‘n Vreetsame vakansiereis Noordkus toe PDF Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 26 January 2018 14:43
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ek het nogal daarna uitgesien om vroeg in die nuwe jaar ‘n splinternuwe vreetsaamheid by ‘n blinknuwe kuierplek in Bronbergland in te werk, maar die redakteur had ander planne. Die ou knol wil opsluit ‘n vreetreisverslag van soort oor my en Metgesel se vakansiereis hê. Soos twee jaar gelede s’n, toe julle Kaap toe is, sê hy. Ek stry, maar dit help nie . . .

Ons is dié keer met ‘n langsame draai Natal se noordkus toe. Mtunzini was ons omdraaipunt. Maar met die afwaartse- en met die terugtog het ons ‘n hele paar uitspannings en ook ‘n paar oorstanings beleef.


Uitsig deur Chetnole se venster

Wakkerstroom is ‘n vaak, geskiedkundige dorpie vlak by die ontmoetpunt van twee (of drie) provinsies. Hier span ons die eerste keer uit en staan ons vir drie heerlike dae oor. Die plekke is so aards en so plattelands as wat jy maar kan. En dit is netjies en dis skoon – iets wat tot my ontsteltenis duidelik by die dag skaarser raak: Skoon en netjiese dorpies. Wanneer laas is jy deur Morgenson? Genoeg om enige vrolike vinkie tot diepe droefenis te stem.

Wakkerstroom is vir die voëls. En vir die voëlkykers. ‘n Pragtige en uitgestrekte vleilandgebied omring deur berge en geseën met ‘n ryk natuurlewe, mooi ou geboutjies, winkeltjies, vriendelike mense en ‘n paar goeie kuierplekke, is Wakkerstroom.

Ons bly oor in seker die gerieflikste en beste toegeruste selfsorgeenheid wat ek nog in my rondritslewe teëgekom het. Chetnole Cottages noem hulle die plekkie aan die voet van Ossewakop aan die buitewyke van die dorp.


Quiche by Utrecht se De Vine

By die dorpie se eie suiwelwinkel koop ons ‘n gerookte Hollandse goudakasie aan waaroor ek maklik sou kon huis toe skryf – of sommer hier kan skryf.  Die kaasmaker, Theuns, is ‘n kenner en dit sou bykans heiligskennis wees om die dorpie te besoek, sonder om sy produkte te beproef. Vra maar gerus waar, as jy dit dalk sou miskyk, die mense sal weet en dit is die platteland . . .

Ook hoogs aan te bevele is die vleispasteie en gebak van die Suikerbekkie Bakkery. Ons koop gevriesdes aan en geniet wildspastei, hoenderpastei en lamkerriepastei met sporadiese tussenposes in ons Chetnole-huisie.

Sondagmiddag loop sit ons aan vir die Wakkerstroom Hotel se selfhelp-ete. Len’s Sunday Roast, noem hulle dit. Die hotelletjie se binnewerke is smaakvol uitgerus met ouwêreldse meubels, kaggeldingesies en snuisterye. Dit vat ons ‘n wyle om ‘n aansitplek na ons wens te kry, want jy kan kies uit ruim eetkamers, ‘n kroegplek, ‘n binnehof en ‘n straatstoep. Die atmosfeer is ontspanne en ja, die mense is vriendelik en die bier is koud.

Geroosterde lam, geroosterde beesstuk, hoender, rys, gebakte aartappel, groentes en hemelse pampoenkoekies vorm deel van Len se Sondagete. Geen slaai nie. Alles baie goed voorberei en smaakvol opgedis. Ons geniet die middagmaal weldeeglik, maar dis die Pavlova vir nagereg wat ons altwee gaande het. Die ete kos R150 per kop.


Fels Retreat naby Paulpiet

Wakkerstroom is net ‘n entjie oor die twee ure se rustig ry vanaf Bronbergland. Terloops, die naaste OTM is op Volksrust, so 50 km van Wakkerstroom af, maar die meeste winkeltjies en kuierplekke het kaartgeriewe.

Die besluit is om die slagveldroete see toe te vat. Op pad Bloedrivier toe doen ons aan by Majuba (R30 toegangsfooi) en beweeg bergpaslangs verby die huisie van Richard C O’Neil (die Boere het hom sommer ou Gert ou Niel genoem) waar die vredesooreenkoms ná die eerste Engelse Oorlog geteken is. Dit nadat die Engelse hulle rieme behoorlik by die nabygeleë Majuba styfgeloop het.

By Utrecht word ons dors. En honger. Ek is bly om te kan berig dat ons hier nog ‘n betreklike skoon en mooi dorpie raakgeëet het. Die dorpie is in sy geheel binne in ‘n wildreservaat geleë – iets waarop die inwoners duidelik baie trots is. Hulle is ook trots daarop dat die dorp eens ‘n onafhanklike republiek was.

Ons ry ‘n draai om ‘n sebramerrie en haar vulletjie in die hoofstraat en hou voor ‘n ou huis met ‘n rondomstoep stil. Hulle noem die restourantjie ‘De Vine’. In die lawende koelte van De Vine se stoep geniet ons koue (sagte) drankies en die allerheerlikste quiche met ‘n wavrag slaai. Dit kos R45.

