Oom Paul se buurman was ook ‘n president Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 26 March 2018 16:38
Untitled Document

Angie Kleijn

Paul Kruger se buurman was, net soos hy, ook ‘n president van ‘n onafhanklike Boererepubliek. In die huis net oos van dit wat ons vandag as die Krugerhuis-museum ken, het Gert van Niekerk, vroeër die eerste en enigste president van die Republiek van Stellaland, tot die dag van sy dood gewoon.

Gert was maar 47 jaar oud toe hy op 23 Oktober 1896 dood is. In dié beperkte aantal jare het hy ‘n republiek gestig wat sy eie vlag, wapen en posseëls gehad het. Hy en ‘n paar ander boere het die grond bekom deur hulle as huursoldate in ‘n stamoorlog uit te verhuur. Sy republiek het tot ‘n einde gekom omdat dit in die pad gestaan het van die stigter van De Beers Diamantmynmaatskappy se droom van ‘n spoorlyn tussen die Kaap en Kairo.


Gerrit Jacobus van Niekerk
Foto: Geni

Gebore
Gerrit Jacobus van Niekerk is op 6 Julie 1849 op Poortjie, Fauresmith in die Vrystaat gebore. Hy was die seun van Johannes Anthonie van Niekerk en Martha Maria, ‘n nooi Van Heerden.

Gert is met Hester Cecilia Roos getroud en hulle het 10 kinders gehad. Die oudste seun, Johannes Antonie (Oubaas) van Niekerk, is in 1870 op die familieplaas Niekerksrust naby Schweizer-Reneke gebore.

Omdat sy pa soveel vergaderings in Pretoria moes bywoon, het Oubaas baie van die boerdery se verantwoordelikhede op sy skouers geneem. Hy was ‘n bedrewe perderuiter en Oubaas en sy ma, Hester, wat bekendheid as baasskut verwerf het, het graag saam skyfgeskiet.


Gerrit Jacobus van Niekerk en sy vrou Hester Cecilia, ‘n nooi Roos
Foto: Geni

Die gesin het later naby Christiana op die plaas Kromellemboog, wat vandag die kern van ‘n besproeiingskema is, gebly.

Gert was baie trots op sy oudste seun en die familie het gesê dat dit ‘n bestiering was dat hy self nie meer geleef het nie toe Oubaas op 30-jarige ouderdom in die Engelse Oorlog dood is. Oubaas is op 20 Desember 1900 by Paardeberg dood en was kommandant van die Transvaalse Polisiediens se grenskommissie. Hy het waarskynlik ‘n lid van die polisie geword kort ná sy pa, Gert, in 1892 as polisiekommissaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aangestel is en die gesin langs Paul Kruger in Pretoria gaan woon het.


Die huis op erf 309 Kerkstraat, tussen Potgieter- en Schubartstraat, waar Gert van Niekerk as kommissaris van die ZAR Polisiedienste langs Paul Kruger gewoon het
Bron: Rosa Swanepoel

Oubaas was 12 jaar oud toe sy pa Stellaland op 26 Julie 1882 as onafhanklike republiek uitgeroep het. Die naam ‘Stella’ kom van die Latynse woord vir ster en is glo gekies omdat ‘n komeet in die nag van die gevegte, wat aanleiding tot die stigting van die republiek gegee het, gesien is.


Gert en Hester se dogters, van links na regs, agter: Jacoba Aletta (Kotie) Minnaar; en Martha Maria De Jager. Voor: Johanna Catherina Henriettha Slabbert; Hester Cecilia van Ravenswaay; en Anna Margaretha Sophia Jelleman
Foto: Geni

Konflik
Dié republiek in die noordelike deel van die destydse Kaapkolonie het ontstaan ná boere by ’n konflik tussen twee swart stamme, die Batlaping en die Korannas, betrokke geraak het. Altwee stamme het wit huursoldate gewerf en David Massouw, leier van die Korannas, het plase aan die boere beloof.

