Op die spoor van ‘n pennevoerder se herkoms Print E-mail
News - Toeka se dae
Saturday, 24 February 2018 13:44
Untitled Document

Angie Kleijn

Die geskiedenis ken hom as Voortrekker-onderwyser wat twee toekomstige presidente van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) opgevoed het. Die verdrag tussen Piet Retief en Dingaan is deur dié man in sy eie handskrif opgetrek. Hy het ‘n joernaal oor gebeure rondom die Slag van Bloedrivier geskryf. Sy beriggewing daaroor in ‘De Zuid Afrikaan’ is een van die belangrikste dokumente waarop latere geskiedkundiges hulle ontledings van gebeure gegrond het.


Jan Gerritze Bantjes, 1817–1887
Foto: Wikitree

Ná dié slag was dié pennevoerder sekretaris van die bevelvoerder van die Wenkommando teen die Zoeloes en het jare later ‘n draai in Pretoria gemaak toe hy as landdrosklerk en posmeester van die ZAR aangestel is.

Sy naam was Jan Bantjes en sy herkoms het in 2008 opspraak verwek toe joernalis Max du Preez gesê het: “Daar is ‘n kleurling in jou gelofte, oom!” Jan Bantjes se verhaal is een van dié wat die daaropvolgende jaar in Max se boek, ‘Of tricksters, tyrants and turncoats’, vertel is.

Die kwessie of die Voortrekkers afstammelinge van slawe aan die Kaap as ‘kleurlinge’ beskou het, is hewig gedebatteer want, sê die genealoë, baie Voortrekkers het juis so afgestam.


Die traktaat tussen Piet Retief en Dingaan
Foto: Wikitree

Die herrie oor Jan Bantjes se ‘bloed’ word glo gestaaf deur die Voortrekkers se nie-amptelike dominee, Erasmus Smit, se dagboekinskrywing op Zondag, 1 Jan. 1837: “De hr. De Klerk heeft ‘n schrander brein jonkman met zich medegebracht; en daar deze enige talenten heeft, verzocht ik hem in de kerk voor te lezen en te zingen. Hij voldeed mij zeer wel; zijn naam is Jan Bantjes . . .”

Die “schrander brein jonkman” is nie as ‘n intelligente jong man met ‘n skrander brein vertaal nie, maar as ‘n jong ‘bruin’ man. Later is dié Hollandse dagboek-inskrywing blatant as ‘n ‘kleurlingman’ in Afrikaans vertaal. Schalk W Jacobs skryf dat die Voortrekkers na kleurlinge as “basterds” verwys het en nie “bruinmense” nie.


‘Goudontdekker Bantjes se monument onthul’
Foto: Geni

Gebore
Die verhaal van Jan Bantjes se herkoms loop as volg: Jan Gerritze Bantjes is op 8 Julie 1817 in die Beaufort-distrik gebore. Ander rekords noem dit Nieuwveld in die distrik Graaff-Reinet.
Sy pa: Bernhard Louis Bantjes, gebore op 20 Julie 1788 in Stellenbosch, getroud met Isabella Johanna Adriana Swanepoel.
Sy oupa: Jan Gerrit (Jan Geersse) Bantjes, gebore in 1759 in Good Hope, Bo-Karoo. Hy is op
18 Maart 1759 gedoop en het op 7 Desember 1783 met Maria Adriana Vermeulen getrou.
Sy oupagrootjie: Jan Gerrit (Geerze of Geert Pantjes) Bantjes is op 24 Januarie 1734 in Winschoten, Groningen, Nederland gebore. Hy het in 1755 met die skip Stadwyk in die Kaap aangekom as ‘n junior offisier met die Hollands Oos-Indiese Kompanjie. Hy het glo gedros om in 1760 ‘n Kaapse burger te word.

Dié oupagrootjie was drie keer getroud en het agt kinders gehad: Die eerste keer, voor hy nog ‘n burger was, op 5 Maart 1758 met Hilletje Agnita Jacobs. Hulle het net een kind gehad – ons Voortrekker se oupa, Jan Gerrit.


