Subtiele medepligtigheid tot moord Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 20 April 2009 11:30
Untitled Document

Kan ’n regering en sy leiers aanspreeklik gehou word vir moord? Of kan hulle minstens voor ’n hof gedaag word as medepligtig tot moord of tot verantwoording geroep word oor die aanhitsing tot moord?

In die redelik onlangse geskiedenis het dit wel gebeur. Dit het gebeur nadat die maghebbers in ’n land genadeloos begin diskrimineer het teen ’n produktiewe minderheid in daardie land.

Dit het alles begin met die onverdoeselde diskriminasie teen daardie produktiewe minderheid. Dit het pos gevat as ’n stelsel wat ewe eufemisties ‘regverdige verteenwoordiging’ genoem is.

In die openbare sektor, die staatsdiens, plaaslike regering, sakesektor, universiteite en alle instellings wat die kruks van die land se samelewing gevorm het, is ’n ‘kwotastelsel’ in werking gestel. ’n Stelsel wat dit uitsluitlik ten doel gehad het om ontslae te raak van daardie minderheidsgroep wat, relatief gesproke, in verhouding tot die totale bevolking ‘oorverteenwoordig’ was in die werkplek en die markplek. Dit was landsbeleid. Klink dit bekend?

Ons praat van die beleid in vooroorlogse Nazi Duitsland. ’n Beleid wat deur die fanatiese leiers van daardie land se propagandamasjien tot in die wese van ’n meerderheidsgroep as ‘die waarheid’ en die ‘oplossing’ ingeprent is. Dit het drupsgewys begin, maar het uiteindelik gelei tot die vreeslikste volksmoord in die mens se geskiedenis. ’n Volksmoord wat vir die breingespoelde meerderheid ‘reg’ en geregverdig was en waaraan hulle meegedoen het omdat hulle geleidelik en doelgerig assulks deur hulle regering oortuig is.

Knap 70 jaar later is ‘transformasie’ die amptelike beleid van die regerende party in ons land. Sy verklaarde doelwit is eenvoudig en duidelik: om onverbloemd en ongenaakbaar teen die produktiewe, blanke minderheid in die land te diskrimineer.

Die geskiedenis is deurspek van voorbeelde waar die meerderheid oortuig word om teen produktiewe minderhede te draai. Vir gewetenlose politici is dit ’n gerieflike verskoning om hulle eie onbekwaamheid met opswepende en gewilde onwaarhede toe te verf.

Dit is maklik om dié wat nie het nie, daarvan te oortuig dat hulle gebrek aan die materiële iemand anders se skuld is. “Hulle het meer as julle omdat hulle van julle gesteel het.” ’n Gevaarlike politieke speelbal wat sedert dag een van die ‘nuwe Suid-Afrika’ sonder skroom gebruik word.

Een wat haat aanblaas en wat die boodskap duidelik uitstuur dat van die ‘skuldiges’ maar gesteel (teruggevat) mag word. Dit is geregverdig om hulle goed te vat en dit volg dat dit maar vir hulle lewens ook kan geld. Hulle is die vyand en sonder hulle sal dit mos beter gaan. Die voorbeeld is willens, of mag ons hoop, onwetend deur hulle demokraties verkose leiers en hulle verklaarde landbeleid gestel.

Op Goeie Vrydag is nog ’n produktiewe, blanke egpaar op hulle hoewe in Mooiplaats vermoor. Die motief was duidelik nie roof nie. Die moordenaars is nog op vrye voet en gemeet aan statistiek is die kanse goed dat hulle daar sal bly om hulle taak van etniese suiwering voort te sit. Sou dit nie wonderlik wees as ons minstens die medepligtiges tot verantwoording kon roep nie?

Met erkenning aan Pieter Schoombee, On the Contrary, Cape Business News.

 

© 2024 Die/The Bronberger