Splinternuwe dinge om te doen in ons kontrei PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 26 March 2018 14:39
Untitled Document

Nadese sal jy nooit weer oor naweke sit en wonder wat jy alles in die Bronberg-kontrei kan doen nie. Met hierdie splinternuwe gids vir 2018 wys ons jou alles – van avonture tot feeste en markte, van kuier- en trouplekke tot konferensiesentrums en oorslaapplekke. Of jy nou wil uiteet, op ’n wildbesigtigingstoer wil gaan, ’n staproete wil aanpak of museums wil besoek, hier wys ons jou wat reg onder jou neus aangaan.

Natuurreservate
Dagbesoekers of dié wat vir ‘n naweek wil wegbreek - ons wys jou waar jy kan wildkyk, wandel of perdryroetes, bootritte of lugballon ekspedisies deur natuurreservate kan neem of ‘n nagrit kan bespreek. Die Groot Vyf is net ‘n katspoegie ver en daar is voëlreservate met ‘n tikkie rustigheid vlak by die stad se gewoel.

Bronkhorstspruit Natuurreservaat

Die Bronkhorstspruit Natuurreservaat is baie gewild onder vissermanne, so naweke en vakansiedae kan baie besig wees. Tog is daar baie watervoëls te siene en ‘n voëlskuiling naby die ingangshek van waar ‘n mens enige plek in die reservaat per voet kan bereik. Die reservaat bied ‘n verskeidenheid kampeerplekke langs die oewer met ablusie- en braaigeriewe. Dit is uit met die N4-Oos snelweg. Neem die afrit na die Bronkhorstspruit-Bapsfontein-pad (R25)/Kemptonpark-pad. Bel Andrew Sibonyoni by 071-671-8605.

Rietvlei Natuurreservaat 

Jagluiperds, buffels, elande en renosters tot waterbokke, sebras en swart wildebeeste is van die wildspesies in die Rietvlei Natuurreservaat. Hier kan jy in ’n oornag-hut bly, kampeer of net piekniek hou by die dam met sy groot verskeidenheid watervoëls. Jy kan vir nagritte gaan, op perdryroetes, op ’n 10 km dagstaproete of ’n 21 km roete waar jy deur natuurbewaarders vergesel word. Visvang word toegelaat op die noordelike en westelike oewer en daar is ‘n seilklubhuis op die noord-westelike oewer. Dié reservaat is in 1948 geproklameer en bestaan uit 3 800 ha Bankeveld vanaf die dam oor vlaktes, heuwels, vleie en stroompies. Rietvlei is uit met die Delmas-pad, naby die Nelmapius/R21 kruising. Vir meer inligting, skakel 012-358-1810/1/2 of 012-345-2274.

Dinokeng Groot Vyf Reservaat 

By die Dinokeng Groot Vyf reservaat kan jy nie net op wildritte gaan nie, daar is ook bootritte, kleiduifskiet, boogskiet, visvang, staproetes, perdry, lugballonritte, ‘paintball’, skubaduik, wynproe, restaurante en pieknieks. Daar is ‘n verskeidenheid oornag-geriewe, vanaf kampering tot vier en vyfster verblyf in die reservaat noord-wes van Cullinan. Dié 18 500 ha reservaat bestaan uit individuele stukke grond in private besit. Dié wildtuin het vyf toegangshekke. Die hoofhek, Boekenhoutkloofhek, word as volg bereik: Vanaf die N1 noord, neem die Boekenhoutkloof / Hammanskraal afrit. Draai regs oor die snelweg en volg die aanwysingsbordjies. Skakel 012-711-4391, stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.dinokengreserve.co.za.

Moreletakloof Natuurreservaat

Die Moreletakloof Natuurreservaat is op die melkplaas wat Jacobus en Cornelia Erasmus in die vroeë 1800’s besit het. In 1877 het Carel Erasmus die plaas gekoop en ‘n drie-slaapkamer huis gebou, wat vandag die kapel is. Sy skoonseun, Johan Marneweck, het in 1903 die huis gebou wat vandag ‘n restourant is. Moreletakloof bied ‘n netwerk staproetes van ongeveer 7,5 km. Die Rademeyer is 1,57 km lank, die duiker is 2,89 km en suikerbos is 3,32 km. Daar is ‘n verskeidenheid voëlspesies en wild soos springbokke, blesbokke, rooibokke en sebras. Uit Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) draai regs in Rubensteinstraat en links in Heliosstraat, waar parkering beskikbaar is. Skakel 012-358-1510 of stuur ‘n e-pos aan Adelene Marais by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Faerie Glen Natuurreservaat  

Die 128 ha Faerie Glen Natuurreservaat is rondom die Rhenosterkop gedeelte van die Bronbergrif geleë. Hier is kleiner soogdiere soos kleinkolmuskeljaatkatte, muishonde, groototters, hase en krimpvarkies en ’n groot verskeidenheid voëlsoorte. Daar is drie wandelroetes: Hadida is 2,3 km lank, Akasia is 3,2 km lank en Kiepersol is 4,2 km lank. Die veld is tipies van ’n oorgangsone tussen Bankeveld, suur gemengde bosveld en Akasia-veld. Die reservaat is oop van 6 vm tot 6 nm en besprekings is slegs nodig vir begeleide staptogte. Die ingang is uit Louis Botharylaan. Vir meer inligting, bel Louise Kritzinger, voorsitter van Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat by
072-275-0614, stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Besoek www.fgnr.co.za of www.facebook.com/faerie.glen.nature.reserve.

Boardwalk Voëlpark

Die Boardwalk Voëlpark is ‘n twee hektaar reservaat langs die restaurante in die Boardwalk-sentrum in Faerie Glen. Hout loopvlakke is al langs die dam gebou om ‘n rustige atmosfeer te skep en daar is voëlskuilings op strategiese plekke, wat mense toelaat om die watervoëls te bekyk. Uit Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) draai oos in Haymeadowsingel. Die voëlpark is aan die noordekant van die pad. Skakel 012-358-1510 of stuur ‘n e-pos aan Adelene Marais by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Plaas-uitstappies
Van ‘n melkplaas met ‘n teetuin en ‘n druiweplaas met ‘n klimmuur tot ‘n diereplaas met visvangdamme – ons wys jou waar jy lekker kan braai, piekniek hou, visvang, baljaar en vars plaasprodukte kan aanskaf.

Du Plooy Melkplaas

Draai links by die vriendelike pienk koei langs die teerpad na Rayton, vir ‘n plaaservaring soos min. By Du Plooy Melkery op Kaalfontein kan jy uitspan by die Pienk Koei Teetuin en ‘n verskeidenheid ligte versnaperings geniet. Die kinders kan kyk hoe word die bont koeie gemelk en die perde, werfhoenders en ponies ontmoet. Jy kan ook ‘n magdom lekker vars plaasprodukte aankoop: Plaasgemaakte kaas van uiteenlopende aard, regte plaasbotter, winskoop-melk en varsgelêde eiers, verpakte vleis, jogurt en gevriesde jogurt, roomys en ‘soft serve’, vars groente, tuisgebak en wat nog, kan jy by die plaaswinkel kry. Kaartgeriewe is beskikbaar. Bel Hannelie by 083-399-6407.

Druiweplaas Pieknieks

Druiweplaas Pieknieks en Funksie-area in Zwavelpoort spog met ‘n pragtige dam en uitsig op die Bronberg. Hier kan jy gaan visvang; die beleid is vang-en-los en geen bêre-nette word toegelaat nie. Daar is ‘n swembad, tennisbaan, ‘n muurbalbaan, braaidromme, ‘n klimraam en swaaie en selfs ‘n klimmuur. Besoekers moet hulle eie visgerei, hout, kampstoele, eetgoed en koeldrank saamneem. Daar is aparte funksie- en piekniekareas. Toegang is per afspraak en is slegs vir dagbesoekers. Skakel 082-324-5596 of 082-324-5614, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.druiweplaas.co.za. Die Druiweplaas se piekniekplek is op plot 123, Zwavelpoort, tussen Atterburyweg- en Lynnwoodweg-verlenging. 25° 49’58.93” S. 28° 22’10.70” O.

Wonderland 45

Wonderland 45 bied ‘n kampterrein met elektrisiteit, maar dit is nie nodig om oor te slaap nie – dagbesoekers en groepbesprekings is meer as welkom. Vir die kinders is daar ‘n speelparkie, glybaan en springkasteel. Daar is ook ‘n diereplaas, kiosk, braaigeriewe en ablusieblokke. Behalwe vir die Boschkopspruit is daar vyf damme, bogrondse swembaddens, ‘n speeldam en jacuzzi. Wonderland is bekend as ‘n visvangplek en daar is karp, kurper, baber en baars. In die wintermaande is daar forel. Dié plek is veilig en rustig, geleë op gedeelte 45, Tweedracht, uit met die Boschkop-pad. Skakel 081-878-5891, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.wonderland45.co.za of https://web.facebook.com/Wonderland45.

Op ‘n gallop
As jy mal is oor perde is hierdie jou afdeling, of jy nou ‘n beginner is, kompeterend aan skoue wil deelneem, op soek is na gesellige uitritte, ‘n goeie stal vir jou perd of sommer net saam met perde wil uitspan.

Die Perdeplaas

Die Perdeplaas is ‘n plek waar jy perde in ‘n rustige en non-kompeterende atmosfeer kan leer ken. Hulle bied rylesse, terapeutiese perdry, vakansiekampe, opleidingskoue, funksies en kinderpartytjies. Daar is dwarsdeur die jaar gebeurtenisse soos Western speletjies, uithouritte, maanligritte, optof-ritte en spesiale dae vir entrepreneurs. Kinders word ook geleer hoe om na perde om te sien. In 2018 het Die Perdeplaas 12 nuwe perdeliefhebbers van die Lig Kinderbediening verwelkom. Dié instansie werk met behoeftige kinders in Proklamasieheuwel, Danville en Elandspoort, wat terapeutiese rylesse kry. Skakel 072-239-0880 of 082-578-1224; e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.dieperdeplaas.co.za. Die Perdeplaas is op plot 248, Tiegerpoort.

Cullen Stalle

Cullen Stalle bied rylesse in klein groepies of individuele lesse vir beginners tot gevorderde ruiters – vanaf basiese rykuns tot spring en dresseer. Alle lesse is deur gekwalifiseerde instrukteurs met ondervinding in ‘n veilige perdry-omgewing en fasiliteite met betroubare skoolperde. Eienaar Llewellyn Mason bied al sedert 1990 perdrylesse aan. Poniekampe, pretdae en skoue word gereeld gehou. Daar is oggendlesse vir vrouens, kwaliteit stalle, voorbereiding en begeleide deelname aan die meeste skoue. Alle toerusting is beskikbaar vir tydelike gebruik. Bel Llewellyn Mason by 083-227-8048, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ; besoek www.cullenstables.co.za of sluit by Cullen Stalle aan op Facebook. Hulle is uit met Lynnwoodweg-verlenging op plot 168, Mooiplaats. GPS 25’48,15’S 28’24,05’E

Zoya’s Stalle

Zoya is private stalle op ’n 13 ha plot. Dié is ‘n klein onderneming, wat beteken dat hulle meer aandag aan al die perde gee. Zoya se ervare instrukteurs bied rylesse vir alle ouderdomme en vlakke van ondervinding op goed geskoolde perde. Daar is ook terapeutiese perdry wat help met die stimulering van liggaam en brein. Zoya kyk na afgetrede perde met hulle spesiale behoeftes en help met die opleiding van jong perde. Daar is ‘n sand-arena en lanseerring sowel as veilige uitritte. Zoya’s Stalle is op plot 84, Klipkop in Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg). Vir meer inligting bel Charlene Herbst by 083-790-7373, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.zoyastables.co.za.

Markte, feeste en vendusies
Kyk ‘n bietjie hier na die feeste, veilings en markte wat deur die jaar in ons kontrei gehou word – van die Fijnwyn Kos- en Wynfeeste, Protea Cullifest en KragDag tot ‘n katteskou, biltongfees en bierfees, ‘n Windpompmark en ‘n mark wat elke naweek in ‘n ou plaasskuur gehou word.

Fijnwyn

Die Fijnwyn Kos- en Wynfeeste bied nie net wynproe nie, daar is ook deli koskraampies, musiekoptredes, pret vir kinders en volop veilige parkering. Feesdatums vir die res van die jaar is: 27 en 28 April; 16 en 17 Junie; en 22 en 23 September van 10 vm tot 5 nm. Die feeste word op ‘n werkende plaas in ‘n plantasie van 500 pekanneut- en 200 amandelbome gehou en lok besoekers van heinde en verre. Charmain Lourens, stigter van die fees, sê sy kies die wynplase en koskraampies versigtig om die fees buitengewoon te maak. Kaartjies sluit wynproe en ‘n glas in en is R160 vir volwassenes. Die fees word by Shokran op plot 99, Luiperdstraat, Tierpoort gehou. Besoek www.fijnwyn.co.za, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of skakel 082-335-5659.

Jan Ellis Afslaers

Jan Ellis Afslaers hou elke Saterdag om 9.30 vm ‘n veiling, waar mense ook lekker saamkuier by die plaas-snoepie. Die hele gesin kan die dag in dié egte plaasatmosfeer geniet. Oudhede, meubels, gereedskap, losgoed, huisraad, implemente, kantoormeubels en lewende hawe word opgeveil. Die snoepie bied jafels, vetkoek, kerrie en rys, fudge, poeding, tuisgebak en nog baie ander watertand geregte. Jan Ellis Afslaers is op plot 38, Kaalfontein knap by die Cullinan/Rayton-afrit van die N4-Oos snelweg. Skakel 012-736-2098, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Kantoorure is Maandae tot Vrydae van 8 vm tot 5 nm, en Saterdae van 7 vm tot die veiling klaar is. Hulle is op Woensdae gesluit.

Kampioenskap Katteskou

As jy mal is oor katte, sal jy verheug wees om te hoor dat ‘n groot katteskou in Bashewa gehou word. Die Randse Katteklub bied op 5 Mei ‘n kampioenskap katteskou volgens die reëls en regulasies van die Suider Afrikaanse Katteraad vir alle katterasse aan. Die gebeurtenis is van
9.30 vm tot 3 nm. Toegang is R10 vir volwassenes en R5 vir kinders onder 12 jaar oud en pensioentrekkers. Die skou word aangebied by Oewerpark Vermaaklikheidsplek in Edel Etaweg 40, Bashewa Landbouhoewes. Dit is uit met Garstfonteinweg-verlenging. Vir navrae, bel Karen Labuschage van die Randse Katteklub-komitee by 082-824-2132, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Fietsrydag en Biltongfees

Laerskool Witpoort se fietsrydag vir oud en jonk is op 14 April vanaf 8 vm. Daar is 5 km, 10 km,
30 km en 60 km roetes en ‘n kleuter prettrap. Inskrywings is by www.bouttime.co.za. Daar gaan ‘n verskeidenheid kraampies en verversings wees. Die skool se gewilde jaarlikse Biltongfees is op 19 Mei vanaf 4 nm. Bel Leandri Wagner by 081-217-1602 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Besoek www.witpoort.co.za. GPS Koördinate: S25° 57.583’ E28° 31.208’

Protea Cullifest

By die Protea Cullifest van 27 tot 29 April val die fokus op plaaslike blommeboer, Japie van Staden, se proteas. Feesgangers het die geleentheid om dié  proteaboer te ontmoet en proteas is te koop by die feesterrein op Zonderwaterweg 12, Cullinan. Opkomende kunstenaars sowel as bekendes soos Jak de Priester, Steve Hofmeyr en Elizma Theron gaan optree. Loer na vanjaar se program by www.proteacullifest.co.za. Daar kan gesmul word aan tradisionele eetgoed. Die wyn- en biertuin bied lafenis vir droë kele. Ouers kan kleingoed by ’n veilige kinder-speelarea onder toesig laat terwyl hulle rustig deur die kraampies stap of ’n teatervertoning bywoon. Skakel 083-865-0563.

Windpomp mark

Windpomp Mark hou op Saterdag 31 Maart van 8 vm tot 2 nm hulle Paasfeesmark by Broodblik en Koffiepit op die R51 tussen Bapsfontein en Petit. Bel Adele by 083-445-1608. Daar is heerlike kos, eiesoortige uitstallers, pret vir die hele gesin – selfs vir die vierbeen-kinders. Die mark daarna is van 27 tot 28 April. Broodblik en Koffiepit word bedryf vanuit ‘n ou opstal met ‘n lekker rondomstoep. Oral op die agterstoep, in die eetplek en in die tuin het interessante oudhede, versamelstukke en handgemaakte mooigoed ‘n blyplekkie gekry. Vir inligting oor die winkel, bakkery en restourant, bel Sarel by 011-964-7021 of 079-882-5890. Vind hulle by S26 0.336 E028 23.477

KragDag

Die tiende KragDag ekspo is van 9 tot 11 Augustus by Diamantvallei Landgoed, 20 km oos van Pretoria. Verlede jaar het 13 000 mense die ekspo bygewoon en dié leersame geleentheid met ‘n karnaval atmosfeer groei jaarliks in gewildheid. Met ‘n doen-jou-eie-ding leuse bied KragDag op die drie hektaar ekspo-terrein uitstallings met ’n verskeidenheid selfstandigheidsoplossings, inligtingsessies in die KragDag raadsaal, ’n opvoedkunde sub-ekspo, kultuur, avontuur, tegnologie, koopgenot, kennis en kuier. Daar is ook uitstallings oor die doen-dit-self makerbeweging, waardeur vervaardiging van dinge en aktiwiteite wat voorheen net deur gesofistikeerde groot ondernemings moontlik was, nou na die maker in sy huis terug gebring word. Dit sluit in hommeltuie, 3D drukkers, robotika en die Internet-van-dinge. Besoek www.kragdag.co.za.

Hazeldean Valley en die Cowhouse Mark

Hazeldean Valley is die tuiste van die Cowhouse Mark in die ou skuur wat eens melkkoeie gehuisves het. Die mark is elke Saterdag en Sondag van 10 vm tot 4 nm. Op die laaste Saterdag van elke maand is daar ‘n aandmark tot 10 nm. Die laaste Vrydag bied ‘n aandmark van 5 nm tot 10 nm saam met ‘n Bruce bergfiets nagrit. Daar is ‘n verskeidenheid handwerk, kos en drankies soos ‘craft’ bier, ‘n speelplek, fietsiebaan vir kinders, musikante en vermaak soos ponieritte en ‘n ‘ziplyn’. Vir bergfietse is daar ‘n 50 km enkelbaan en daar is ‘n draf- en staproete. Vir deelname, besoek www.bouttime.co.za. Pretoria se eie ‘craft’ bierfees word op 27 April van 10 vm tot 6 nm hier gehou. Draai regs in Ridgeweg vanuit Silver Lakesweg. Besoek www.hazeldeanvalley.co.za. Skakel 072-399-0154.

