Blaaspootjies beveg pers verpesting PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 24 February 2018 11:30
Untitled Document

Die pompom-onkruid is geleidelik besig om graslande dwarsoor Suid-Afrika oor te neem. Tog is dit in Pretoria waar dié uitheemse indringer so 50 jaar gelede die eerste keer sy mooi gesiggie in die veld gewys het. Pretoria is ook die plek waar blaaspootjie insekte in 2013 die eerste keer ingespan is om dié onkruid te beveg.

Pompom, Campuloclinium macrocephalum, is ‘n ornamentele Suid-Amerikaanse kruid wat aan die madeliefie-familie, Asteraceae, behoort. Die oorname van dié onkruid is veral tussen Desember en Maart, wanneer die plante blom, opvallend.

Fonteine
Die vroegste rekord van die teenwoordigheid van dié onkruid in die veld was by Fonteinedal in die vroeë 1960’s. Teen 1972 was daar pompoms in Westville naby Durban; in die 1980’s het dit verder versprei in die Pretoria-omgewing en is opgemerk in ander plekke in Natal en in Limpopo. In die 1990’s het dit na die Oos-Kaap en Mpumalanga versprei. Die onkruid het van 2000 tot 2003 geweldig toegeneem in Gauteng – kenners noem dit ‘n ‘ontploffing’.

Pompom kan by baie soorte groeitoestande aanpas en kan in feitlik enige grondtipe floreer. Die onkruid oorleef veldbrande sowel as ryp en droogte. Dit is glo omdat dit wat jy bogronds sien omtrent net 30% van die plant se biomassa is. Die res leef ondergronds en is dormant in die wintermaande. In droogtetoestande onttrek die plant voedingstowwe van sy bogrondse stam na sy ondergrondse wortelstelsel.


Pompom se pienkpers blomme
Foto: Wikipedia

Beveg
Pompoms is ‘n kategorie een onkruid volgens die Bewaring van Landbouhulpbronne-wet en dit is onwettig om die plant te kweek, te verkoop of op jou grond te laat groei. Drie onkruiddoders is geregistreer om pompoms te beveg: Brush-Off; Access 240 en Climax.

Oor die algemeen is fisiese plantbeheer, soos skoffel of ploeg, nutteloos omdat versteuring die probleem erger maak en verdere wortelgroei stimuleer. Verspreiding kan bekamp word deur saadproduksie te beheer. Die stamme kan afgesny word voor die blomme saad produseer. Dit werk ook nie altyd nie, omdat die plant sal aanhou stamme groei, wat verskeie kere in een groeiseisoen teruggesny sal moet word.

Die meeste navorsing oor die bekamping van die onkruid word deur die Landbounavorsingsraad en sy Plantbeskermingsnavorsingsinstituut gedoen. Dit blyk asof navorsers se nuutste plan om die onkruid te beveg, stadigaan begin werk. Die bevegter is ‘n blaaspootjie insek, Liothrips tractabilis, wat die stamme en blare van die onkruid vervorm en blomvorming benadeel.

Vrylaat
Volgens Liamé van der Westhuizen van die Plantbeskermingsnavorsingsinstituut in Rietondale, is meer as honderd duisend van dié insekte op 45 plekke in vier provinsies vrygelaat sedert die eerste vrylating by Rietvlei Natuurreservaat in Oktober 2013.

In Desember 2014 het ons berig dat die insekte ook by die Cullinan Bewarea vrygelaat is.

Liamé, projekleier vir die pompom-onkruid biobeheer-projek, sê dat opvolg-opnames onder grondeienaars dwarsoor die land bevestig dat die blaaspootjies hulle werk doen en metodes word ondersoek om dié insekte se verspreiding onder pompom-besmettings te verhoog. Massas van die blaaspootjies word by die Landbounavorsingsraad en sy Plantbeskermingsnavorsingsinstituut in Natal grootgemaak en na Pretoria gestuur waar hulle vrylating volgens riglyne deur die Nasionale Pompom Bestuurskomitee gekoördineer word.


Die blaaspootjie, Liothrips tractabilis
Foto: Bold Systems

Kontak
Daar is meer aanvraag vir dié blaaspootjies as waarin voorsien kan word, maar mense wat die insekte teen pompoms wil gebruik, kan hulle name en kontakbesonderhede solank op ‘n databasis laat sit.

Kontak Almie van den Berg by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of Liamé van der Westhuizen by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

 

© 2018 Die/The Bronberger