Kyla en Mighty Star oorleef fratsongeluk PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 26 March 2018 14:14
Untitled Document

Die 16-jarige Kyla Rouvoet van Hoërskool Garsfontein het ‘n fratsongeluk oorleef ná haar perd, Mighty Star, op haar geval het. Kyla het stuiptrekkings gekry ná die ongeluk en is per helikopter na die MediClinic in Sandton geneem waar sy aan ‘n ventilator gekoppel is en gevrees is dat sy dalk breinskade het.

Die voorval het op 3 Maart gebeur by die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Ruiterkunsskole (Sanesa) byeenkoms by Eaton Farm naby Kyalami. Die Rouvoet-gesin besit Rocky View Stalle langs die Rayton/Cullinan afrit van die N4-Oos snelweg, op die Ou Bronkhorstspruitpad.


Kyla Rouvoet
Foto: Facebook

Kyla was op die negejarige Mighty Star se rug toe hy net voor die dresseer-kompetisie begin het, vir iets geskrik het en sy balans verloor het toe hy agteruit beweeg het. Kyla is in die MediClinic se waaksaal aan ‘n ventilator gekoppel en is onder verdowing gehou.


Kyla en Mighty Star
Foto: Verskaf

Sy het die dag daarna self begin asemhaal en CT-skandering het gewys dat sy geen breinbeserings opgedoen het nie. Daar is ook geen beenbreke nie. Volgens Kyla se pa, Steven Rouvoet, is daar nog die risiko van ‘n terugslag en sal Kyla vir die volgende ses maande behandeling ontvang om dit te voorkom.

Steven sê soos hy sy dogter ken sal sy gou weer op haar lieflingperd se rug klim. Mighty Star het nie seergekry nie. Kyla kan die voorval egter glad nie onthou nie weens erge skok.


Die helikopter land by die hospitaal
Foto: Verskaf

Kyla neem al sedert graad vyf aan die Sanesa-kompetisies deel en Steven sê sy is ‘n uiters mededingende en goeie ruiter. Sy ontvang haar beroepsperdry-afrigting by Rocky View. Hy sê dat dit nie duidelik is wat Mighty Star laat skrik het nie en beskryf hom as ‘n goed geskoolde perd. Die twee neem al vier jaar saam aan kompetisies deel en het verlede jaar die prix caprilli-kategorie gewen. Steve sê dat Kyla en Mighty Star ‘n hegte band het.

 

© 2018 Die/The Bronberger