Kuier in ons kontrei
Ons kontrei se mense weet hoe om hulle kuierplekke besonders en anders te maak; van kunskos tot ‘n rustige-lewe-bestemming, van ‘n pannekoekplek tot kroegetes, teetuine en koffiewinkels. Hier kan jy plattelandse stilte ervaar of na musiekgroepe luister terwyl jy jou honger en dors stil.

Café Boma

Die vriendelikste kuierstoep in Pretoria is dié by Café Boma. Hier vul die geur van goeie koffie van vroegoggend af die lug. Café Boma bedien ontbyt, ligte etes, koek en tee, tradisionele geregte en ook Boma Vleismark se bekende rypgemaakte vleissnitte, perfek voorberei. Ten volle gelisensieer, kan gaste enige tyd van die dag enige gereg en bykomende drinkgoed geniet. Hulle is oop tot laat. Langs Café Boma spog Boma Vleismark nou met ‘n splinternuwe deli. Hier word heerlike huiskos en lekkernye voorberei, gereed om voor te sit. Boma se eie bakkery bied daagliks vars gebak aan, soet en sout. Boma Vleismark het alles vir die braai, van steak tot slaai. Skakel 012-998-8711 of besoek www.bomameat.co.za.

Kakiebos

By Kakiebos kuier jy gemoedelik in die oopte van ’n Kaalfonteinplot – vlak langs die teerpad. Kakiebos se ruim grasperke, bekostigbare kwekery,  speelpark en feetjietuin bied veilige baljaarplek vir alle ouderdomme. Die restaurant se nuwe spyskaart en ten volle gelisensieerde kroeg sorg vir ’n lekker plaaskuier met smulgeregte. Op Sondae word boerekos as opsie bedien en tree daar gewilde musiekkunstenaars op. Met ruim en veilige parkering kan jy met gemoedsrus kuier. Kakiebos het ook gerieflike selfsorgverblyf beskikbaar. Motorfietsers is altyd welkom. Kakiebos is op plot 31, Kaalfontein, neffens die R515 tussen Rayton en die N4-Oos snelweg. Vir meer inligting en bespreking, skakel 083-766-2963 of e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Harrie’s Pancakes

Harrie’s Pancakes se wye keuse van gevulde pannekoeke lok menige stadsbewoner na Cullinan. In die dorpie se geskiedkundige Oaklaan kan jy op die stoep of gemaklik binne sit en alles gade slaan. Warm, sout pannekoeke met heerlike vulsels of soet pannekoeke, tradisioneel, en met so ‘n lekker porsie roomys gaan goed af. Smaaklike plaasontbyte wat niks met pannekoek te doen het nie, is beskikbaar. Die bediening is vriendelik en gaaf en die geregte so smaakvol as wat dit keurig voorgesit word. Besoek Harries by Oaklaan 112, langs die historiese Nedbank-gebou of skakel hulle by 012-734-1054.

La Vie Lente

‘La Vie Lente Urban Farm’, die rustige-lewe bestemming, is ‘n spesiale kombinasie van al die dinge in die lewe waarvoor ‘n mens ‘n fyn waardering ontwikkel, en ‘n versinnebeelding van die eerlike, eenvoudige lewe. La Vie Lente Café en Bistro het ‘n kontemporêre spyskaart van kwaliteit disse in ‘n familie-vriendelike omgewing. Daar is private funksievertrekke vir ‘n kombuistee, verjaardag of ooievaarstee sowel as sakefunksies. Wat dié plek anders maak is hulle filosofie oor die hergebruik van materiaal in bouwerk en ontwerp, hulle organiese, son-geroosterde koffie, houtvuur gebakte brood en gebeurtenisse soos kookdemonstrasies, tee-en-bederf-dae en wynproe. Hulle is op plot 242, Lynnwoodweg-verlenging (M6, Grahamweg). Skakel 072-916-7801.

Anja’s Teetuin

Anja’s Teetuin bied ‘n ontspanne plaasatmosfeer met ‘n wye reeks tuisgebak, selfs vir dié wat gesondheidsbewus is, pieknieks, ligte middagetes en ‘high tea’. Gaste kan in die groot ooptes van die tuine sit, op die stoep of in die gesellige eetkamer. Daar is genoeg plek in die tuin sodat kinders lekker kan speel en op ontdekkingsreise kan gaan. Daar is ook ‘n ry klein winkeltjies wat eiesoortige produkte en handgemaakte geskenke verkoop. Die hele plek is rolstoel-vriendelik. Anja’s is oop van Woensdae tot Saterdae van 9 vm tot 4 nm en op Sondae en vakansiedae van 9 vm tot 3 nm. Hulle is op plot 317, Zwalu-landgoed in Zwavelpoort, uit met Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg). Koördinate: -25.824182, 28.392517. Skakel 072-153-6732, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.anjasgarden.co.za.

Lekker Koffiewinkel en Earth Kitchen @ Shere

Lekker Koffiewinkel en Earth Kitchen @ Shere is die naam van ‘n splinternuwe plek om onder die bome in Shere koffie te drink. Dié plek bedien eenvoudige en vars ‘aardskos’ vanuit hulle eie tuin in ‘n ontspanne en informele atmosfeer. Lekker is in Colestraat 100R, reg agter Laerskool Tygerpoort en is die ideale plek vir vriendinne om te kuier terwyl hulle wag om die kinders ná skool op te laai of om ontbyt te gaan eet as hulle die kinders afgelaai het. Dit is ‘n lekker kuierplek vir die hele gesin met ’n groot tuin teen die voet van die Bronberg. Lekker is oop van Woensdae tot Sondae van
7.30 vm tot 3.30 nm. Skakel 012-809-2398 of 079-318 -3092.

Boskombuis

Dansvloer, boma, braai, boslapa, boskroeg, konferensies, vergaderings, verjaarsdae, ‘n sprokiestroue in die bos, onthale, jaareindfunksies . . . gaan maak ‘n draai en sien self hoekom die Boskombuis sedert 1998 so ‘n gewilde kuierplek is. Hulle is oop van Dinsdae tot Sondae en het gewoonlik op ‘n Vrydagaand ‘n spesiale aanbod op een van hulle disse. Sondagoggende is daar die legendariese Bosbrekkie – ‘n ontbyt wat mense altyd bybly, gevolg deur ‘n Sondagmiddagete – koningskos, weg van die stad se gewoel.  Die Boskombuis is ‘n kuierplek vir die hele gesin. Hulle is gerieflik naby die N4 snelweg en die Rayton/Cullinan-kruising. Vir meer inligting, bel Reneé Thomson by 083-485-2529, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Koördinate 25D 80203 (S) 28D 497395 (O).

