En dan kry jy ook ‘n daguil PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 24 February 2018 11:31
Untitled Document

Dié tyd van die jaar kan ‘n mens in graslande op swerms van 20 tot 40 – en soms tot 75 – vlei-uile afkom. Maar moenie dink dat jy hulle die volgende dag weer daar sal kry nie. Vlei-uile is nomadies en swerf rond wanneer hulle nie broei nie.

Dié voëls broei eers in die herfs, ‘n tyd wanneer hulle neste gereeld deur veldbrande uitgewis word. Die wyfie lê haar eiers in ‘n pieringvormige nes van droë gras, omtrent 300 mm in omtrek, wat in lang gras gebou word.

Die vlei-uil kom redelik algemeen voor in ‘n wye reeks grasland-omgewings. Alhoewel hy vleilande verkies, kan dié uil in byna enige grasland oorleef – selfs in ‘n oorbeweide grasveld.

Dophou
Vlei-uile is waarskynlik minder van ‘n nagdier as enige van die ander uile. Omdat hulle soms in die dag rondvlieg en in oop grasland nesmaak, is hulle van die maklikste uile om op te spoor en dop te hou.

‘n Mens sal hulle gewoonlik in die herfs en winter, wanneer hulle die kuikens voer, in die dag sien rondvlieg. Dié uil se jagmetode is ‘n stadige heen en weer vlieg, omtrent so ‘n meter bo die grond, terwyl hy sy kop diékant en daaikant toe draai om prooi te soek. Elke nou en dan staan hy so te sê stil in die lug, of doen ‘n halwe bollemakiesie en duik in die gras af.

Die vlei-uil maak die prooi wat hy klaar gevang het dikwels eers alles op ‘n hoop bymekaar terwyl hy jag en vreet dit dan ná die tyd. Hy vreet insekte, rotte en muise, maar ook ander voëls en akkedisse.


Vlei-uil
Foto: Wikipedia

Bohaai
As ‘n mens op ‘n broeiende vlei-uil afkom, sal sy eers op die heel laaste oomblik opvlieg en dan ‘n vreeslike bohaai opskop om die aandag van haar nes te probeer aftrek. Sy sal terug sirkel na haar nes toe, lawaai maak en soms ‘n oordadige vertoning lewer waarin sy maak asof sy ‘n besering, soos ‘n af-vlerk, opgedoen het. Vlei-uile se roep-geluid is ‘n kras krikkk-krikkk wat klink soos ‘n stuk materiaal wat stukkend geskeur word.

Die vlei-uil, Asio capensis, is ‘n lid van die Strigidae-familie. Dié is ‘n medium-grootte uil: 35–38 cm lank en 230–370 gram swaar. Hy het ‘n dowwe bruin kleur met rooibruin dele in die vlerke, ‘n dowwe geel gesig en donker vlekke rondom die oë.

Onderskei
In vlug onderskei sy dofgeel ondervlerk met swart vlerkpunte en sy gestreepte stert die vlei-uil van die grasuil. Sy pote strek nie verby sy stert in vlug nie. Die vlei-uil het klein oor-klossies, maar dié word selde gesien omdat dit gewoonlik platgetrek is. Die geslagte lyk eners en onvolwassenes lyk soos die volwassenes.

Die wyfie lê twee tot ses eiers, wat sy alleen uitbroei terwyl die mannetjie al die jagwerk doen. Die eiers broei ná 27 tot 28 dae uit en die kuikens bly 14 tot 18 dae in die nes, waarna hulle rondom die nes begin rondwaggel, voor hulle nog kan vlieg. Hulle bly vir ongeveer 80 dae afhanklik van hulle ouers.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger