Die slim ding om te doen PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 26 March 2018 14:10
Untitled Document

Die terugkeer van Dinge-om-te-doen bring ons opnuut tot die dankbare besef dat die spil waarom die sukseswiel van die Bronnie draai, die wonderlike meelewing van sy adverteerders en lesers is.

Op bladsy 28 van hierdie uitgawe begin die gewildste tema-artikel in ons bykans 16 bestaansjare weer, ná ‘n afwesigheid van vier jaar. En dis net die deelname van ‘n gewaardeerde span adverteerders wat dit moontlik maak.

 Die Bronberger is ‘n onafhanklike publikasie (‘n erg bedreigde spesie) wat geheel en al van sy advertensie-inkomste vir sy voortbestaan afhanklik is. En dit is net deur die volgehoue ondersteuning en meelewing van ons leserskorps dat dié voortbestaan en groei ná 16 jaar nog moontlik is.

Bronnie-lesers het in die verlede reeds onteenseglik bewys dat hulle nie net hulle eie gemeenskapspublikasie met geesdriftige oorgawe ondersteun nie, maar ook die ondernemings wat die Bronnie as bemarkingsmedium gebruik. Ons staan diep dankbaar hieroor.

“Hoe lyk die ‘profiel’ van Die Bronberger se ‘deursneë leser”. Dit is die moeilike vraag wat sporadies deur advertensie-agentskappe gevra word as hulle ‘n advertensie in die Bronnie oorweeg.

Wat die agentskappe eintlik wil hoor, kan ons telkens sonder skroom antwoord: “Jou deursnee Bronberger-leser is iemand van bestendige of ‘hoër’ inkomste wat sy/haar koopkrag grootliks in die omgewing waar hy/sy woon, die Bronberg-gebied, aanwend.

Die gemiddelde Bronnie-leser is volwasse en besit die huis of hoewe waar hy of sy woon. Ons ‘leser’ het kinders of kleinkinders wat in een van die gebied se skole is. Hy/sy is lief vir ondermeer: tuinmaak, kuns, uitgaan, reis, sport, onthaal, braaivleis en kuier en is gek oor die buitelewe en die natuur. Hy/sy het ‘n liefde vir en is lojaal teenoor sy mense, sy land en nog meer só vir sy/haar onmiddellike omgewing – die Bronberg-gebied.

Die profiel wys ook ‘n gelowige, trotse en tradisievaste mens. Een met ‘n gesonde trots in sy herkoms en ‘n lewendige belangstelling in sy geskiedenis.

Ja, daar sit skop in ons lesers se koopkrag en dit is die deel van die profiel waarin die agentskappe veral belangstel. Maar die profiel wys ook ‘n mens wat ‘omgee’. Een wat omgee vir die natuur, sy/haar omgewing en vir die mense wat dit bewoon. Een wat maklik betrokke raak by welsyn, beveiliging en bewaring. Een wat ook trots is op die gebied se eie onafhanklike publikasie en dit deur meelewing en ondersteuning wys.

En ons hier by die Bronnie is trots op en eindeloos dankbaar teenoor die ‘mens’ wat ons ‘lesersprofiel’ opmaak. Want dit is hy/sy wat dit volhoudend bewys: ’n Advertensie in die Bronnie bly die slim ‘ding om te doen’

 

© 2018 Die/The Bronberger