Ons is water PDF Print E-mail
News - Briewe
Saturday, 24 February 2018 11:22
Untitled Document

Hennie Malan van Rayton skryf:
Na aanleiding van Ludwieg Botha se Januarie Leserslens-foto: Water, water. Ons is water en ons leef water. Soms vrolik soos kabbelende water in ’n stroompie, of ons tuimel oor ’n val en is deurmekaar en briesend, of  ons vloei weer rustig voort, of ons beland in ’n poel waar ons rustig verkeer en soms verdamp om hoog in die lug op die dorre aarde neer te sien, of dalk te verkwik.

Dit wat ons met ons saamdra, alles, ja alles – vreugde, hartseer, haat, liefde, jaloesie en noem maar op, is in hierdie stroom.

Vol vreugde kabbel ons in die stroompie, en dra alles wat mooi is saam. Vol hartseer beland ons in ’n poel waar ons troos vind en die hartseer in die poel laat slik. Vol haat woel ons in die warrelende poel onder die waterval, en laat weer al die lelik in ons lewe vry, maar kry dan telkens weer die genot om vol liefde voort te vloei. Vol jaloesie kalf ons die walle van die loop uit en berou die besoedeling wat volg.

Dan besef ons, ons lewe is soos water. Vandag is ek ’n molekule H2O, more ’n druppel uit ’n wolk wat die aarde tref om saam met ander druppels in die stroom te vloei, bymekaar te maak, te verloor en uiteindelik weer as ’n molekule te verdwyn.

 

© 2018 Die/The Bronberger