Kinderspeletjies
Dis nie altyd maklik om die kortvolk te vermaak nie, maar ons kontrei bied egte ou plaasvermaak , geleentheid om saam met perde partytjie te hou en om avonture met trapkarre aan te pak.

Liberty Stalle Kinderpartytjies

Liberty Stalle bied baie prettige kinderpartytjies aan by hulle ten volle toegeruste klubhuis op die terrein. Verskeie pakkette is beskikbaar wat vir elke kind se droompartytjie kan sorg en sakpas uitwerk vir die ouers. Veral die partytjies waar kinders vermaak word met speletjies terwyl hulle op perde ry, is ’n groot treffer. Kinders het geen perdry-ervaring nodig om te kan deelneem nie. Die klubhuis is ook vir ander funksies soos ooievaarsteepartytjies en verjaardagpartytjies beskikbaar. Liberty Stalle is op plot 180, Mooiplaats op die Boschkop-pad. Bel Juanita by 082-417-8137 vir meer inligting of besprekings.

Trapkarre

Kom speel buite! Vroom se trapkarre bied kinders die kans om buite te baljaar sonder batterye, brandstof of elektrisiteit. In ‘n hoewegebied is dit die ideale vermaak. Dié trapkarre kan vir enige partytjie gehuur word om ‘n onvergeetlike ondervinding met ure se pret en avonture te waarborg. Die karre is ook ideaal vir spanbou-geleenthede, skoolkarnavalle, feeste, sportdae en fondsinsamelingsdae. Hulle is beskikbaar in verskillende style en kleure en daar is selfs make soos ‘n Jeep of John Deer. Dié vermaak is deesdae by The Big Red Barn. Die trapkarre word ook te koop aangebied. Bel Juanita by 082-681-3716, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.myvroom.co.za.

Die meeste kuierplekke in ons kontrei maak seker dat kinders iewers kan speel, maar daar is ook spesiale speelervarings met:

  • Plaasdiere – Du Plooy Melkplaas: 083-399-6407
  • Swembad, klimraam, swaaie en klimmuur – Druiweplaas: 082-324-5596
  • Glybaan, swembaddens en diereplaas – Wonderland 45: 081-878-5891
  • Ponieritte en fietsiebaan – Cowhouse Mark: 072-399-0154
  • Feetjietuin – Kakiebos: 083-766-2963
  • Plaasdiere – Willem Prinsloo Landboumuseum: 012-736-2035/6

Vir spesiale dae
Daar is ‘n paar baie spesiale dae in ‘n mens se lewe en ons wys jou watter plekke daarin spesialiseer om dié dae onvergeetlik te maak – van luukse trouplekke tot konferensies in ‘n sprokieswoud en ‘n historiese ou hotel.

Cullinan Premier Hotel

Die Premier Hotel in Cullinan, ‘n historiese besienswaardigheid, spog met die elegante Diamantsaal, perfek ingerig vir troues en funksies. Daar is weeklikse gebeure soos aandete en dans of aandete en teater. Die hotel spog met 16 en-suite slaapkamers en outentieke antiek-binneversiering. In die historiese wynkelder kan ‘n mens deelneem aan ‘n wynproe extravaganza met Suid-Afrikaanse sommeliers en ’n 15-gang tentoonstelling-styl spyskaart. Die Diamond Spa bied behandelings vir paartjies en spa-pakkette. Die Timeless Tapas restourant en kroeg bied ’n prettige sosiale manier om te deel-eet en tydlose tradisionele kos uit die kombuis te geniet. Plaaslike bier en wyn is beskikbaar en daar is optredes deur musikante oor naweke. ‘n Bonus is die lugballon safari – ‘n romantiese pakket wat ‘n spa-bederf, romantiese aandete in die  kelder en ‘n vroegoggend lugballon-rit met sjampanje-ontbyt insluit. Skakel 083-601-2494 of 012-734-1810; e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.cullinanpremierhotel.co.za.

Galagos

Galagos is gesetel in ‘n sprokiesagtige woud wat ‘n tikkie wonder en romanse aan enige geleentheid bied – of dit nou ‘n troue, konferensie of buffet-ontbyt op ‘n oop dek tussen die bome is. Galagos se ontbytplek, die Windjammer, is op Saterdae en Sondae oop van 9-11 vm. Die konferensiefasiliteite is van hoë standaard en volgens internasionale spesifikasies gebou. In die ‘Hall of Fame’ kan 160 gaste rondom die dansvloer sit. Daar is ook ‘n mezzanine-vloer, waar nog 80 gaste kan sit. Jy kan ook in dié wonderwoud in luukse verblyf vertoef, of in ‘n dubbelverdieping grasdakgebou, in die Daxter-huis, met vyf slaapkamers of in die wittebrood-suite, ‘n kothuis met ‘n buitelug jacuzzi. Galagos bied op 26 Mei ‘n Laventelbederfoggend saam met Nita Fourie – maak jou eie laventelproduk ná ‘n lekker ontbyt. Galagos is op plot 66, Donkerhoek, naby die N4-Oos snelweg se Cullinan/Rayton afrit. Skakel 082-823-1812, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.galagos.co.za.

Sherewood Lodge

Sherewood Lodge is die plek om te wees as jy op soek is na rus, vrede, gemak en rustigheid, iets wat hulle die ‘Sebesebe’-ervaring noem. Dit is die ideale plek vir professionele konferensies, romantiese troues, wonderlike funksies en rustige verblyf. Die luukse 10-slaapkamer boetiek gastehuis is in ‘n Afro-Europese styl ontwerp met warm Afrika-kleure en natuurlike material van klip, hout en leiklip. Elke slaapkamer het ‘n stoep en tuintjie. Daar is konferensiefasiliteite vir tot 35 mense en ‘n plek waar troues vir tot 50 gaste gehou word. Sherewood Lodge is in Colestraat, 100R in Shere. Skakel 012-809-2398 of 079-318-3092,  e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.sherewoodlodge.co.za.

Riverside Bush Boma

Riverside Bush Boma in Zwavelpoort bied Sondag-middagetes met musikante wat optree. Hulle het ‘n selfspysenierings trou- en funksie-plek wat te huur is met ‘n groot braaiplek, ‘n vuurpit, boskroeg, en vele meer. Die boslapa maak voorsiening vir 130 gaste; die kapel vir 180 gaste, die tent in die tuin vir 40 tot 400 gaste; die hoof onthaalsaal vir 80 tot 160 gaste, die konferensiekamer vir 40 afgevaardigdes; en die teetuin vir 60 gaste. Daar is iets vir almal, of jy nou op soek is na ‘n private bos-ondervinding of ‘n groot wit troue. Riverside Bush Boma is op plot 204, Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg), Zwavelpoort. Skakel 072-074-9809, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.riversidebushboma.co.za. Koördinate 25º 49.311' S 28º 23.212' E

Op die plek rus
As jy ‘n troue, funksie of konferensie in Bronberg-wêreld bywoon en op soek is na oorslaapplek, is hierdie net vir jou.

Villa Amor

Villa Amor is ‘n vyf-ster gastehuis op ‘n boomryke eiendom waar jy in ’n rustige omgewing kan ontspan. Jy kan op jou houtplatform voor jou kamer sit en luister na meer as 50 soorte voëls wat hier geïdentifiseer is. Die gastehuis is elegant met ruim kamers en uitsoek meubels en décor van die hoogste gehalte. Saans kan jy rustig die aandete, waaroor baie gaste liries skryf, geniet. Gereeld sal jy die nabygeleë leeus in die aand hoor ‘gesels’. Met die baie trouplekke in die omgewing is Villa Amor ideaal om oor te slaap. ‘n Vol ontbyt is ingesluit. As jy wil, is daar tennis, en kan jy ook ‘croquet’ en ‘petanque’ in die uitgestrekte tuine speel. Villa Amor is slegs 500 m van Grahamweg (Lynnwoodweg-verlenging); 3.5 km van Solomon Mahlangu (Hans Strijdom-rylaan) op plot 288, Arthurlaan, Shere. Skakel 083-231-2063. E-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Formosa B & B

Formosa B & B nooi jou uit om rustig in ‘n plaasatmosfeer te gaan oornag weg van die stad se geluide. Geniet ‘n warm verwelkoming, ‘n skoon en-suite kamer met private ingang. ‘n Ten volle toegeruste selfdien-eenheid is ook beskikbaar. Die plek is ideaal vir voëls-kyk of om sommer net in die veld te stap. Voor jy vertrek kan ‘n heerlike ontbyt geniet word om jou verbly af te rond. Formosa is sentraal geleë indien jy enige troues of funksies in die Bronberg gebied moet bywoon. Woodlands Boulevard en Pretoria Oos Hospitaal is slegs 15 minute ver. Hulle is op plot 77, Edel Etaweg, Bashewa. Bel vir Ella of Joritha by 083-510-7365 of 012-811-0232 vir tariewe. Besoek www.travelandstayinsa.co.za/formosa.

Jy kan ook oorslaap by:

  • Wonderland 45: 081-878-5891
  • Kakiebos: 083-766-2963
  • Sherewood Lodge: 012-809-2398
  • Galagos: 082-823-1812
  • Cullinan Premier Hotel: 012-734-1810
  • Boskombuis: 083-485-2529
  • Bronkhorstspruit Natuurreservaat: 071-671-8605
  • Rietvlei Natuurreservaat: 012-358-1810/1/2
  • Dinokeng Groot Vyf Reservaat : 012-711-4391 
  • Lapakraal by Willem Prinsloo Landboumuseum: 012-736-2035/6

Versot op toeka
Gaan kyk ‘n bietjie hoe toeka se mense gelewe het. Jy kan op begeleide toere deur ons kontrei se museums gaan, deelneem aan programme wat op ‘n tipiese ou plaaswerf aangebied word of ‘n historiese stoomtreinrit na Cullinan ervaar.

Willem Prinsloo Landboumuseum

Die Willem Prinsloo Landboumuseum, is ’n kombinasie van ’n opelugmuseum met ’n egte plaasatmosfeer en kultuurtradisies, ou opstalle en permanente uitstallings soos koetse en veteraan landbou-implemente. Spesiale programme word vir groepe aangebied soos die maak van roosterkoek, broodbak in ’n buite-oond, mampoerstook, kleilatgooi, die maak van klei-osse, koeimelk, sweepklap en verepluk. Die museum, op die plaas Kaalfontein op die ou Bronkhorstspruitpad, is oop van 8 vm tot 4 nm in die week en van 9 vm tot 4 nm oor naweke. Die Lapakraal op die plaas bied selfsorg verblyf met 80 beddens. Skakel 012-736-2035/6, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it , webtuiste: www.ditsong.org.za.

McHardy Huis Museum

McHardy Huis Museum is die eerste huis wat in Cullinan gebou is. Dié huis is in 1903 vir die Premiermyn se eerste bestuurder, William McHardy, gebou en met sy dood in 1913 het die myn sy vrou en sewe kinders die reg gegee om lewenslank daar te bly. Die laaste McHardy suster is eers in 1984 oorlede. So het dit gebeur dat ‘n McHardy die huis vir 81 jaar lank bewoon het en die museum vandag kan spog met die gesin se oorspronklike meubels, ornamente, kombuisware en foto’s. Die myn het die huis in 1988 as museum verklaar. Die museum is in Oaklaan 101 en is elke dag, behalwe Dinsdae, vanaf 10:30 vm tot 3 nm oop.

Onverwacht

Die swart Afrikaners van Onverwacht woon al langer as ’n honderd jaar op grond wat in Paul Kruger se tyd aan hulle toegestaan is en wys graag vir toeriste hoe hulle bak en brou. Onverwacht is ’n geskiedkundige nedersetting van afstammelinge van bevryde Maleise slawe wat deel van die Malan-nátrek gevorm het. Jy kan ‘n kultuurhistoriese toer deur die nedersetting, 10 km noord-oos van Cullinan, doen. Die Sondag skop af met ’n kerkdiens by Onverwacht se Verenigde Gereformeerde Kerk, waarna jy met ‘n donkiekar kan rondry, by die inwoners aan huis kan teedrink of ‘n tradisionele middagete eet en selfs die begraafplaas waar dié dorpsmense se voorsate lê, kan besoek. Bel Patricia Machobane by 076-756-9518.  

