Dodelike draadsitter duik só PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 26 March 2018 14:29
Untitled Document

Die blouvalk is sekerlik die bekendste draadsitter in ons kontrei. Hy spandeer die grootste deel van die dag op kragpale, drade of in dooie bome en soms op rotse as uitkykpunte op soek na prooi.

Dié valkies word uitgeken aan hulle kenmerkende vlugpatroon as hulle op prooi afduik. Duik is dalk die verkeerde woord want die hele roetine is baie grasieus. Die blouvalk lig homself uit sy uitkykplek en daal dan geleidelik af gras se kant toe met sy vlerke regop bo sy rug uitgehou. Hy verander gereeld die hoek van sy vlerke om die spoed van sy duik te beheer. As hy ‘n meter of so bokant die grond is, hou hy sy vlerke penorent in die lug vir ‘n vinnige duikslag.

Die blouvalk, Elanus caeruleus, is ‘n klein rooi-oog valkie met lang, gepunte vlerke en sy stert is vierkantig. Sy gevoude vlerke strek verby sy stert as hy sit, en hy beweeg sy stert gereeld op en af terwyl hy vir prooi wag. Hy is grys en wit met swart op sy skouers en het ‘n klein snawel en kloue.

Mannetjies en wyfies lyk eenders. Onvolwassenes het rooibruin vere aan die bokant en op die bors en hulle oë is donker.

Die blouvalk kom nie net in Suid-Afrika voor nie. Hy kan regoor die hele sub-Sahara streek van Afrika gevind word en ook in suid-wes Arabië, Pakistan, Indië, suidelike Sjina, Indonesië, die Maleise skiereiland en suidelike Iberiese skiereiland.

Die voël migreer glad nie. Die grootte van ‘n blouvalk se gebied word deur die beskikbaarheid van prooi bepaal – hoe meer prooi, hoe kleiner elke blouvalk se gebied.

Hy verkies grasland en vreet hoofsaaklik knaagdiere. Hy sal egter ook vlermuise, beseerde voëls, akkedisse, klein slange en paddas asook groter insekte soos krieke en sprinkane vreet.


‘n Broeipaar met ‘n knaagdierprooi
Foto’s: Wikipedia

Stil
Die blouvalk is gewoonlik ‘n stil voël, maar hy kan ‘n aantal sagte fluitgeluide maak. Hy maak ‘n melodieuse ‘wiep-wiep’ geluid, ‘n huilende soort ‘pieu-ieu’ by sy nes, en as hy vlieg maak hy ‘n ‘plie-wit-plie-wit’ geluid wat met prooi of ‘n alarmroep geassosieer word. As hy ander voëls aanval maak hy ‘n reeks kras fluitgeluide.

Die blouvalk slaap in die aande in ‘n boom en is een van die eerste voëls om in die oggende te begin vlieg. Hy vlieg laag en ‘n bietjie stadiger as ander klein valke oor graslande en kan in die lug hang.
Blouvalke kom in paartjies voor en alhoewel hulle nie saam jag nie, is hulle nooit ver van mekaar af nie.

Partykeer kan groepe van 15 tot 35, en tot 120 in Europa, buite die broeiseisoen in dieselfde boom slaap.


Die blouvalk verander gereeld die hoek van sy vlerke om sy duik-spoed te beheer

Broei
Die blouvalk is een van die min valksoorte wat soms meer as een keer in ‘n seisoen sal broei. Hulle bou ‘n nuwe nes vir die tweede broeisel. Die nes is ‘n plat, klein, ligte struktuur van dun takkies wat losserig saamgeflans is in die bo-punt van ‘n boom. Die mannetjie en wyfie bou saam aan die nes – die mannetjie bring die meeste van die materiaal, wat dan deur die wyfie in die nes ingebou word.

Die nes is ’n los platform van takkies waarin drie tot vyf roomkleurige eiers met diep rooi kolle gelê word. Die wyfie lê die eiers met tussenposes van twee tot drie dae. Altwee ouers broei, maar wanneer die kuikens ná 25 tot 28 dae begin uitbroei, spandeer die mannetjie meer tyd om kos te soek.

Die kuikens broei met tussenposes van twee tot drie dae uit en alhoewel die ouer kuikens baie groter is, is hulle nie aggressief teenoor die jongeres nie. Hulle begin ná 12 tot 14 dae veertjies kry en is op 21 dae ten volle geveer.

Nadat die kuikens hulle vere gekry het, is hulle vir ’n verdere 80 dae steeds afhanklik van hulle ouers. Hulle is gereed om te vlieg as hulle 30 tot 35 dae oud is. Terwyl die kuikens klein is, sal die mannetjie prooi vir hulle bring. Soos hulle ouer word, begin die wyfie weer jag en bring sy die meeste kos vir die kuikens terwyl die mannetjie die nes oppas.

Tog is dit net die wyfie wat die kuikens voer, al bring die mannetjie die prooi. Sy voer hulle tot hulle omtrent 20 dae oud is. Daarna los sy die prooi in die nes sodat hulle dit self kan vreet.

 

© 2018 Die/The Bronberger