‘n Lewe teen die Bronberg se hange PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 24 February 2018 11:27
Untitled Document

Hendrik ver Loren van Themaat van Zwavelpoort se druiweplaas sê dat Anton Jansen se nostalgiese terugblik in verlede maand se Bronberger hom en sy vrou Ria ver laat terugdink het. Hy vertel van hulle beginjare op Valley Farm, die Denmar-grondpad stad toe, hoe hulle later die kliphuis op Zwavelpoort gebou het en onthou oom Dotjie Lombard, die dokter met sy kamele en ander vroeë inwoners.

Hendrik ver Loren van Themaat

Net na ons troue het ek en Ria in ‘n groot rondawel teen die Bronberg-hang, ingetrek. Die landbouhoewe was deel van Valley Farm en is later ontwikkel as Ruimsig aftree-oord, nou deel van ‘n Faerie Glen-uitbreiding. Net twee liggies was sigbaar, die een suid-oos teen Olympus-kop en die ander suid, teen die oorkantste hang, daar waar Constantiapark later sou ontstaan.

Ons het altwee in die stad gewerk en moes elke dag via die Denmar-grondpad (later Hans Strijdomrylaan en nou Solomon Mahlangu) inry stad toe. Dit was ver, maar daar was min verkeer en dit het maklik gegaan.

Ek het klein kweekhuise ontwerp en aanmekaar geslaan en aarbeie begin groei. Proteasaad het ons by Landboutegniese Dienste gekry en geplant. Ek onthou dat die blommewinkels my 30 tot 50 sent ‘n proteablom betaal het. Uiteindelik was daar pekanneutbome, proteas en selfs ‘n paar ‘vesellose veselperske’ (mango) bome welig aan die groei op die vrugbare stukkie aarde.

Nie te lank nie of ‘n Fordson trekkertjie het ook deel van die gesin geword en ons het lekker gespeel. Langs ons het masjiene begin dreun soos Faerie Glen ontwikkel en rye liggies wat op die ver hang flikker het die ontstaan van Constantiapark aangedui.


Hendrik Ver Loren Van Themaat by sy druiwe in die Bronnie se heel eerste uitgawe
in September 2002

Die landbouhoewe-gogga het hard gebyt. Die digte ‘Black Wattle’ bos wat agter ons, tot bo-op die Bronberg gegroei het, het ons begin pla. Saam met die enigste ander landbouhoewes in Valley Farm het ons ‘n Bronberg Bewaringsvereniging gestig wat ook Zwavelpoort en Tierpoort betrek het. Die Nigrini’s was ons enigste bure, maar al die mense wat hier buite gewoon het was bewaringsbewus.
Stadigaan het ons besluit om permanent ‘Maplotters’ te word. Ek kon nie my moeder, aan wie die landbouhoewe behoort het, oortuig om my toe te laat om daar ‘n huis te bou nie en ons moes verder kyk.

Ek het my behoefte gestel: ‘n koppie, ‘n stroompie en groot genoeg vir ‘n aanloopbaan. Uiteindelik noem die agent, “Zwavelpoort 123 is in die mark”. ‘n Stroompie, ‘n fontein, ‘n helling naby die Bronberg, en pragtige bome, maar dit is te klein vir die aanloopbaan.

Ons gaan kyk tog. Daar was net ‘n klipskuur en ‘n arbeidershuis. Hulle donkies het die hele gebied kaal gevreet. Nogtans koop ons, oortuig deur die groot Vaderlandswilgers en uitsig.

In 1974 het ons die skuur in ‘n huisie omvorm en ‘n dubbelmotorhuis aangebou, ook met klip. Teen 1975 was ons eersteling, ‘n seun, op pad en het ons die plekkie inderhaas vergroot na ‘n ordentlike huis. Terwyl Ria in die Moedersbond was, het ek deur die nag ‘knotty pine’ plafonne geslaan om die huis betyds klaar te maak.

Ek onthou ou oom La Grange anderkant die spruit, die Scheeperse op die hoek en die dokter met sy kamele wat ‘n sinkskuur laat bou het waarin hy met sy hele gesin ingetrek het. Dit is later omvorm in ‘n groot huis met behulp van Len Joubert, die argitek wat ons kliphuis vir jare gehuur het terwyl ons in die buiteland was.

Daar was heelwat permanente inwoners. Van die ander wat duskant langs die spruit gewoon het was Hennie en Carol Koster asook Tim van der Westhuizen teen die latere Mooikloof. Ook die Van Hoepens op die berg en oom Dotjie Lombard.

Oorkant die spruit was ou oom Laubscher, wat vertel het hoe hy Zwavelpoort op die De la Harp-plaas help opdeel en verkoop het. Hy was glo die oorspronklike vennoot van Nieman en Laubscher Eiendomsagente, bekend in Pretoria van ‘n 100 jaar gelede. Dan die Van der Merwes en hulle perdeskool, dr Grove wat die Zwavelpoortpad help opgradeer het, sy skoonseun (Piet Botha?) wat die pekanneutbome geplant het, generaal Dirk Marais en dokter Glen, wat kampioen Bramane op sy 75 hektaar geteel het.

Die behoefte aan bewaring het steeds by ons gebly en die dun bevolkte bewoners het ‘n Zwavelpoort Inwonersvereniging gestig. Ons was ernstig. Die Bronberg moet bewaar bly! Briewe het uitgegaan om navraag te doen oor toekomstige beplanning. Tot ons skok het ons ontdek dat die nuwe spoorlyn na Bapsfontein deur die poort beplan word, asook Eskom se nuwe hoogspanningslyne en die groot nuwe noord-suid dubbelpad. Nie een van die instellings het van mekaar se planne geweet nie.

Deur hulle van die ander instellings se planne te vertel het ons uiteindelik ondernemings gekry dat die poort bewaar sal bly. Al die roetes sal elders loop. Net Eskom het later van hulle onderneming vergeet en ‘n kleiner lyn deur die poort opgerig.

Ek het aangehou om te toets of ek sekere plante kan maak groei, hier waar hulle nie eintlik aard nie. Eers was dit proteas, wat een keer deur ‘n brand verwoes is en daarna deur swart ryp doodgebrand is.

Die koue (minder as sewe grade onder vriespunt) tref ons so elke sewe jaar. Dit is te veel vir die proteas en selfs ons doringbome en wit stinkhoute ly daaronder.

Die van Edens, wat later gekoop het, het ook proteas begin kweek en was ook met perskes suksesvol. Ons het maar oorgeskakel na tafeldruiwe en nou na granate.

So het ons wortels in Zwavelpoort vasgegroei en al ons kinders is hier gebore (behalwe nommer twee wat in Frankryk gebore is). Dit is ‘n wonderlike plek met gawe mense en lieflike herinneringe.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger