Stoomtrein ná jaar weer op die regte spoor PDF Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 24 February 2018 11:42
Untitled Document

Die historiese stoomtrein het ná bykans ‘n jaar op 11 Februarie vir die eerste keer weer met ‘n vrag toeriste op Cullinan se stasie ingestoom.

Die stoomtrein van Friends of the Rail het op 21 Maart 2017 omtrent vier kilometer buite Rayton met 500 passasiers aan boord, ontspoor ná omtrent 160 meter se spoorstawe gesteel is. Die afgelope jaar is besoekers tot op Rayton geneem met die trein en moes met busse van daar af tot Cullinan vervoer word.


Die spoorlyn was onbegaanbaar ná die spoorstawe verlede jaar in Maart gesteel is
Foto: Verskaf

Die nuwe spoorstawe word teen die einde van Januarie aangery
Foto: Les Labuschagne
.

Ongeveer ses jaar gelede het nog ‘n stoomtrein net buite Cullinan-stasie ontspoor nadat dwarslêers gesteel is. Die hout-dwarslêers is met beton vervang en daarna het die diefstal van spoorstawe begin.


Les Labuschagne van Friends of the Rail in die lokomotief

TransNet het aan die einde van Januarie met herstelwerk aan die spoorlyn begin. Die plan om toekomstige diefstal te voorkom is om ‘n trollie-waentjie gereeld op die Rayton-Cullinan taklyn te laat ry. Daar word selfs beplan om toeriste vir skemerkelkie-uitstappies met dié waentjie te neem.


Die nuwe spoorstawe word gelê
Foto: Les Labuschagne

Die dwarslêers word gelê
Foto: Les Labuschagne

‘n Skare het die stoomtrein, met ‘n lokomotief genaamd Jo-anna, op Sondag 11 Februarie op Cullinan se stasie ingewag. ‘n Amptelike lintknip-seremonie is gehou om die spoorlyn te open. Jan-Louis Spoelstra van TransNet vragspoor taklyne en erfenis en Elvin Josephus Harris van TransNet het die seremonie bygewoon en gesê dat die spoorlyn herstel is om toerisme te bevorder.


Werkers maak gereed om die nuwe spoorstawe af te laai
Foto: Les Labuschagne

Les Labuschagne van Friends of the Rail het gesê dat dié instansie beplan om nouer samewerking met Cullinan se winkels, restaurante en toerisme-ondernemings te bevorder.


Jo-anna is die naam van die lokomotief wat die toeristetrein stasie toe gebring het
.
.

Die lintknip-seremonie op 11 Februarie om die spoorlyn te open. Van links na regs: Chuma Msingapantsi, Les Labuschagne en Mondli Lukhozi van Friends of the Rail saam met Jan-Louis Spoelstra van TransNet vragspoor taklyne en erfenis en Elvin Josephus Harris van TransNet

Friends of the Rail is ’n nie-vir-wins instansie wat sowat 30 jaar gelede deur ‘n groep stoomtrein-entoesiaste begin is. Lede restoureer en onderhou veteraan stoomtreine om as ‘n “lewendige museum” te bedryf.


Die stoomtrein kom ná ‘n jaar vir die eerste keer weer op Cullinan se stasie ingestoom

Die stoomtrein-uitstappies vir die publiek vorm die instansie se grootste inkomste, wat direk in die stoomtreine se onderhoud teruggeploeg word. Die meeste werk, insluitende die bemanning van die trein op uitstappies, word op ‘n vrywillige basis sonder enige vergoeding deur lede gedoen.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger