Sonja se ‘môi’ stokperdjie PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 20 April 2018 12:29
Untitled Document

Mense ken Sonja Muller as Laerskool Tygerpoort se skakelbeampte. In die middae ná skool is sy besig met ‘n stokperdjie wat haar in voeling hou met die basiese waarhede van die lewe – keramiek.

“Klei hou jou nederig,” sê Sonja. “’n Mens is net so goed soos jou laaste reeks uit die oond. Sodra jy dink jy weet alles, bars ‘n bak en moet jy van voor af begin.”

Sonja en haar man, Leon, kom van die Kaap af en het sewe jaar gelede Pretoria toe getrek. Vandag woon hulle in Lombardy Landgoed en het twee kinders, die agtjarige Mieke en sesjarige Hannes.

Sy vertel dat sy al ‘n hele ruk met keramiek doenig is. Op ‘n dag kry Leon die idee om ontwerpe op die borde te druk. Sonja se pa is kort daarna skielik oorlede en Leon het Sonja aangemoedig om iets te doen wat vir haar lekker sal wees. Sy het toe ingeskryf vir ‘n kursus om haar keramiek-tegniek te verfyn en het dit wat sy maak, ‘Môigoeters’ begin noem.


Sonja in haar ateljee

Vandag is haar grootste uitdaging tyd. “Dit is soms moeilik om die balans tussen my regte werk, my stokperdjie en ma-wees reg te kry,” sê sy.

Tog is almal betrokke. Voor ‘n groot mark help Leon en die kinders met enige iets van rakke bou tot koffie aandra. Sonja vertel dat haar kinders maar moes leer hoe om op hulle skote te eet wanneer al die tafels in die huis vol keramiek is. Hulle doen dit met blink oë en opgewondenheid oor dit wat hulle ma geskep het.

Sonja wil hê dat dit haar kinders iets van handewerk en hard-werk moet leer. Sy doen ook dié stokperdjie om die uitdrukkings op mense se gesigte te sien wanneer hulle na haar keramiek kyk. “En ek doen dit vir elke vrou wat dink sy kan nie.”

 

 

© 2018 Die/The Bronberger