Spoordiewe ry treinrit weer in die wiele PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 26 March 2018 14:14
Untitled Document

Die historiese stoomtrein kon nie sy roete na Cullinan op 4 Maart voltooi nie. Bykans 150 meter se spoorstawe is weer gesteel en pret-passasiers is net voor Rayton gestrand.


Les Labuschagne van Friends of the Rail, regs, praat met Dumizulu Frank Nkwanyane waar die trein net voor Rayton gestrand gestaan het
Foto: Melany Muraour

Verlede maand het ons berig dat die stoomtrein ná bykans ‘n jaar op 11 Februarie vir die eerste keer weer met ‘n vrag toeriste op Cullinan se stasie ingestoom het. ‘n Skare het die trein op die stasie ingewag en ‘n amptelike lintknip-seremonie is gehou om die spoorlyn te open.


Die spoorlyn was onbegaanbaar ná die spoorstawe verlede jaar in Maart gesteel is
Foto: Verskaf

Die stoomtrein van Friends of the Rail het op 21 Maart 2017 omtrent vier kilometer buite Rayton met 500 passasiers aan boord, ontspoor ná omtrent 160 meter se spoorstawe gesteel is. Die afgelope jaar is besoekers tot op Rayton geneem met die trein en moes met busse van daar af tot Cullinan vervoer word.


Die trein op Cullinan se stasie in Februarie

Die eerste rit ná die spoorlyn weer geopen is, kon nie voltooi word nie en die trein is net buite Rayton deur Metrorail se onderhoudspan voorgekeer. Les Labuschagne van Friends of the Rail het sy teleurstelling en frustrasie uitgespreek dat die beplande verwelkoming op Cullinan-stasie nie kon gebeur nie. Hy het gesê dat dit hom tot droefenis stem dat hulle program om ‘n ekonomiese hupstoot aan Cullinan se sake-gemeenskap te gee, weer in die wiele gery is.

 

© 2018 Die/The Bronberger