Loopvoël se vet speel glo klaar met jig PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 26 March 2018 14:15
Untitled Document

Emoes het oor die laaste dekade ‘n bekende gesig in Bronberg-wêreld se hoewegebied geword. Dié Australiese loopvoëls se vet is glo ‘n wondermiddel, maar as ‘n landboubedryf staan emoe-boerdery nog in sy kinderskoene en staar groot uitdagings in die gesig.

In die laat 1980’s het navorsers gevind dat Aboriginiese Australiërs nie rumatiek of jig kry nie omdat hulle genoeg emoevet inkry. Die navorsers het ook bevind dat hulle nie velkanker kry nie en die moontlikheid word ondersoek dat dit verband hou met die emoevet wat aangesmeer word.

Dié vet is vir seremoniële lyfversiering gebruik, word aan seerplekke en brandwonde gesmeer, en is ook ‘n smeermiddel vir gereedskap en implemente. Emoevet kan ’n mens se vel binnedring omdat dit nie fosfor bevat nie.

Dit is glo ‘n goeie soort vet met omega 3-, 7- en 9-vetsure, wat ernstige degenerasiesiektes vertraag, en wat die liggaam benodig om vitamiene te vervaardig. Dié vet is anti-inflammatories, anti-bakteries en ryk aan anti-oksidante.  

Emoevleis smaak glo nader aan rypgemaakte rooivleis as volstruis. Die vleis is 97% vetvry – die voël berg sy vet hoofsaaklik in sy krop en rug.


’n Emoe met ’n paar jongelinge
Foto’s: Wikipedia

Groot
Die emoe, Dromaius novaehollandiae, is die enigste oorlewende spesie van die genus Dromaius. Naas die volstruis is hy die tweede grootste lewende voël volgens hoogte. Emoes word 1,50 tot twee meter hoog en weeg tot 60 kg.

’n Emoe het ’n lang nek, skerp snawels en klein ore. Hulle het twee stelle ooglede, een om te knip en een om stof uit te hou.

Met hulle lang bene, gee hulle treë van tot 275 cm en kan oor kort ente tot 50 km/h hardloop. Selfs emoes se voete is lank. Daar is drie tone aan elke voet, een met ‘n lang nael wat gebruik word as hulle baklei.

Mannetjies en wyfies lyk eenders met grysbruin vere, maar die mannetjie is gewoonlik heelwat kleiner – hy is ook die enigste een wat vir die nesbou, broeiery en kuikens verantwoordelik is.


Die emoe in aanhouding

Broei
In die broeiseisoen kry die wyfie blou vel om haar nek en haar vere word donkerbruin. Sy loop rond en maak geraas om die mannetjie te wys sy is reg om te paar. Die mannetjie bou dan ‘n nes van gras, bas, stokke en blare en die wyfie lê elke tweede of derde dag ‘n groot groen eier met ‘n harde dop, wat ‘n halwe kilogram weeg. Tot twintig eiers kan gelê word.

Die mannetjie begin broei wanneer daar 10 tot 12 eiers in die nes is en in die broeitydperk van 53 dae vreet hy niks nie. Hy oorleef op sy vet, staan selde op om water te drink en draai die eiers omtrent tien keer ‘n dag om.

Intussen verlaat die wyfie hom en gaan na ’n volgende mannetjie vir bevrugting en begin weer eiers lê. Die mannetjie maak die kuikens alleen groot. Hulle is bedrywig sodra hulle uitbroei en kan die nes binne enkele dae verlaat, wanneer hulle maar net 25 cm groot is. Dié kuikens groei teen 1 kg per week en is teen 12 tot 14 maande volgroei. Hulle is op 18 tot 24 maande geslagsryp, verlaat dan die familie-groep en begin broei.


Die koddige manier waarop ‘n emoe sit

Trek
In die Australiese wildernis lewe emoes meestal alleen, alhoewel hulle in groter troppe kan voorkom. Hulle is opportunisties-nomadiese voëls wat agter die reën aantrek op soek na saad, blomme, vrugte en insekte, maar mag soms vir weke honger ly.

Emoes vreet klippies, glasskerwe en stukkies metaal om te help om hulle kos in die verteringstelsel fyn te maal. Hulle kan redelike hoeveelhede water inneem wanneer die geleentheid opduik. Hulle sal in water sit, swem en sal selfs riviere oorsteek.

Dié voëls slaap nie dwarsdeur die nag nie, maar in kort rukkies terwyl hulle op ‘n koddige manier plat op die grond sit. Dié is nuuskierige voëls wat ander diere en mense graag dophou. Hulle het verskillende geluide, soos ’n harde geboe, gedrom en kreun wat tot 2 km ver gehoor kan word. Mense sê dat die mannetjies geluide soos varke maak.


’n Emoe-kuiken

Aanhou
Emoes teel goed in aanhouding, en word in groot oop kampe gehou om been- en spysverteringsprobleme weens lae aktiwiteit te verhoed. Hulle word gewoonlik graan gevoer met groen weiding as byvoeding.

Daar word kommersieel met emoes geboer vir hulle olie, vleis, eiers, huide en selfs vere. Die eerste aanleg wat emoevet tot olie vir die farmaseutiese en skoonheidsbedryf verwerk is in Gauteng in werking gestel.

Van die uitdagings wat die plaaslike emoeboerdery in die gesig staar, is die vervoer van voëls na goedgekeurde slagpale, bemarking van emoe-produkte en die feit dat die aanbod van voëls die vraag na olie oortref.

 

© 2018 Die/The Bronberger