Die konflik is in Julie 1882 beëindig en 416 van die boere wat plase gekry het, het hulleself as vryburgers beskou en Vryburg, die hoofdorp, uitgelê op ’n plek wat die Tswanas ‘Huhudi’ (lopende water) genoem het.


Republiek van Stellaland ‘Gouvernements Zegel – Een Shilling Zes Pence’
Foto: IB RedGuy's Fine Stamps

Een penny posseël van Stellaland
Foto: Wikipedia
.

Stellaland was 15 500 vierkante kilometer groot en het ‘n inwonertal van 20 500 mense gehad. Dié naam word vandag steeds gebruik om die streek aan te dui wat die dorpe Vryburg, Stella en Reivilo insluit, asook kleiner plekke soos Vorstershoop, Bray, Tosca en Kameel.

Oor die jare het die soutpanne by Stella bekende ontdekkingsreisigers en sendeling-besoekers, soos David Livingston en Robert Moffat, gehad. Daar was ‘n Fincham-familie wat by die soutpanne gebly het. Alfred Ernest Fincham het met Elizabeth Ellen, ‘n nooi West getrou en het hulle plaas Lonely Hill genoem.


Die groot soutpan buite Stella is vroeër deur ontdekkingsreisigers en sendelinge soos David Livingstone en Robert Moffat besoek
Foto: De Oude Huize

Later jare het hulle sout op die trein gelaai by Kameel-stasie, wat sy naam gekry het omdat die polisiemanne op kamele gery het.

Die spoorlyn tussen Vryburg en Mafikeng is eers in 1894 gebou, ná Stellaland nie meer bestaan het nie, maar dit was die plan van ‘n toekomstige spoorlyn wat bygedra het tot die vernietiging van dié republiek. Cecil John Rhodes, wat in 1890 die Kaapkolonie se eerste minister geword het, het toentertyd reeds ‘n droom gehad om ’n spoorlyn van die Kaap na Kairo te bou, en hy wou hê dat dit deur Stellaland moes loop. Hy het die De Beers Diamantmynmaatskappy in 1880 gestig en wou ‘n treinroete noord laat loop sonder om deur die ZAR se grondgebied te gaan.


Gert van Niekerk se graf in Pretoria
Foto: eGGSA

Grondwet
Stellaland het op 23 Februarie 1883 ’n volksraad in plek gestel en die ZAR-grondwet is aanvaar. Dié republiek het minstens drie vlae gehad: ‘n Blou vlag met ’n rooi ster; ‘n Groen vlag met ’n wit ster; en ’n groen vlag met die staatswapen, wat slegs deur die bestuur gebruik is en as die ‘standaard’ bekend gestaan het.

Dié ‘standaard’ is in 1885 aan koningin Victoria gestuur en is baie jare later, in 1934, deur koning George V na Suid-Afrika terug gebring.


Alfred Ernest Fincham en Elizabeth Ellen, ‘n nooi West, het op die plaas Lonely Hill by
die soutpanne buite Stella gewoon
Foto: De Oude Huize

Daar is ook die raaisel van ‘n heel ander vlag – een van groen en rooi met ’n agtpuntige wit ster daarop, wat sedert die middel van die 1900’s in verskeie tydskrifte en boeke as die Stellalandse vlag voorgegee is. Dié vlag is van onbekende herkoms.

Stellaland het in Februarie 1884 sy eie posseëls uitgegee, met vyf verskillende waardes. Dié seëls is vandag baie skaars en sommige eksemplare is meer as R5 000 werd.


Kaart van Stellaland en omliggende gebied
Foto: Wikipedia

Goosen
Stellaland  het op 6 Augustus 1883 verenig met die naburige Republiek Goosen, vernoem na die Bybelse Land van Goosen, om die Verenigde State van Stellaland of Stellaland en Het Land Goosen te vorm. Goosen was in ‘n deel van Brits-Betsjoeanaland en sy hoofsetel was Rooigrond, aan die ZAR se westelike grens.

