Bekende Mooiplaatser sterf in botsing PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 20 April 2018 12:27
Untitled Document

Wouter Badenhorst, Boschkop Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se vorige voorsitter, is op
8 April in ‘n ongeluk in Lynnwoodweg dood.

Wouter het met sy motorfiets gery en was rondom 7 uur die aand voor die CAHI-gebou in ‘n trompop-botsing teen ‘n Toyota-bakkie betrokke. Hy is met ernstige beserings na Unitas-hospitaal geneem, waar hy oorlede is.

Kaptein Marissa van der Merwe van die Boschkopse Polisiestasie sê dat ‘n dossier vir roekelose en nalatige bestuur aanvanklik oopgemaak is. Ná Wouter se dood is dit na ‘n saak van strafbare manslag verander. Sy sê dat verklarings wat in dié saak afgelê is, daarop wys dat die bakkie uit sy baan uit beweeg het en die motorfiets reg van voor getref het.

Wouter, ‘n chemiese ingenieur, het saam met sy vrou Hanri en hulle drie dogters op ‘n kleinhoewe op Mooiplaats gewoon, waar Wouter ‘n steunpilaar in die gemeenskap was. Boodskappe van medelye het van dwarsoor die Bronberg-gemeenskap ingestroom ná Wouter se afsterwe.


Wouter Badenhorst

Mike Strange, wyksraadslid vir dié gebied, was net voor Wouter die GPF-voorsitter en beskryf hom as ‘n ywerige leier in die gebied wat betrokke was in die bestuur van plaaslike gemeenskapsveiligheid. Hy sê dat Wouter se ondervinding as organiseerder en senior sakebestuurder gemaak het dat die GPF professioneel bedryf is.

As GPF-voorsitter het Wouter nou saam met die Boschkopse Polisiestasie gewerk. Kaptein Marissa van der Merwe sê dat almal by dié stasie hartseer is oor Wouter se skielike dood en dat hulle hom vereer vir sy toewyding in die termyn wat hy GPF-voorsitter was.

Wouter het in 1981 aan die Hoërskool Generaal Hertzog in Witbank gematrikuleer en het daarna by die PUK in Potchefstroom studeer.

Wouter se gedenkdiens was op 13 April by Kitty Hawk Luglandgoed op die Boschkoppad, waar hy gereeld gevlieg het en Superb Flight Training vir ‘n ruk bestuur het.

 

© 2018 Die/The Bronberger