Plotkoors lok hulle 50 jaar gelede Tierpoort toe PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 26 March 2018 14:38
Untitled Document

Anton Jansen en Hendrik ver Loren van Themaat se nostalgiese terugblikke in Die Bronberger se Januarie- en Februarie-uitgawes het Runa-Marie en Connie Jonker laat terugdink aan hulle beginjare op Tierpoort. Runa-Marie vertel en wys met ou skyfies hoe die wêreld aan die voet van die Bronberg in die 1960’s en 70’s gelyk het. Sy praat oor plotkoors, toiletloosheid en inluister-fone.

Runa-Marie Jonker

Ons verbintenis met Tiegerpoort het in 1968 begin toe my man, Connie, se ouer broer Wim ’n eiendom hier gekoop het. In Oktober 1968, die maand wat ons getroud is, het die plot langsaan in die mark gekom en Connie het dit op afbetaling teen R2 000 gekoop.

Wim het ‘n boorgat op sy plot gesink en sterk water gekry. Die water is uitgepomp met ‘n ses perdekrag Listerenjin en ons het ook vir ‘n paar jaar van die water gebruik, totdat ons water vanaf ‘n windpomp begin kry het.

Die twee Jonkerbroers het in die aande – ná hulle in die dag by die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde gewerk het en aandklasse by Tuks bygewoon het – uitgery na die twee plotte en dan by voertuigligte die eiendomme tot bitter laat in die nag met doringdraad omhein. Netjies met “standards” en “droppers” – alles afkomstig van Yskor.


1969:
Connie wys sy aanstaande skoonfamilie die plot. Die onbeboude Zwavelpoort is in die agtergrond

Die twee broers kry toe plotkoors en besluit ons gaan plot toe trek. Ons twee vrouens het geweier om hier te kom bly tensy daar ‘n spoeltoilet was, wat toe onder die watertenkstaander op die grens van die twee plotte opgerig is.

In 1971 is daar begin met die bou van motorhuise op die twee plotte en ons het aan die einde van Augustus verhuis. Ons gesin van drie het in ‘n enkel motorhuis ingetrek, en Wim-hulle, wat ‘n peuter en ‘n baba gehad het, na ‘n dubbel motorhuis. Die meeste van ons goed is vir ‘n klomp maande by ‘n tante van my gestoor.

Die plotte het geen elektrisiteit gehad nie en ons motorhuis geen badkamergeriewe nie. Die toiletloosheid het natuurlik snags probleme veroorsaak indien ek moes gaan. Ons oudste, wat ‘n baba was, kon nie alleen agterbly nie en ek was te bang om alleen te gaan. Dus word die slapende baba in ‘n Volla gelaai en die draai gery.

Ons badgeriewe was ‘n groot sinkbad en ons baba is in ‘n groot emmer gebad. Ons het kos en water op ‘n tweeplaat gasstofie gekook – ook vir bad en skottelgoed was. Ek het die minimum eetgerei uitgehou en kuiermense moes hulle eie saambring.


2018:
Zwavelpoort en Mooikloof

Ons het vir tien maande lank so ‘gekamp’. Dit was moeilik om vars produkte vars te hou en ons het eers ‘n verkoeler gemaak en gebruik wat met “fly ash” tussen kuikendraad gevul was en dan nat gehou is. Ons het egter baie gou ‘n paraffien vrieskas gekoop.

Ons het intussen ons huis se eerste fase gebou en het in Junie 1972 daar ingetrek. Wat ‘n luukse was dit om weer ‘n toilet en ‘n badkamer in die huis te hê.

Die eerste drie jaar het daar min mense in ons omgewing gewoon. Ons direkte bure in Nkweweg was Ronnie van der Walt en sy skoonouers – die Taylors. In Luiperdstraat het ons, Wim en sy gesin, die van Rensburghs, du Plessis’s, Bezuidenhouts en Pauls gebly. Later het die McCrindles in Tierweg bygekom.

In Taustraat het van der Woudes en Bothas gebly. In Leribisistraat het twee gesinne Steenkamp gebly. Wim en sy gesin het in 1974 verhuis en daar het toe Van der Merwes ingetrek en die Lindhouts het in 1978 die eiendom gekoop. In die vroeë tagtigs het die Van Dyks in Tierweg ingetrek.

Die omgewing het min bome gehad en veral nie so baie swart wattlebome soos vandag nie. Ons het so deur die jare met die skyfiekamera foto’s geneem en kon toe tot baie ver afneem. Vandag is dit moeilik om ‘n ver foto te neem.


1974:
Die bult tussen Luiperd- en Taustrate

Verder van ons af was daar die legendariese Flip en Elize Moolman. Die ou Tierpoort-winkel is deur Elize met ‘n ysterhand en ‘n sagte hart bedryf. Ek sal altyd onthou hoe sy – toe ons in September 1977 ‘n onverwagse sneeuval gehad het – die verkluimde swart kindertjies by die koolstoof warm gemaak het en met warm slapskyfies gevoer het.

Op die plaas wat tot onlangs nog as Bronberg Melkery bekend gestaan het, was daar jare lank ‘n skool vir die swart kinders van die omgewing. Dit het later verskuif na wat vandag Mooikloof View is – oorkant Belofte.

In 1975 het Tierpoort ‘n semi-outomatiese telefoonstelsel met vyf gebruikers op ‘n lyn gekry; elkeen met sy eie lui-toon. Dit het ongelukkig nog gebeur dat mense inluister. Teen ongeveer 1979 is enkellyne ingestel.

Tierpoort het aan die einde van 1976 / begin 1977 elektrisiteit gekry. Wat ‘n vreugde. Nou kon ons weer al ons elektriese toebehore uit die verpakkings haal waar dit gebêre was en die Hoover-wasmasjien van die Briggs & Stratton motor afhaal. Die tyd van “manpower” en “elbow grease” was verby!

Intussen het ons gesin teen 1979 met nog twee seuns en ‘n dogter aangegroei en hulle het ‘n baie gesonde leefwyse hier in die natuur gehad. Kalfies en lammers se geboortes gesien, geweet waar melk vandaan kom, vars eiers onder die henne uitgehaal, die hartseer van die dood van hanslammers verwerk en floreer op vars groente en vrugte, plaasbotter, melk en tuisgemaakte volroom roomys en baie skoon, vars lug en die skaars kommoditeit van vandag – stilte. 


2018:
Die sig na Taustraat

Ons huis is in 1975 voltooi maar so met die jare het nog aanbouings gevolg. So het ook nog motorhuise en afdakke bygekom.

Ons is mense wat alles self doen (veral my ou man) en ons het baie geleer oor bouery, bees- en skaapboerdery, hoe om  koeie te melk, kalwers groot te maak, operasies op beeste in die veld, saam met die veearts, bie op vendusies (vrou tussen die boere), trekker-bestuur en gras-baal, tuinmaak, groentekweek, motorsherstel, voertuie sleep, siek diere dokter, kunsmatige inseminasies op koeie doen, konfyte kook, die inmaak en vries van groente en vrugte en selfs wynmaak.

Ons geniet dit nog hier op die plot, al moes ons deur die jare ons sekuriteit opskerp. Die pragtige voëls, kleinwild en veldblomme wat ons hier het, is daagliks vir ons ‘n plesier.

Nou hang die swaard oor ons koppe van die paaie wat reg oor ons erf loop. Ons troos ons daaraan dat hulle al vanaf 1976 praat oor die paaie. Gelukkig het ons nie ons lewens op ys gesit nie.

 

© 2018 Die/The Bronberger