Van plankvloer tot prentjiesplafon vol porselein PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 24 February 2018 11:43
Untitled Document

Francette Roux van Cullinan versamel al vir bykans 60 jaar lank porselein. Haar versameling strek van stukke uit die 1700’s, porselein uit die Britse koningshuis, kaste vol Royal Doulton-, Royal Worcester- en Dresden-beeldjies tot 58 Royal Albert-teestelle en ook verskeie ander stelle van Staffordshire, Aynsley, Royal Vale en pienk Pompadour.

Die versamel-gogga het Francette vroeg reeds gebyt en sy het haar eerste porselein op die ouderdom van 15 jaar in die Kaap gekoop. Dit was twee pienk kershouertjies, wat sy vandag nog het. Sy vertel dat sy aanvanklik begin het om pienk porselein, haar gunsteling kleur, bymekaar te maak.


’n Paar van Francette se 65 Royal Doulton-beeldjies

So het die ding gesneeubal tot die Rouxs se huis van plankvloer tot prentjiesplafon vol porselein is. Francette sê sy dink sy het die drang om mooi goed bymekaar te maak van haar ouers, wat altwee ‘n fyn sin vir styl gehad het, gekry.

Francette se versameling fyngoed het oor die jare gegroei en toe, 30 jaar gelede ná ‘n mislukte eerste huwelik, trou sy met ‘n grootwildjagter. Dries Roux jag deesdae porselein. Hy gaan saam met Francette na markte, antiek-handelaars en veilings en kan jou enige iets oor elke stuk in die versameling se geskiedenis vertel.


Francette se Dresden-beeldjies is in haar goue kas van Frankryk, langs haar pienk-en-goue rococo sitkamerstel, ook uit Frankryk

‘n Porselein lampstander
.

Dries wys dadelik na die porselein-horlosie wat in 1780 in Frankryk vervaardig is. Die horlosie is na Engeland gestuur om in die Royal Doulton-fabriek geskilder te word. Hy is toe terug na Frankryk, maar die Frans-Pruisiese Oorlog het uitgebreek en sekere dorpe in Frankryk het Duitse grondbesit geword.

‘n Duitser het dié porselein-horlosie gekoop en het dit in die begin van die 19e eeu na Suid-Wes Afrika saamgebring. Dié Duitser het die Windhoek Hotel gebou en ná sy dood het die horlosie daar agtergebly sonder dat sy nasate besef het waarmee hulle sit. Die ding was glo pikswart vuil, vertel Dries. Dries en Francette het die horlosie vir R4 000 gekoop en kenners waardeer dit vandag vir R80 000.


Die Franse porselein-horlosie uit 1780

Die Rouxs se huis is vol uitstalkaste en hulle vertel dat ‘n destydse mynmagnaat aan die Witwatersrand die groot Edwardiaanse kas in die sitkamer uit Engeland bestel het. Die kas het per skip op Delagoabaai aangekom en is met ‘n ossewa na Johannesburg vervoer.

Dan is daar die uitstalkas wat aan Eugene Marais behoort het en wat ‘n agterkleinkind nie meer wou hê nie en ook Francette se ouma se kas, waar die laaie se ronding deur halwe boomstompe gevorm is.


Francette se porselein in die uitstalkas wat aan Eugene Marais behoort het

Die Edwardiaanse kas wat per skip en ossewa aangekom het

Daar is ‘n kas wat Dries spesiaal met ligte en spieëls aangepas het vir ‘n deel van Francette se reuse versameling Royal Doulton- en Royal Worcester-beeldjies. Daar sit die koningin met haar goue jubileum, iewers staan Florence Nightingale en dan sien ‘n mens ook vir Scarlet O’Hara van ‘Gone with the wind’ in die groen rok wat sy van gordynmateriaal gemaak het.


Francette wys een van haar Dresden porselein-beeldjies

Francette en Dries Roux in hulle Cullinan-huis
.

In die eetkamer wys Francette na ‘n piering. Sy het vir 15 jaar net dié enkele Royal Albert Old Country Roses-piering gehad terwyl sy na die res van die stel gesoek het. Vandag het sy die hele stel, wat twee teestelle en ‘n eetstel insluit. Dié stel is net vir Amerika gemaak.

Dan is daar ook Francette se Royal Albert Lady Carlyle- en Lady Ascot-versamelings, die Dresden-porselein uit Duitsland, die wye verskeidenheid teepotte wat soos huisies lyk, ‘n stel in die kombuis uit Sammy Marks se tyd en porselein gemaak van pienk klei in Rusland.

Daar is die Staffordshire- en Royal Vale-stelle en die pienk Pompadour, wie se naam kom van Madame de Pompadour, minnares van Louis XV (1745 tot 1764), en wie ‘n groot aanhanger was van die porselein wat by Sévres gemaak is.



Die kas in die eetkamer met Francette se Royal Albert Old Country Roses-versameling

Daar is ook ‘n verskeidenheid Aynsley China-stukke, ‘n Britse maatskappy wat in 1775 deur John Aynsley gestig is. Dié ‘bone china’ stukke is tradisioneel gemaak van twee dele as van bene (wat veroorsaak dat die porselein spierwit bly), een deel kaolien (‘n sagte wit klei) en een deel veldspatiese rots van Cornwallis.

Die skoonmaak van al dié stelle is nogal ‘n reuse taak, veral as ‘n mens in aanmerking neem dat Francette doelbewus nie ‘n huishulp het nie. Dit werk nie so goed saam met iets so breekbaar soos porselein nie, sê sy. Die porselein kan ook nie met skottelgoedseep gewas word nie, omdat dit die goud verdof en later heeltemal afwas. Francette was haar porselein met sjampoe.

Sy verduidelik dat sy nie die porselein as stel koop nie, maar een vir een stuk versamel tot sy ‘n hele stel kan opbou. Sy en Dries sien die porselein as gebruiksgoed om te geniet; hulle eet en drink elke dag daaruit.


Dié pienk stelletjie is gemaak uit ‘n pienk klei wat net in Rusland voorkom. Dit word glad nie uitgevoer nie en Francette het dit gekry by ‘n vrou wie se dogter by die fabriek in Rusland gewerk het

Die Royal Doulton-beeldjies strek van die koningin met haar goue jubileum tot Scarlet O’Hara van ‘Gone with the wind’ in die groen rok wat sy van gordynmateriaal gemaak het.

“Die lewe is so kort,” sê Francette. Sy wil haar porselein geniet solank sy kan. En die dag wanneer sy nie meer daar is nie? Francette het al baie gedink oor wat dan met haar porselein sal gebeur. Sy wys na die diamantring aan haar vinger en vertel dat haar beste vriendin van 47 jaar lank, in haar testament geld aan Francette bemaak het om so ‘n ring te koop. “Sodat ek haar elke dag kan onthou,” sê Francette. Dié vriendin is aan kanker oorlede.

“Ná my dood sal my porselein na die ‘Hospice’ gaan,” sê Francette. “Dit beteken dan dat ek eintlik my hele lewe lank gewerk het aan iets wat kankerpasiënte se laaste dae help makliker maak.”

 

 

© 2018 Die/The Bronberger