Lastige apies verbreed hulle horison PDF Print E-mail
News - Artikels
Friday, 26 January 2018 14:42
Untitled Document

‘n Blou-aap-mannetjie is deesdae in Cullinan se Oudorp doenig. En hy dra nie ‘n T-hempie om te sê hoe oulik hy is nie. Die jakaranda-lanings vorm die snelweg waarlangs hy beweeg om vrugte, pap en brood by mense se voëlvoerders te gaps.

Blou-ape deel die gebied nader aan die Bronberg van toet af met die menslike inwoners, maar het hulle tot nou toe skaars gehou in Cullinan. Hulle is omnivore en vreet vrugte en groente maar ook insekte, klein gewerwelde diere en voëleiers en kan groot skade in tuine, vrugteboorde en landerye veroorsaak.

Volgens die kenners kan ape van groente en vrugte weggehou word deur ‘n vloeistof wat kinien, rissies of troeteldierafweerder bevat, aan te spuit. Droë kerrie, rissies of tabakpoeier kan in beddings gestrooi word. Sprinkel Jeyes Fluid binne-in en rondom asbliksakke om die ape uit te hou.

Besoek
Oudorp se inwoners het aanvanklik gedink dat die besoekende blou-aap ‘n verkenner is en dat hy binnekort sy hele aaptrop sou bring om saam te vreet. Blou-ape bly gewoonlik in troppe van 20 tot 30 lede. Dit het egter nie gebeur nie en die mannetjie hou aan alleen besoek aflê.

Die kenners sê dat tropsamehang rondom ’n dominante wyfie is. Wyfies vorm ’n liniêre dominansie hiërargie waar die dogters hulle rang van hulle moeders erf. Mannetjies emigreer met die aanvang van puberteit. Hulle trek van trop tot trop, en spandeer omtrent drie jaar in ’n trop voordat hulle weer aanbeweeg. Oudorp se aap is waarskynlik besig om vir homself ‘n nuwe trop te soek.

Volgens Monkey Helpline, ‘n geregistreerde nie-vir-wins organisasie wat ‘n 24-uur noodlyn bied, is dié ape nie aggressief nie en sal baie eerder vlug as aanval, behalwe as hulle vasgekeer voel.

Tog is ‘n inwoner van die weste van Pretoria in Junie verlede jaar deur ’n blou-aap aangeval. Micheal Venter is aan sy arms en hande gebyt; ’n hoofslagaar is beskadig en hy moes twee operasies ondergaan om ligamente te herstel.

Hercules se sektor drie-voorsitter, Esmé Nell, het gesê ’n brand het ’n paar blou-apies uit heuwels wes van die stad na woongebiede verdryf. Die departement van natuurbewaring is ingeroep om die situasie onder beheer te bring.


Die blou-aap in een van oudorp se jakaranda-lanings

Vaskeer
Monkey Helpline sê as ‘n aap in jou huis of voertuig vasgekeer is, moet jy padgee en die aap toelaat om te ontsnap. Moenie jou rug op die aap draai, weghardloop of gil nie. Beweeg stadig agteruit sonder om die aap direk in die oë te kyk. Blou-ape dreig mekaar deur te staar. Leer jou honde om nie die ape aan te val nie – die hond kan baie ernstig beseer word.

Volgens Monkey Helpline moet ‘n mens nooit kinders met kos toelaat in ‘n gebied waar blou-ape bedrywig is nie. As jy wilde voëls in jou tuin voer, moet jy dit nie elke dag op dieselfde tyd doen nie, anders gaan die ape ook by jou voëlvoerder begin wag.

As die aap wel elke dag opdaag, kan jy hom met jou tuinslang spuit – iets wat ape haat. Jy kan hulle ook met ‘n waterpistool of spuitbottel spuit. Ape is baie bang vir slange, so dit is raadsaam om ‘n speelgoed-slang aan te skaf. Maak ‘n toutjie aan die slang vas om hom te laat ‘beweeg’. ‘n Slang wat lank stillê flous die ape glad nie. Blou-ape is glo ook banger vir mans as vir vrouens.


Die blou-aap loer deur die takke nadat hy verjaag is

Aap
Die blou-aap, Cercopithecus aethiops, is ’n primaat van gemiddelde grootte. Mannetjies word gemiddeld 115 cm lank en weeg 5,5 kg, waar wyfies slegs 105 cm lank word en gemiddeld 4,1 kg weeg.

Hulle pels is liggrys, maar die penspels en die binnekante van ledemate is roomkleurig tot wit. Die gesiggie is swart, omkring met ’n wit band wat dwarsoor die voorkop strek en met die wange afloop.

Dié aap kry sy naam van die volwasse mannetjies se skrotum wat helderblou is.

Volwasse mannetjies toon geen belangstelling in kleintjies nie, maar jong mannetjies sorg dikwels vir kleintjies. ’n Ma sal toelaat dat ander wyfies haar kleintjie hanteer, maar dié in die laer rangorde kry nie maklik ’n kinderoppasser nie. Dit lyk asof ander wyfies veel eerder hoë-rangorde wyfies se kleintjies versorg.

Troppe het goed-gedefinieerde groepsgebiede met duidelike grense. Sosiale hegtheid word bevorder deur onderlinge versorging van mekaar se pelse. Dié hegte groepe het ook gemaak dat blou-ape ’n gekompliseerde reeks kommunikasiemaniere ontwikkel het.

Kommunikasie
Studies is gedoen wat blou-ape se geluide in 19 verskillende kategorieë opdeel. Die geluid se interpretasie hang ook af van of dit met ’n toe mond of met tande-wys gepaard gaan.

Daar is drie verskillende waarskuwingsroepe vir landroofdiere, slange en voëls. Hulle het geluide wat beteken kom-ons-begin-nou-beweeg, ’n wye reeks aggressie geluide wat elk iets anders beteken en net so ’n wye reeks geluide wat ma en kleintjie vir mekaar maak. Kleintjies kan soos ’n kat spin as hulle gelukkig is.

Die reeks geluide gaan gepaard, of nie, met liggaams- en gebaretaal waarvan die kenners al agt afdelings onderskei het. Een van dié is stertposisie.

Die posisie van die stert as ’n aap op al vier bene staan, wys hoeveel selfvertroue hy het. ’n Bang aap se stert loop parallel met die grond. Hoe hoër die stert op beweeg, hoe beter voel die outjie oor homself. Die wat werklik in hulle noppies met hulself is se sterte krul heeltemal om sodat dit parallel bo-oor die lyf staan.

Vir meer inligting oor blou-aapmaniere, skakel Monkey Helpline by 082-659-4711 of 082-411-5444.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger