bar, wat deur Anton Heisterhagen in die gebou met die trapgewel, bestuur is.
Daarna volg Smith en Petrie se wamakersbedryf, wat tot 1893 op dié perseel was. Die Poynton-broers het in 1898 daar sake bedryf. Die tweede gebou van die hoek af was
in 1888 die Transvaal Dispensary met J Peacock as apteker. Hy het die volgende jaar sy eie apteek, Peacock en Roehlin, oorkant die straat begin.
Aan die oorkant van die pad aan die westekant is Hobbs en Millar se onderneming, wat ontbind het ná Hobbs in die 1890’s uit die gebied getrek het.
Dan volg daar ‘n advertensiebord van Heys & Co, wat ‘n vinnige koetsdiens na Barberton en Kimberley adverteer. Daarná volg die Temperance Hotel wat in 1888 deur mev Bisset bestuur is. Mev Morris het in 1889 by haar oorgeneem en het die naam na die Clarendon Boarding House verander. In 1893 het mev Hill oorgeneem en in 1898 het dit die Transvaal Café geword.
Op die noord-westelike hoek steek ‘n gedeelte van die poskantoor, wat in 1887 gebou is, uit. Dit was die ‘nuwe’ poskantoor op die plein en was op die hoek waar die Austin-gebou eers gestaan het. |