Ons volgende oornagplek sou behoorlik gestalte gee aan die woord ‘uitspan’. Ons slaap twee nagte oor op Bloedrivier. Hier, vlak neffens die imposante ossewamonument, bedryf Dons en Eurika Grobler die ‘Blood River Lodge’ en ook ‘n restourant van soort.


Wakkerstroom se winkelstoepe wat ook voor die hotel verbyloop

Die kamer met badkamer by Bloedrivier is heel gerieflik en met meubels uit ‘n vervloë era toegerus. ‘n Groot kombuis word deur die gaste gedeel. Die ontbyt is ingesluit by die kamerkoste en die keuses is uiteenlopend met een ding in gemeen: Dis ‘n baie stewige ontbyt.

Aandete kan bestel word en dié word by die deelkombuis afgelewer. Metgesel was in haar noppies met die macaroni-en-kaas wat sy bestel het (genoeg vir minstens twee etes) en ek was minder in myne met my kerrieafval. Die smaak van die afval was wel vorentoe, maar die vleiskossie moes ek soek tussen die wortels en aartappels.

Op die grondpaadjie oor De Jagersdrift vir ’n dagbesoek aan die Talana-museum op Dundee, sien ons ‘n vreemde verskynsel. Elke paar honderd meter of wat vir die volle 40 km staan een of twee van daai helder oranje verkeerskegels langs die stofpaadjie. En in die padreserwe agter die kegel in die koelte van ‘n boom of struik lê ‘n Zoeloe of twee of drie en slaap.


Jou uitsig vanaf Mtunzini se Gholfklubrestourant

Ek en Metgesel ruil teorieë oor wat die rede vir die snaakse verskynsel sou wees, totdat my nuuskierigheid die oorhand kry. Ek hou by ‘n paar stil wat vir my semi-wakker lyk waar hulle lê en vra dat hulle my asseblief moet sê wat hulle doen. “At work,” is al antwoord wat ek kon kry.

Talana, onder meer die plek van die tweede Engelse oorlog se eerste veldslag, is die grootste museum in die suidelike halfrond en beslis ‘n besoek werd.

Ons trek grondpadlangs van Bloedrivier af, verby Rourkesdrif en Nkandla (nou nie ‘n regte slagveld nie, maar amper) tot op Mtunzini.

In die koelte van ‘n melkhoutboom – Mtunzini. Só het ‘n ou Engelse staatsamptenaar, John Dunn, die plek gedoop. Dunn het gou sy staatspos verruil vir dié van Zoeloekaptein en vir hom ‘n hele harem Zoeloevroue gevat.

Mtunzini is ‘n bekoorlike en ja, skoon kusdorpie. In die uitgestrekte kuswoud sien ons (onder baie meer), die pikante rooiduikertjie en die vreemdsoortige wit aasvoël wat raffiapalmneute vreet. Ons het in die ses dae van ons besoek seker ‘n draai by ‘n goeie sewestuks kuierplekke gemaak en ons kon nie regtig oor een kla nie.


Aansit vir ontbyt by Bloedrivier

Ons eerste aansit was by The Clay Oven waar ons in die oopte van ‘n kuierdek die mooiste uitsig oor die kuswoud, strandmeer en die grootsee kon geniet. Ek versmul my ‘n stewige stuk kabeljou (in die kleioond gebak) met rys en groente. Metgesel is in hierdie stadium van die reis erg uitgehonger vir groente en bestel vir haar ‘n groentebord. Sy kies roomspinasie, boontjies, gebakte aartappel, broccoli, gebakte pampoen en avokadopeer daarby. Die etes saam met die te-drinke kos net R249. Die diens was vriendelik en dit was flink.

Die restourant by die plekkie se mooi gholfbaan kan ek veral aanbeveel. Die uitsig is soortgelyk mooi, maar met die netjiese skoonvelde voor die woud, meer en see. Hier geniet ons die allerheerlikste kaasburger (ek) en geroosterde toebroodjie met tamatie en kaas. Die bier was yskoud en die koffie warmlekker. Die vreedsame vreetslag kos ons R169. Met die uitstapslag sien ons ‘n foto teen die muur waarop die plek se sjef, ene Dice, ‘n toekenning as Noord-Natal se sjef van die jaar, 2017, ontvang.

Ons het met die terugtog nog verskeie kere by eetplekke van verskillende aard uitgespan, maar my ruimte is al weer op en ek volstaan by Fels Retreat buite Paulpietersburg, of Paulpiet soos die inwoners hulle dorp noem.


In Mtunzini se kuswoud met raffiapalms

Fels Retreat is ‘n pragtige ou sendingstasietjie wat in ‘n oornag- en funksieplek omskep is. Ons oornag en eet die volgende oggend ‘n baie bevredigende ontbyt. Die omgewing is asembenemend mooi, die eienaar is spontaan en gaaf, die diere (perde, honde, katte en pluimvee) is mak en vriendelik.

O ja, as jy jou dalk op ‘n dag in Hendrina sou bevind en jy is honger, gaan probeer een van Marcolise Restaurant se geroosterde toebrode met skyfies. Skaapwagtersnye van ‘n boerbrood op steroïedes, oordadig met jou keuse gevul en dubbelvingerdik aartappelskywe is genoeg om elke greintjie honger tot oormôre toe te tem.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger