Keuse is wyd by Mooikloof se trattoria Print E-mail
News - Vreethans
Saturday, 24 February 2018 13:35
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

‘n ‘Trattoria’, so sê ‘hulle’, is ‘n minder formele Italiaanse kuierplek waar die atmosfeer en die diens ontspanne is, die wyn per kraffie eerder as per bottel bedien word, die pryse nie deur die dak skiet nie en daar gewoonlik nie ‘n gedrukte spyskaart is nie.

By die Mooikloofse koopsentrumpie langs Garstfonteinweg het ‘La Trattoria’ in die onlangser verlede oopgemaak. En grotendeels voldoen dié nuwe restourant aan ‘n ‘egte trattoria’ se kenmerke, behalwe vir die spyskaart. Hier loop ons op ‘n mooi Saterdag ‘n baie lywige spyskaart (net in Engels) raak met genoeg leesstof om ‘n verveelde tiener sonder ‘n slimfoon, baie lank besig te hou. Die verskeidenheid en keuses is wyd en uiteenlopend en doen aan by etlike kontinente en lande.


Deel van La Trattoria se binnewerke met die kok van die Mongoolse braaigeregte in die agtergrond

Ons kry maklik parkeerplek reg langs die plek se ingang en word met die intrapslag vriendelik deur ‘n naweekse skoolseunkelner ontvang. Ek hoor die outjie se tong knoop effe om die Engelse ontvangsrympie, en hy glimlag breed toe ek in Afrikaans antwoord. Van toe af loop sake vlot.

Dié ‘trattoria’ het ruim en gemaklike aansitpek. Ons neem plaas by ‘n tafeltjie in een van die twee ingeglasde stoepe. Bietjie warm is dit vandag en ons oorweeg om te verskuif na die lugversorgde binnewerke of die oop stoep aan die suidekant. Maar kelnerseun maak die groot glasdeure oop en ‘n welkome luggie roer dit koeler.

Ons bestel ietsie te drinke met ys in, neem ‘n spyskaartboek op en begin lees. Dit is amper dadelik opvallend dat dié ‘trattoria’ se kospryse meer as billik is – kosprys, kan jy amper sê. Ontbyt wissel tussen R39.90 vir die kleiner Engelse een tot R69.90 vir die ‘groot trattoria ontbyt’. ‘n Omelet met twee vulsels kos ook R39.90.


Die ingang by Mooikloof se koopsentrum

Croissante, tramazini, Prego, toedraaitjies (‘wraps’), roosterbroodjies en burgers beslaan ‘n hele paar bladsye in die spyskaartboek. Ook hier is die keuse ruim en die pryse laag.

Ek werk deur die voorgereg- en slaaihoofstuk, waaronder Griekse happies soos ‘keftehes’ (frikkadelle) en ‘dolmades’ (maalvleisgereg in wingerdblare) tel. Altwee kos R56.90. Jy kan jou eie pizza ‘bou’ met die bedekkings van jou keuse of een van dié in die boek kies. Pryse wissel van R56.90 tot R114.90 vir die vlagskip wat hulle ‘big meat’ noem.

La Trattoria skuif met hulle Mongoolse braaigeregte na ‘n heel ander kontinent. Braaiers staan gereed agter ‘n toonbank om dit wat jy uit die lekkernybakke kies, voor jou oë gaar en na jou smaak te roerbraai. Dit weeg in teen R139.90.

Van die aantal hoendergeregte het hulle die swaargewig uit Amerika loop haal. Hulle roep dit ‘mama’s deep fried chicken’. Teen R89.90 kry jy vyf stukke wat in diep kookolie onderdompel en gaargeborrel is. Die ander disse van hoender kos so R10 minder.


n Goedgekaasde lasagne

Die rooivleishoofstuk is redelik gewigtig, maar die pryse is weer heelwat ligter as waaraan jy dalk gewoond is. Biefstukke van alle aard, heel skaapskenkel, trinchado, beesstert, ribbes en ‘n aantal kombinasies en deelborde, bied hulle jou.

Stokvis, koningklip, calamari, mossels, garnale en vars oesters (R145 vir 12) sien ek onder seekos. Agt koningingarnale kos R139. Jy kan ook deelborde bestel.

Ek blaai vinnig deur die vierstuks bladsye met inligting oor die plek se sushi-happies. Nie baie partydig vir sushi nie, is ons, maar vir die groeiende sushibrigade lyk La Trattoria na ‘n goeie bestemming.
Nageregkeuses sluit malvapoeding en kaaskoek, altwee teen R36.90, in.  

Metgesel is in haar noppies oor die baie inskrywings wat na haar voorkeur is en sy besluit op ‘n groente-lasagne (R69.90) uit die pasta-afdeling. Self het ek te lanklaas ‘n beesstert beetgehad en ek bestel een teen R149.90.

Ons wag drie stadige drankies lank voor ons bestelling eindelik opdaag. Kelnerseun maak verskoning vir die lankwag en verseker ons hulle is nie altyd so nie. Iemand in die kombuis, sê hy, het vergeet om die klokkie te lui.


Geurige stert van bees met ‘n verlangse kerriesmakie

Die beesstert kom in ‘n swartpotjie en onder ‘n ryk, dik bruinsous aan. Die stert en sous is heerlik geurig met ‘n verlangse smakie van kerrie daarby. Ek meen egter dat die stert kon doen met nog so ‘n uur in die prutpot, of ‘n wyle in die drukpot. Gelukkig help die saagtandmes om vleis van been te skei.

Metgesel is mos nie een wat sommer oor kos kla nie. En sy kla ook nie oor die smaak van haar vegetariese lasagne nie. Die stewige porsie is ruimskoots in sy bak bekaas en sy geniet hom. ‘n Bietjie meer groen en/of gekleurde groente en ‘n minder waterige sous, sou sy verkies en sy dink nie aartappels pas so lekker by pasta nie.

Mooikloof se trattoria is ‘n lekker plek vir ‘n ontspanne en gemoedelike kuier. Dit maak voorsiening vir bykans elke ou se smaakvoorkeur en hulle het ‘n volle dranklisensie. Jy kan hulle bel by 012-996-3426.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger