Sangers gaan blom op agtiende Cullifest PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 20 April 2018 12:31
Untitled Document

Die agtiende Protea Cullifest word van 27 tot 29 April in Cullinan gehou.

Opkomende kunstenaars sowel as bekende sangers en groepe gaan oor dié drie dae optree en twee toneelstukke word gehou.

Op Vrydag 27 April tree Stephan Kruger om 9.30 vm op, Maryna om 10.30 vm, Jak de Priester om 11.45 vm, Du Preez om 1 nm, Josh Ansley van ‘The Voice’ om 2.30 nm en Bobby van Jaarsveld om 4 nm.

Saterdag 28 April is Elizma Theron om 9 vm aan die beurt. Sy word gevolg deur Charné Grabie om 10.45 vm, Fatman van ‘The Voice’ om 12 uur, Du Preez en orkes om 1.30 nm en Steve Hofmeyr om 3 nm.

Op Sondag 29 April tree Jan de Wet om 9 vm op, Luzanne om 10.45 vm, Stephan Kruger om 11.30 vm, Hein Vermaak om 12.45 nm, Onbeskaamd om 2 nm en Dewald Gouws om 3.15 nm.


Jak de Priester

Teater
Die toneelstuk ‘keelVOL’ deur Germandt en Je-ani, bekend vir hulle rolle in ‘Binnelanders’, is op
27 April om 10 vm. Dirk Havenga is die nuwe sang- en musiekonderwyser op die dorp. Hy het ’n terugslag as musikant in die stad gehad en probeer nou sy heil op die platteland vind. Mariëtte Labuschagne werk in ’n boekwinkel op dieselfde dorp. Sy droom haar hele lewe lank van ’n loopbaan op die verhoog.

Mariëtte is reg vir haar eerste sangles. Is Dirk? Dié kombinasie kan ’n resep vir ’n ramp wees óf dalk net wat hulle altwee nodig het.

Ben Kruger se nuwe eenmanvertoning, ‘’n Drie in beseringstyd’ is op 28 April om 10 vm. In dié gesprek deel die spreker sy wysheid rondom oudword, manwees en sport. Hy bespreek die kern van die Suid-Afrikaanse man en vra vrae rondom etiket by die braai.  


Elizma Theron

Kaartjies vir die toneelstukke is teen R50 beskikbaar by die hek of teaterdeure op die dag van die vertoning by die feesterrein.

Deurlopend val die fees se fokus op plaaslike blommeboer, Japie van Staden, se proteas. Feesgangers het die geleentheid om dié proteaboer te ontmoet en proteas is te koop.

Daar kan gesmul word aan tradisionele eetgoed en die wyn- en biertuin bied lafenis vir droë kele. Ouers kan kleingoed by ’n veilige kinder-speelarea onder toesig laat terwyl hulle rustig deur die kraampies stap of ’n teatervertoning bywoon.

Die Protea Cullifest is by Zonderwaterweg 12, Cullinan. Vir meer inligting, skakel 083-865-0563.


Steve Hofmeyr

 

© 2018 Die/The Bronberger