Ken jy dié vrou? PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 20 April 2018 12:29
Untitled Document

Wie het ook al die vrou raakgeloop wat swart asbliksakke by die posbusse oorkant Faerie Glen Hospitaal oppas? Sy sit glo al ‘n jaar lank net daar. Dag na dag. Rita van Rensburg het probeer uitvind wat sy by dié sakke doen.

Rita sê dat die vrou en haar gesin ‘n jaar gelede van Bronkhorstspruit af gekom het. Hulle kan glo nie blyplek kry nie en slaap maar waar ‘n skuiling te vinde is. Al hulle besittings word in die swart sakke gestoor en as die res van die gesin elke oggend pad vat, stoor dié vrou die sakke in die mik van ‘n boom en hou die hele dag daar wag.

Sy het vir Rita vertel dat haar gesin vir haar sorg, maar dit was glo nie moontlik om haar naam uit haar te kry nie.


Die vrou met die bolle wol wat Rita vir haar gegee het. Die swart asbliksakke is agter haar in die boom

Rita het vir die vrou gevra of sy nie dalk wil brei terwyl sy so vir haar gesin sit en wag om terug te kom nie. Die vrou was glo baie geesdriftig om vir haarself ‘n kombers te brei. Rita het die bolle wol aangeskaf en die vrou het self die kleure gekies.

“Sy lyk na ‘n dierbare mens,” sê Rita. “Ek dink as sy genoeg aanmoediging kry, sal sy haar kombers klaarmaak.”

Fenna Klooster van Wilgers Aftree-oord sê dat sy Rita al dertig jaar lank ken en dat Rita in haar familie- en vriendekring bekend is vir die mense-foto’s wat sy neem. Sy neem nie net foto’s nie, maar probeer ook uitvind wat die storie agter die prentjie is. En dan, wanneer dit nodig is, spring sy in en doen iets daadwerkliks.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger