Flesmoles in ‘n losieshuis PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Saturday, 24 February 2018 11:37
Untitled Document

“Hoekom dan die lang gesig,” vra Gert Mossie. “Gmf,” sê Grootpiet-in-die-hoek, “dis mos wat die kroegman gevra het toe die perd by die swaaideure instap.” En dit is ook g’n sy lang gesig nie, sê Piet. Dis sy terugdinkgesig wat so lyk: Sy heimweegesig . . .

En hy dink ver terug aan sy prillegeit toe amper almal wat ma en pa se huis verlaat het iewers in ‘n losieshuis beland het, ‘n Losieshuis, let wel, nie ‘n gastehuis nie, sê Grootpiet. Jy was ‘n loseerder in ‘n losieshuis, nie ‘n gas in ‘n gastehuis nie en jy moes liggies en mooi in jou spoor trap.

Want die losieshuistannie se woord was wet en jy was banger vir haar as wat ‘n Protea vir ‘n Indiër is. Sy was ‘n lywige tannie met ordentlike broodknie-boarms en ‘n groot stel streng reëls. As jy jou jong lewe lief gehad het, wou jy haar nie verkeerd opvryf nie, sê Piet.

Só ook was tannie Barnard van die Stella Losieshuis op die dorp waar hy beland het. Vir die ses maande voor hy moes aantree vir sy weermagdiensplig destyds, het hy onder tannie Barnard se bevel gestaan, kan jy maar sê.

Geen gerook, geraas, gevloek of gekafoefel is in die Stella Losieshuis toegelaat nie, sê Piet. Teen tienuur snags moes alle ligte af en absoluut geen meisies en veral geen sterk drank is in jou kamer toegelaat nie. Amper nes die ‘army’, sê Grootpiet, maar die kos was darem beter.

Drie maaltye per dag was ingesluit by die maandelikse losiesgelde. Middagete was toebroodjies en nog wat en ‘n klein flessie koffie. Dié het jy in ‘n kosblik saamgevat werk toe.

Só gebeur dit toe een maandeinde dat hy en sy kamermaat, ou Muggiebul Meyer, saamklub om ‘n halfbotteltjie brandewyn aan te koop. Ook mos nou al 18 jaar verby en vol van die natuurlike ondeundheid en nuuskierigheid van amper-grootmens, sê Piet. Die plan was om te wag vir die naweek voor hulle die flessie laat-my-staan beproef en Piet steek die vuurwatertjie onder sy bed weg.

Voor hy die Vrydag afsit werk toe, kyk Grootpiet onder sy bed in om seker te maak die naweektake is nog veilig en hy sien tot sy diepe droefheid dat die botteltjie nou skoonveld is. Hy en Muggiebul soek oral, maar niks. Piet sê hy was nie heeltemal dapper genoeg om dié oggend vir tannie Barnard te vra of sy nie dalk weet wat van die verbode botteltjie geword het nie.

Was sy verstomming groot toe hy etenstyd in die werk se teekamer sy kosblik oopmaak en sien in die plek van die flessie met koffie lê daar nou die vermiste brandewynflessie, sê Piet. En daarby ‘n briefie in tannie Barnard se handskrif: “Ek stuur jou duiwelswater saam. Kyk maar of jou baas tevrede sal wees as jy dit by die werk drink . . .”

 

 

© 2018 Die/The Bronberger