Hartseer afskeid van geliefde skoolhoof PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 24 February 2018 11:41
Untitled Document

Michael Combrink, geliefde skoolhoof van Laerskool Witpoort, is op 22 Januarie ná ‘n lang stryd met slukdermkanker in die ouderdom van 57 jaar oorlede. Sy begrafnis was op 26 Januarie by die AGS Hartsion-gemeente op Bapsfontein. Die laerskool het ‘n gevoelvolle huldeblyk aan ‘ons skool se pappa’ vir die Bronnie gestuur.

Die tyding het soos ‘n swaar kombers oor die skoolterrein getrek. Hartseer en ongeloof. Ons skoolhoof is dood.

Michael Combrink was sedert 2009 hoof by Laerskool Witpoort, waar hy ‘n groot impak gehad het en ‘n positiewe verskil gemaak het. Sy droom was om in ‘n landelike omgewing tussen boere te woon en vir hulle kinders skool te gee. Hy het opreg in die mense van die omgewing belang gestel en het hegte vriendskappe gesmee. 

Michael is in Vryburg gebore, maar het as ‘n Karookind in Cradock grootgeword. Hy het aan Laerskool Cradock en Hoërskool Outeniqua in George skoolgegaan. Ná skool was hy as Matie-student op Oudtshoorn Onderwyskollege gesetel en het landbou-onderwys studeer. Sy weermagopleiding by die Infanterieskool Oudtshoorn en later by SAW Kollege vir Opvoedkundige Tegnologie te Clubview, het gevolg. In Clubview was hy in beheer van die opleidingsvleuel.

Knap daarna het Michael sy eerste aanstelling as onderwyser by Laerskool Monumentpark gekry.


Michael Combrink saam met sy seuns Christo en die tweeling Michael en Leon in Desember verlede jaar, ‘n maand voor sy dood

Laerskole Eendracht en Uitsig was volgende aan die beurt voor Michael in 2001 na die plaasskool, Witpoort is as departementshoof van die senior-afdeling.

Hy is in 1993 met Lizana, wat ook by Witpoort skoolhou, getroud en hulle het drie seuns: Christo en die tweeling, Michael en Leon. Sy trots op en liefde vir sy gesin was altyd opmerklik.

Michael was ‘n man wat drome in realiteit kon verander.  Waar die Kaalvoet Kleuterskool vandag staan het hy een van sy onmoontlikste drome op die ongetemde, kaal stuk aarde gedroom. Om bome by die skool aan te plant was vir hom ‘n groot prioriteit en net soos die boompies elke jaar al hoe sterker groei, sal sy bydrae, ook in die vele ander projekte wat hy aangepak het by die skool, aanhou om sterker te groei. Sy nalatenskap sal oor die jare in elke kind, ouer en onderwyser se harte en menswees bly groei. 

Sy liefde vir die kinders en personeel van Laerskool Witpoort was ongeëwenaard. Hy het die leerlinge “my kinders” genoem en het elke kind op sy naam geken. Hy was ‘n gereelde besoeker in klastyd. 

Michael was baie lief vir sport en was ‘n vurige rugbykyker. Hy het altyd moeite gedoen om “sy kinders” langs die sportveld te ondersteun. Op groot sportdae het hy probeer om sy tyd tussen die rugby en netbalspanne te verdeel sodat hy na soveel moontlik wedstryde kon kyk.

Daar was vir hom niks lekkerder as om Maandagoggende met saalopening met “sy kinders” se prestasies, hetsy akademies, sport of kultuur, te spog nie en om self die sertifikaat of beker met sy eie spesiale boodskap te oorhandig nie. Vir hom het alles om die kinders gedraai.


Michael Combrink, Laerskool Witpoort se geliefde skoolhoof, en sy vrou Lizana in gelukkige tye

Terwyl hy op die speelterrein stap, was dit moeilik om ‘n gesprek met hom te voer want die kinders het heeltyd na hom gehardloop om hom drukkies te gee. Van die kleinste graad eentjie tot die graad sewes het gereeld in sy kantoor ingestap om vir hom te gaan wys wat hulle daardie dag in die klas gemaak het, om ‘n blommetjie te bring, sommer te vertel as dit nie ‘n goeie dag was nie of hulle blydskap oor ‘n nuwe kuiken by die huis te deel. Die vrymoedigheid van die kinders en sy opregte belangstelling was een van die grootste kenmerke van Michael se suksesvolle leierskap as hoof by ons skool.

Michael het nooit ‘n das gedra nie. Hy het ‘n oopdeur-beleid gehandhaaf en sy deur het letterlik altyd oopgestaan vir enige iemand. Op dié manier was hy bekend met kinders se huislike omstandighede en het hy ook vir ouers ‘n ware vriend en bondgenoot geword. 

Hy was ‘n beginselvaste mens. Sy eiesoortige manier om moeilike situasies met die nodige omsigtigheid, empatie en erns te hanteer sal moeilik gevul word. Hy het passievol gewerk en probleme tromp-op geloop. 

Michael het uit sy pad gegaan met sy ondersteuning van die Omgee Mammas-projek en baie van sy tyd vrywillig daaraan bestee. Hy was lief vir ‘n goeie grap en het ‘n skerp humorsin met ‘n onnutsige kant gehad, wat hy in sy aansteeklike lag kon deel.

Ons eer sy voetspore en nalatenskap. Hy sal met liefde onthou word as hoof, “pappa van ons skool”, vriend, kollega en leier in ons gemeenskap.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger