Mooiplaats-moorde glo polities gemotiveerd PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 20 April 2009 14:35
Untitled Document

Ses maande voor die wrede moord van Johan en Cobi van den Bosch op hulle Mooiplaatsplot, het die polisie ’n plaaswerker wat glo by hulle ingebreek en R15 000 gesteel het, vrygelaat. Die verdagte is op dieselfde dag van sy arrestasie vrygelaat en die saak is glo nooit verder ondersoek nie.

Destyds het die Van den Bosche se seun die polisie van Boschkop gewaarsku dat die inbrekers weer binne ses maande sal toeslaan. Die seun het toe voorspel dat dit veel erger gevolge kan hê as die booswigte weer terugkom.

In die vroeë oggendure van Goeie Vrydag het die seun, wat om veiligheidsredes nie sy naam genoem wil hê nie, op sy ouers se liggame afgekom. Johan is by sy melkstalle met ’n swaar voorwerp oor die kop geslaan. Die rowers het die huissleutels en sy knipmes uit sy sak gehaal en sy vrou, Cobi, in hulle woonhuis doodgesteek.

Net twee selfone word vermis en dit blyk of roof nie die motief vir die moorde was nie.

Volgens die president van die Transvaalse Landou-unie, Ben Marais, is die plaasmoord nog een van vele voorbeelde van rassemoord en is dit polities gemotiveerd.

“Weereens word die indruk gelaat (deur die polisie) dat gewone misdaad die motief vir die moorde was, maar die patroon wat gevolg is dui duidelik op etniese suiwering,” het hy gesê.

Die egpaar se skoonseun, T Schinkel van Randburg, sê die familie glo ook nie dat roof die motief vir die moord was nie.

Vier mans is die Saterdag ná die moorde in verband met ’n ander voorval (poging tot moord) in die omgewing vasgetrek. Die polisie het aanvanklik vermoed die verdagtes kan met die Van den Bosch-moorde verbind word, maar dit het ná ondervraging geblyk om nie die geval te wees nie.

Johan en Jacobi van den Bosch het in 1982 uit Nederland na Suid-Afrika geëmigreer waar hulle ’n melkery op hoewe 261 Mooiplaats gevestig het.

Hulle het nog sterk bande met hulle land van oorsprong gehad waar drie van hulle twaalf kinders nog woon.

Gebede is oor die Paasnaweek in verskeie Gereformeerde kerke in die provinsie Utrecht in Nederland gedoen toe die nuus van die moorde daar bekend word. Die egpaar is op Vrydag 17 April vanuit die Gereformeerde kerk, Wapadrand begrawe.


Johan van den Bosch en sy vrou, Cobi
Foto: Beeld

 

 

 

© 2019 Die/The Bronberger