Sammy Marks Museum

Zwartkoppies Hall is die naam van die statige Victoriaanse opstal wat Sammy Marks vir sy gesin op die plaas Zwartkoppies gebou het. Dit is vandag ‘n museum met 45 kamers vol van die Marks-gesin se ornamente en handgemaakte meubels. Sammy Marks was een van Suid-Afrika se bekendste sakemanne en het ‘n beduidende rol in mynwese en die nywerheidsontwikkeling van ons land gespeel. Jy kan op ‘n begeleide toer deur die Sammy Marks museum gaan of ‘n Victoriaanse piekniek hou. Daar is opvoedingsprogramme, voëlkyk-staptoere, ‘n teetuin en spookaande word selfs gehou. Skakel 012-755-9541 of stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Besoek: www.ditsong.org.za. Die Sammy Marks-museum is op die ou Bronkhorstspruitpad, Donkerhoek.

Zonderwater

Zonderwater Italiaanse Krygsgevangenekamp-museum herdenk die Italiaanse krygsgevangenes wat in die Tweede Wêreldoorlog net buite Cullinan aangehou is. Daar is aanvanklik 63 000 Italianers in Abyssinia (vandag, Ethiopië) gevang en aanvanklik in tente en later in barakke by Zonderwater aangehou. Paaie, kerke, sokkerbane en skole is gebou en 200 krygsgevangenes is as onderwysers en opleiers in meganika en houtwerk in diens geneem. Daar was 20 teaters in die kamp met akteurs en regisseurs en selfs die kostuums vir die verhoogproduksies is in die kamp gemaak. Muurskilderye wat deur dié Italianers geverf is, kan vandag nog teen die Cullinan ‘Rec’-klub se mure gesien word. Om die begraafplaas en museum net buite Cullinan te besoek, skakel 012-667-3279.

Friends of the Rail 

Friends of the Rail is ’n erfenisbewaringsvereniging wat ou stoomtreine restoureer en toeriste op daguitstappies na Cullinan neem. Die stoomtrein-roete begin by die depot in Hercules. Jy kan op een van die geskeduleerde toere gaan, ‘n private trok, wat wissel in grootte vir tien tot 70 mense, vir jou geselskap huur of sommer die hele trein vir ‘n verjaardag, troue, fotosessie of werksfunksie huur. Bring jou eie verversings of vra Friends of the Rail om etes te bedien. Vir besprekings en ’n skedule van uitstappies en aktiwiteite, besoek www.friendsoftherail.com. Stuur ‘n e-pos aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of skakel 073-789-5429.

Groot met groen
Dié afdeling is vir diegene wat ‘n soektog na besonderse dinge vir die tuin in opwindende naweek uitstappies wil omskep. Van inheemse plante tot spuitfonteine, beeldjies, potte, voëlbaddens en voëlvoerders, klipprodukte en ‘n orgidee-paradys – hier wys ons jou waar om die plekke te vind.

Marvellous Orchid

Het jy al ooit gedroom van ‘n tuin vol orgidee wat die hele jaar deur blom? Marvellous Orchid is so ‘n paradys wat inspirasie en ontspanning in vandag se gejaagde lewe bied. Om dié plek te besoek is soos om na ‘n orgideeskou toe te gaan, waar jy gereeld nuwe orgidee in verskillende seisoene kan sien blom. Hulle hou van die gewildste en maklikste om te groei variëteite aan, soos die Phalaenopsis, waarvan daar 40 verskillende kleure is, Oncidiums, Vanda, Cymbidiums, wat in die winter beskikbaar is, en Cattleyas. Daar is ook lugplante, Bromeliads, wat met kleurvolle blare spog, en bonsais. Marvellous Orchid is op die hoek van Jacobsonstraat en Lynnwoodweg, langs Lots of Pots. Skakel 012-348-5037, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.atmarvellous.co.za.

Lots of Pots

Lots of Pots is in 2008 gestig toe Anton en Elaine Els Tuscany’s in Shere gekoop het, die naam verander het en binne maande verder wes in Lynnwoodweg getrek het na die hoek van Lynnwoodweg en Jacobsonstraat, Lynnwoodrif. Vandag spog Lots of Pots met ‘n interessante en diverse reeks plante en tuin-hardeware. Hulle produk-reeks het baie uitgebrei en strek van tuinpotte, spuitfonteine, ‘n verskeidenheid beton-stene om paadjies mee te maak, spoelklippe en voëlbaddens tot staalbykomstighede, gazebos, tuinmeubels, ornamente, beeldjies, voëlvoerders, waterpompe en baie ander tuinbykomstighede. Skakel 012-348-6650; e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.lotsofpots.co.za.

Blyfontein Kwekery

Besoek Blyfontein Kwekery en kyk hoe ervare kwekers ‘n groot verskeidenheid inheemse bome en struike kweek, versorg en gereed kry vir jou, om dit teen die billikste pryse denkbaar aan te koop. Kom deel gerus in hulle kundigheid en geesdrif. Blyfontein is die enigste inry-kwekery in die ooste waar elke boom en plant self met groot sorg gekweek word. ‘n Groot verskeidenheid inheemse bome en struike van verskillende groottes, ‘n wye keuse watersuinige plante, proteas, broodbome en uitheemse plante vir die kouer streke is altyd beskikbaar. Blyfontein is uit op Lynnwoodweg-verlenging, 8 km verby Hans Strijdomrylaan oorkant die Swaeltjie-afdraai. Bel Pine en Anna Papenfus by 083-600-1909 of 082-600-7776. Besoek www.blyfontein.co.za.

Wild Route

Wild Route het ‘n stedelike vergroeningsprojek waar sake-ondernemings bome kan borg wat dan by minder bevoorregte skole, kerke of gemeenskap sentrums geplant word. Dié is ‘n groothandel kwekery wat spesialiseer in die kweek van inheemse bome en plante. Hulle verskaf bome en plante aan kwekerye, tuinsentrums en landskapsargitekte maar is ook oop vir die publiek van Maandag tot Saterdag van 8 vm tot 4 nm. Daar is vrugtebome en nagenoeg 10 000 inheemse bome om van te kies. Besoek hulle in Saintsstraat op plot 92, Zwavelpoort (Atterburyweg-verlenging uit, langs Presda Laerskool) vir kwaliteit plante teen die beste prys. Vir meer inligting bel Danie van Eeden by
072-376-7831, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it , of besoek www.wildroute.co.za.