Winschoten in die provinsie Groningen in Nederland, waar die Bantjes-stamvader vandaan gekom het
Foto: Wikipedia

Slawe
Hilletje, wat in 1737 gedoop is, was die dogter van Jan Jacobs en Anna Agnietie Pieters. Hulle is op
2 Januarie 1718 getroud. Anna was voorheen, in 1713, met Lourens van Ahrendtsdorf getroud.
Jan Jacobs is in 1685 gebore en in 1737 oorlede. Hy was die seun van Jacob van Macassar en Maria van Guinea, albei slawe.

Anna Agnietie Pieters is op 31 Julie 1695 gedoop en was die dogter van Andreas Pieters, afkomstig van Lubeck, Noord-Duitsland, gebore in 1675 en oorlede op 14 Desember 1713, en Maria Domingo, ‘n voormalige slavin, waarskynlik van Bengaalse afkoms.

Die slawe wat na die Kaap gebring is, was veral afkomstig van die eilande van Indonesië, Bengale in die noordooste van Indië (vandag Bangladesh), die kus van Koromandel in Suid-Indië, Maleisië, Madagaskar en die kuslande van Afrika.


Voortrekker-Jan se seun, Jan Gerritze Bantjes, 1843–1914
Foto: Wikitree

Stamvader Jan Gerrit Bantjes (1734–1782) wat van Winschoten, Groningen, Nederland gekom het
Foto: Geni

Die slawe van Bengale het na hulle vrystelling skynbaar die beste in die Kaapse samelewing gevaar en baie slavinne het met die vryburgers aan die Kaap getrou en stammoeders van bekende Afrikaanse vanne geword .

‘n Enkele voorbeeld is Ansiela van Bengale, een van die eerste drie vrygestelde slawe. Sy is met Arnoldus Basson getroud en het die stammoeder van die Basson-familie in Suid-Afrika geword. Toe sy nog ‘n slavin was, is haar dogter, Anna de Koning, uit ’n buite-egtelike verhouding met ’n Europeër gebore. Anna is met kaptein Oloff Bergh getroud en het op haar beurt die stammoeder van die Bergh-familie geword.


‘Joernaal van ’n trek – Uit die dagboek van Erasmus Smit’

Bantjes
Jan Bantjes, soos vele ander Voortrekkers die nasaat van dié vrygestelde slawe, het op Nuwejaarsdag 1837 saam met veldkornet Jacob de Klerk/Clercq se trekgroep vanaf die Beaufort-distrik by Thaba Nchu by die Groot Trek aangesluit.

Uit die staanspoor het hy onderrig aan Voortrekkerkinders begin gee en latere ZAR presidente, Paul Kruger en Marthinus Wessel Pretorius, se eerste lesse was in Jan Bantjes se ossewa.

Hy het die verdrag tussen Piet Retief en Dingaan opgetrek en dit was Jan wat die res van die Voortrekkers later moes gaan vertel dat Dingaan vir Piet Retief en van sy manne vermoor het. Hy was in daardie stadium Andries Pretorius, bevelvoerder van die Wenkommando teen die Zoeloes, se sekretaris.


Jan Bantjes was sekretaris van die bevelvoerder van die Wenkommando teen die Zoeloes, Andries Pretorius
Foto: Wikipedia

Jan was in die binnekring van die groep wat op 9 Desember 1838 by Waschbankspruit die gelofte aan God gemaak het. Hy het ‘n joernaal gehou, genaamd ‘Journal der Ekspeditie van de uitgewekene Boeren, onder hunnen Hoofd-Kommandant Andreas Wilhelmus Jacobus Pretorius, tegen Dingaan, Koning der Zulus, in de maand(en) November en December 1838’.

Dié joernaal het die gebeure rondom die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 beskryf. ‘n Jaar later het Jan breedvoerig oor die Gelofte en die Slag van Bloedrivier in ’n spesiale uitgawe van die tydskrif, ‘De Zuid-Afrikaan’, geskryf.

Jan se joernaal is later in boekformaat omskep, ‘Jan Gerritze Bantjes se joernaal oor die Slag van Bloedrivier’, as die nakoming van ‘n belofte. Die Voortrekkers het, as deel van die gelofte van Bloedrivier, onderneem om hulle oorwinning in ‘n boek op te teken.


Jan Bantjes se naam word op die gedenkteken van ‘Helde van Bloedrivier’ genoem
Foto: Wikitree

Trou
Hy is omstreeks in 1839 met Matthysina Germina Clasina Knoedzen, die weduwee van Jan Oosthuizen, getroud. Hulle het 11 kinders gehad.

Jan het in 1839 klerk van die volksraad in Pietermaritzburg geword en het ook as prokureur in die landdroshof begin praktiseer. Daarna het hy vir ‘n ruk ’n winkel in Prins Albert bestuur en was later die skoolmeester en voorleser van die NG Kerk op Humansdorp.

In 1855 was hy terug in Graaff-Reinet, en agt jaar later bevind hy hom in Pretoria as landdrosklerk en posmeester van die ZAR. Daarna was hy ook staatsaanklaer op Lichtenburg en skoolhoof op Ventersdorp.


Anna de Koning, wat met kaptein Oloff Bergh getroud is, se ma was ‘n slavin van Bengale
Foto:Transkripsies uit die VOC-verhaleskat’ deur Helena Liebenberg
.

Die Voortrekkers se nie-amptelike dominee, Erasmus Smit, wat met Gerrit Maritz se suster getroud was. Sy dagboek is ’n belangrike dokument van die Trek
Foto: Wikipedia
.

Veldkornet Jacob de Clercq, in wie se groep Jan Bantjes op Nuwejaarsdag 1837 by die Groot Trek aangesluit het
Foto: Voortrekker-Stamouers 1835-1845 deur Jan Visagie
.

Jan is in 1887 in die ouderdom van 70 jaar aan huis van sy seun, Jan Gerritse Bantjes, in Potchefstroom dood. ’n Jaar tevore het dié seun, wat met Anna Wilhelmina Swanepoel getroud was, een van die eerste prospekteerders geword om ‘n goudaar aan die Witwatersrand te dokumenteer.

Bantjes Deep, een van die goudmyne, is na hom vernoem en daar was ‘n brons standbeeld van hom by Floridameer, wat later verskuif is na Gold Reef City.


Jan Bantjes se verslag van die Wenkommando, Voortrekkerwetgewing en briewe van Pretorius is vervat in ‘Voortrekkermense 6’ deur Gustav Preller

Miljoene
Dit was ook dié seun wat ‘n mislukte poging aangewend het om die Bantjes-miljoene na te spoor. Die eerste Jan Gerrit Bantjes, ons Voortrekker-Jan se oupagrootjie, wat van Winschoten in Nederland gekom het, se pa het hom glo nooit vergewe dat hy uit die VOC gedros het om aan die Kaap te kom bly nie.

Dié Hollandse Jan was die enigste kind en sy pa het gehoop dat hy eendag sou terugkeer na Holland om die familie-onderneming te bestuur. In sy woede het die stinkryk pa ‘n vreemde testament opgestel.

Hy het Jan uitgesny en sy fortuin bemaak aan enige een van sy afstammelinge wat 100 jaar ná sy dood, nog lewe.


Die Slag van Bloedrivier
Bron: Herman Labuschagne

In 1894, 102 jaar na dié Hollandse Jan se dood, het ‘n kennisgewing in Suid-Afrikaanse koerante verskyn om ‘n oproep te maak op enige Bantjes-nasate, wat voel dat hulle ‘n wettige aanspraak op dié erfgeld kan maak. Die fortuin was glo in daardie stadium £10 000 000.

Prospekteerder-Jan is in 1914 op Potchefstroom oorlede, sonder om die fortuin te erf. Hy het 14 kinders gehad. Lede van die Bantjes-familie het tot in die 1930’s probeer aanspraak maak op die fortuin, wat glo in die skatkamers van die koningin van Nederland beland het.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger