Gesinne saam in die natuur PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 20 April 2018 12:32
Untitled Document

Die NG Gemeente Rayton se ekologiegroep het op 21 Maart op Boekenhoutskloofdrif gekuier. Hulle is deur Brian en Anata Swanepoel uitgenooi om ’n dag in hulle wildkamp op die plaas, 25 km vanaf Rayton, in die natuur deur te bring.


Dié seuntjie het ’n gedeelte van die geraamte van ’n groterige soogdier in die veld gevind

Die dag is met ’n skattejag vir die kinders begin. Dominee Chris Lötter het die vorige dag 50 paaseiers in die veld weggesteek en niemand kon terugkom voor al die eiers gevind is nie.


Wenner van die bokdrolspoeg: Corno Grobler, Erich Kohn en Bonita met ds Chris agter

Die kinders, groot en klein, het met groot geesdrif weggespring en nie net met paaseiers teruggekom nie, maar ook met ’n paar geraamtes. Daar was dié van ’n grootrooivalk en gedeeltes van ’n groot soogdier.


Skattejag: Eerste skat gevind

Intussen het die volwassenes ’n staptoer om die wildkamp gedoen. Die plaas is ’n pragtige deel van die seringveld en het die mooiste klippe, veral groot konglomerate.


Om die vuur, van links na regs: Jo-Ann Ferreira; agter Johan Breytenbach en Brian Swanepoel jr; voor ds Chris Lötter, Brian Swanepoel sr, Charmaine Swanepoel, Rita en Piet Rorke
Foto’s: Paul en Ria Bosman

Almal kon aan die kettieskiet- en bokdrolspoeg-kompetisies deelneem. Die deelnemers is in drie groepe verdeel – mans, vrouens en kinders – en elke wenner het ’n prys gekry.

Van vroeg af is vuurgemaak vir die braaivleis, asook twee reuse potte met pap en sous. Almal het lekker geëet en lekker gekuier.

 

© 2018 Die/The Bronberger