Newlands Tuinsentrum

Newlands Tuinsentrum verskaf alles wat jy benodig om jou tuin in ‘n lushof te omskep: van plante, kunsmis, giwwe, tuingereedskap, fonteine en potte tot staaltuinmeubels. Hulle is bekend vir hulle sampioen-kompos, landskap- en potplantgrond, grasperkdeklaag en alle boumateriaal wat hulle in minie- en maksie-vragte aflewer, of neem jou eie bakkie of sleepwa en hulle laai dit vir jou, sewe dae ‘n week. Newlands Garden Centre is op plot 650, Elandstraat, Rietfontein Landbouhoewes, oorkant Mooikloof. Besigheidsure is: Maandae – Donderdae: 7 vm–5.30 nm, Vrydae – Saterdae: 7 vm–5 nm en Sondae: 9 vm–1 nm. Skakel 012-480-2094/6 of 012-480-0211/0191; e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.newlandsgardencentre.co.za.

JP Conradie Boerdery

JP Conradie Boerdery bied ‘n verskeidenheid organiese produkte vir ‘n gesonde tuin asook klipprodukte – brekermengsels – om elke hoekie van jou tuinparadys te verfraai. Daar is kompos, gesifte braaikuikenmis, gesifte mis, ideaal vir grasperke en beddings wat ‘n hupstoot kort, fyn gesifte mis met bogrond gemeng, wat baie voeding bied en ideaal vir ‘n grasbolaag is, en landskapgrond, wat baie voeding bied en goed is om blombeddings mee aan te vul of om ‘n area mee gelyk te maak of hoër te lig voor kitsgras geplant of tuin gemaak word. Jy kan ‘n uitstappie na die plaas Boschkop onderneem, maar hulle lewer ook af. Skakel 079-527-7079. Koördinate: -25.920504 en 28.600459.

Raak betrokke
In jou vrye tyd kan jy help om ‘n beter lewe te skep vir die Bronberg-gebied se mense en diere. Ons wys jou waar vrywilligers se hulp nodig is by uitreikaksies, tehuise, weeshuise en dierereddingsentrums.

Qumi Huis 

“Talitha qumi” beteken “dogtertjie, staan op”. Qumi Huis help gestremdes om op te staan deur dagsorg en inwoning by huise in Rayton sowel as op ‘n plaas net buite die dorp te bied. Dagsorg is in die Hervormde kerksaal. Dié gemeenskapsprojek is nie ’n inrigting nie, maar huise waar die intellektueel gestremde soos ’n normale mens kan woon en funksioneer. Inwoners is self vir die bedryf van die huis verantwoordelik met die hulp van toesighoudende personeel. Hulle neem daagliks aan werkswinkels deel, waar hulle vaardighede aanleer. Skakel 012-734-5242 of 071-609-1070; e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

NG Tygerpoort Gemeente

Tygerpoort Gemeente is ‘n gemeente “nie ter wille van onsself nie” en is daarom op verskeie maniere by die gemeenskap in die ooste van Pretoria betrokke. ‘n Bybelskool bied geleentheid om dieper in die Bybel te delf, Wilgers Hospitaalbediening ondersteun pasiënte met kort besoekies en daar is uitreike na Wet Nose, Boschkop Primary, Paul Jungnickelhuis en Kungwini Welsynorganisasie. Tiertjie Kleuter-en Naskoolsentrum lewer ‘n bekostigbare diens aan die gemeenskap terwyl Tygerpoort Kunsskool professionele onderrig in verskeie vorme van musiek, dans, drama en skeppende kuns bied. Donderdae kan volwassenes hulle lees-, skryf- en naaldwerkvaardighede opknap. Die gemeente poog ook om in individuele aanbiddingsbehoeftes te voorsien met die verskeidenheid eredienste wat Sondae aangebied word. Skakel gerus by Tygerpoort-gemeente in – daar waar mense vriendelik ontvang word en gou tuis voel. Besoek www.ngtyger.com vir meer inligting of skakel 012-809-0107 in die voormiddag.

Wet Nose Dierereddingsentrum 

Wet Nose is ‘n reg-tot-lewe dierereddingsentrum waar elke dier liefdevol versorg word tot ‘n goeie huis gevind kan word, maak nie saak hoe lank dit neem nie. Hier is ’n veilige hawe vir perde, honde, katte en plaasdiere. Vrywilligers is altyd nodig om te help – of dit nou is om ’n hond vir ’n wandeling te neem of om vir getraumatiseerde diere te help wys dat hulle mense weer kan vertrou. Wet Nose is op plot 75, Vaalbank op die ou Bronkhorstspruitpad. Dit is ongeveer 6 km van die vierrigting stop kruising met die Cullinan/ Rayton-pad. Skakel 013-932-3941/2/6 of die noodnommer, 082-677-8084; e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it  of besoek https://wetnose.co.za.  

Kungwini Welsynsorganisasie

Kungwini Welsynsorganisasie (KWO) se reis het in 1983 met die Paul Jungnickelhuis vir volwassenes met gestremdhede begin. Al KWO se welsynsprojekte het oor die jare uit dié tuiste gegroei. Daar is die Kungwini Kinderhuis vir tieners met intellektuele gestremdhede, die Kungwini Leersentrums waar kinders onderrig ontvang, en die Kungwini gemeenskapsprojekte waar ontwikkelings- en maatskaplike dienste gelewer word. KWO is op plot 214, Lynnwoodweg-verlenging, Zwavelpoort. Skakel 012-940-0221; e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.kwo.org.za.

African Blessings

Daar is ’n perde- en donkie-reddingsentrum, gemeenskapsdiens vir troeteldiere, ‘n byeboerdery-projek, kostuine, ’n kunssentrum, plekke van veiligheid en die Jochebed Kinderdorp by African Blessings. Dié welsynsorganisasie skep ‘n beter lewe vir twee- en viervoetige wesies op die plaas Rustfontein buite Bronkhorstspruit. Die plaas word bereik deur met die N4 na Bronkhorstspruit te ry. Neem die Ekandustria-afrit. Die derde pad na regs is die R513 waarop die plaas geleë is. Skakel 082-520-7040, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . of besoek www.africanblessings.co.za. 

 

© 2018 Die/The Bronberger