Sammy gevind ná ongeluk waarin haar ounooi sterf PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 26 March 2018 14:13
Untitled Document

Sammy die foksterriër het mense se hartsnare geroer toe sy op Sondagaand 4 Maart ná ‘n grusame ongeluk op die Bronkhorstspruit-Bapsfonteinpad (R25) verdwyn het. Haar ounooi, Michelle Brits, is voor Sammy se oë dood en haar oubaas, Louis Esterhuizen, is ernstg beseer en met ‘n ambulans weggery.

Toe Michelle se ma, Zelda, op die ongelukstoneel aankom, was daar geen teken van Sammy nie. ‘n Grootskaalse soektog is op tou gesit ná Zelda gesê het dat Sammy die enigste iets is wat sy van haar kind oor het.


Louis Esterhuizen, Sammy and Michelle Brits
Foto: Facebook

Die soektog na Sammy met haar pienk halsbandjie het tot by Bapsfontein gestrek. ‘n Boer ‘n paar kilometer vanaf Bronkhorstspruit het Sammy naby sy opstal gesien en Sammy is in ‘n hondeskuiling opgeneem.

Zelda en Michelle se jonger sussie, Larisa, is die Woensdag na die skuiling toe om Sammy op te laai. ‘n Veearts het die gesin besoek en gesê dat Sammy geen gebreekte bene het nie. Zelda sê dat Sammy Michelle se lieflinghondjie was en oral saam met haar gegaan het.


Sammy was by ‘n dierereddingsentrum
Foto: Verskaf

Botsing
Die ongeluk het gebeur toe die jong paartjie op pad terug na Bronkhorstspruit was ná hulle Louis se 23ste verjaardag by sy ouers in Newcastle gevier het. Hulle was amper by die huis toe ‘n bakkie
12 km voor Bronkhorstspruit reg van voor teen Louis se voertuig gebots het. Die ongeluk was naby die weegbrug in die pad.

Die bakkie se bestuurder en ‘n vierjarige kind is ook in die ongeluk dood.
Die 20-jarige Michelle se ouers, Attie en Zelda, het die Sondagaand begin bekommerd raak toe Louis en Michelle nie opdaag nie. Hulle het geweet dat die paartjie eers ná 4 uur uit Newcastle gery het.

Michelle se ouers is eerste van die ongeluk in kennis gestel en het dadelik na die toneel gejaag. Louis was reeds in die ambulans gelaai en, volgens ’n vriendin van die familie het Zelda begin skree toe nooddienspersoneel haar nie by die motorwrak wou toelaat nie. Michelle was reeds dood. Sy het glo geslaap toe die ongeluk gebeur het – haar karsitplek was platgeslaan agtertoe.


Die 12-jarige Larisa Brits, Michelle se jonger sussie, met Sammy ná sy gevind is
Foto: Verskaf

Louis
Louis het talle gebreekte bene, veelvuldige interne beserings, waaronder lewer- en longbeserings, en moes bloedoortappings ontvang. Hy is nie op ‘n mediese fonds nie en talle mense het sy ouers se noodkreet om fondse vir ‘n noodoperasie in die Unitas-hospitaal beantwoord.

Michelle is op 9 Maart in Bronkhorstspruit begrawe.

Teen Die Bronberger se saktyd was Louis Esterhuizen nog in ‘n kritieke toestand.

 

© 2018 Die/The Bronberger