Hulde aan helde PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 20 April 2018 12:25
Untitled Document

Ons meen dit het tyd geword om weer ’n slag oor leiers te praat. Nee, moenie bekommerd wees nie, ons sal ons nie hier uitlaat oor diegene wat, sonder die meeste van ons se toedoen, onverdiend in gesagsposisies beland het nie.

Dit is ons verklaarde beleid dat partypolitiek nie ’n plek in die Bronnie se redaksionele ruimte sal kry nie. Politiek en pornografie, in daardie volgorde van ongewenstheid, sal nie hulle aaklige kloue in dié tydskrif slaan nie. Nie solank die huidige span in beheer is nie.

Ons wil praat oor leiers wat werklik ’n verskil maak en gewoonlik van beter inbors is: Gemeenskapsleiers en meer bepaald oor die mense wat dikwels ongesiens die voortou in ons gebied neem om ’n positiewe verskil te maak.

Dit sou onregverdig wees om name uit te sonder, maar wie is die onbaatsugtige helde wat ons almal se dank en erkenning verdien? Ons praat van daardie ou wat dit op homself neem om ’n buurtwag op die been te bring. Hy wat self snags begin patrollie ry en mense aanspoor om hulle by hom aan te sluit om ander teen gevare en wetteloosheid te beskerm.

Ons verwys na mense soos die groepie Elandshoekers en hulle kroos (ons voorblad) wat met graaf en pik inspring om die vleilande van hulle omgewing deur die herleiding van opgedamde reënwater gesond te hou.

En na die barmhartige vrou (bl. 14) wat by ’n hawelose voor ’n hospitaal vertoef en uit haar pad uitgaan om ’n positiewe verskil aan dié vergete siel se lewe te maak.

Op bl. 28 van hierdie uitgawe kan jy lees van ’n paar besondere heldinne van Tierpoort wat klokslag elke maand ’n dag opsysit om iets spesiaals vir die seniors van hulle omgewing aan te bied.

Ons dink aan mense soos die afgetrede generaal van Silver Lakes wat in die Bronnie gelees het van die mishandelde en erg beseerde weggooihond wat geen heenkome het nie. Die generaal het die hondjie onder sy vlerk geneem en ná maande se intensiewe behandeling
by Onderstepoort ’n nuwe lewe aan ’n weerlose diertjie gegee.

Ons bring hulde aan die gewone mense in ons gebied wat hartstogtelik vir hulle omgewing omgee en nie huiwer om rommelstorters of groot myngroepe aan te durf nie. Ons vergeet nie die aantal sterre wat aan die voorpunt staan van gebiedsbeveiliging in die verskillende sektore van die Bronberg-gebied nie, of van diegene wat brandbestrydingsgroepe op die been bring en dan vuur maak onder die mense om deel te neem nie.

Ons kan nog baie voorbeelde noem van ons gebied se helde, wat ongelukkig weinig of geen erkenning kry nie. Julle weet wie julle is, en baie van ons weet dit ook. Daarom wil ons namens almal wat weet en wat baat by julle aksies dit vandag sê: Dankie!

 

 

© 2018 Die/The Bronberger