Dié republiek is op 24 Oktober 1882 deur Nicolaas Claudius Gey van Pittius, met die goedkeuring van hoofman Moshette, gestig. Goosen was 10 400 vierkante kilometer groot, met 17 000 inwoners.

In sy kort geskiedenis het dié Verenigde State ‘n fokuspunt vir die konflik tussen die Britte en die ZAR geword. Hulle wou met die ZAR verenig, maar die Britse regering het enige uitbreiding van die ZAR teengestaan en wou hê dat die westelike grens gehandhaaf moet word sodat hulle treinspoor deur dié gebied kon loop.


Die groen en rooi vlag met ’n agtpuntige wit ster wat later as die Stellalandse vlag voorgegee is, is eintlik van onbekende herkoms
Foto: Huisgenoot 1949

Wapen van Stellaland – “Gewapend en regvaardig”
Foto: Wikipedia
.

Boonop het Gert van Niekerk se regering belasting op handel deur die gebied begin hef en Rhodes het besef dat dit hom en die Britte geld gaan kos.

Die Britte, onder aanvoering van Sir Charles Warren, het Stellaland in Desember 1884 binnegeval en het die republiek in Augustus 1885 nietig verklaar. Stellaland is daardie September by die destydse Britse Protektoraat (Brits-Betsjoeanaland) ingelyf. Dié gebied het in 1895, toe Gert reeds polisiekommissaris in Pretoria was, deel van die Kaapkolonie geword.

Gert se Pretoria-huis op erf 309 Kerkstraat, tussen Potgieter- en Schubartstraat, was glo Paul Kruger se eerste erf in die dorp. Hy het die erf vir 12 pond uit Lucas Bronkhorst se boedel gekoop en het dit in 1875 vir 16 pond aan Moritz Dietrich verkoop.

Ignatius Ferreira het die erf in 1888 gekoop en ná hom het dit aan JW Mogg behoort. Die ZAR-regering het die erf in 1896 as polisiehoofkwartier gekoop. Intussen was dit reeds in gebruik deur Gert van Niekerk, wat in 1892 kommissaris van die ZAR Polisiedienste geword het.


Vryburg se koerant se naam is steeds Stellalander
Foto: Pathfinda

Republieke
Tussen 1795 en 1886 is 16 republieke op Suid-Afrikaanse grondgebied gestig:

  1. Republiek van die Vereenigde Nederlande (Graaff-Reinette en Swellendam): 1795.
  2. Republiek Natalia (De Vrije Provincie van Nieuw Holland in Zuid-Oost Afrika): 1838–1843.
  3. Republiek Potchefstroom-Winburg: 1844–1852.
  4. Republiek Ohrigstad (Maatschappij der Zuid-Hollandsche Emigranten binnen de 26ste Graad Zuider-Breedte agter de Portugeesche Havens): 1845–1849.
  5. Kliprivier Republiek: 1847.
  6. Republiek Zoutpansberg: 1848–1852 en 1857–1858.
  7. Republiek Lydenburg (Vereenigde Bond van het geheele Maatschappij aan deze zyde van Vaalrivier): 1849–1852 en 1857–1860.
  8. Zuid-Afrikaansche Republiek: 1852–1877 en 1881–1902.
  9. Republiek Oranje Vrijstaat: 1854–1902.
  10. Republiek Utrecht (Ou Republiek): 1856–1858.
  11. Republiek van Upingtonia in die suide van Angola (in 1886 is Upingtonia se naam na Lijdensrust verander): 1885–1887.
  12.  Republiek Goosen (Het Land Goosen): 1882–1885.
  13. Republiek Stellaland: 1883–1885.
  14. Republiek Vryheid (Nieuwe Republiek): 1884–1888.
  15. Republiek Klein Vrystaat: 1886–1892.
 

© 2024 Die/The Bronberger