Katte kan binne bly PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 26 March 2018 14:06
Untitled Document

Betsie Bruwer van Rayton skryf:
Ek wil net vir Swannie van Bronkhorstspruit sê katte kan binnenshuis gehou word. Ek en my dogter het vir agt jaar in ’n kompleks met 42 huise gebly. Die huise was ook naby aan mekaar.

Ons het ’n katjie gekry toe hy drie maande oud was. Op ses maande het ons hom laat steriliser. Elke middag om vyf uur het hy sy harnas en leiband aan gekry en dan het ons met hom gaan stap. Die mense was verbaas om ’n kat aan ’n leiband te sien stap. 

Dié meneer is nou 11 jaar oud en ons woon nou al drie jaar in ’n huis op Rayton en hy stap nog steeds elke middag aan sy leiband buite. Hy gebruik ’n sandbak met silikonsand wat geen reuke laat nie. Die sand word daagliks skoon geskep en dan word die sandbak in die son gesit om uit te droog. 

Verder stem ek met dr Liesel van der Merwe saam dat dit vir die dier en die eienaar baie traumaties is as hulle van mekaar moet afskeid neem.

Ek is ’n afgetrede verpleegsuster en ek het gesien hoe mens en dier oor mekaar treur en my dogter en ek het dit self ondervind. Ek was vir ’n paar dae in die hospitaal en elke aand het kat deur die huis geloop en na my gesoek en dan op my bed op die kussings gaan lê en slaap.

 

© 2018 Die/The Bronberger