‘n Plan vir voorspoed Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 26 January 2018 16:41
Untitled Document

Met hierdie eerste uitgawe van ‘n splinternuwe jaar is dit reeds duidelik dat die Bronnie se lesers saam met ons opgewonde is oor dit wat in ons 16e bestaansjaar voorlê.

Die buitengewone meelewing wat ons van lesers geniet, word weer duidelik in die lywige briewekolom van dié uitgawe weerspieël. Dit dien nogeens as bevestiging daarvan dat Die Bronberger goed, deeglik en gereeld gelees en geniet word – iets waarvoor ons diep dankbaar is. En juis hiérin lê voorspoed in die verlede en – met die genade – vir nog ‘n nuwe jaar opgesluit.

Oor die jare heen en tot nou toe het baie gewaardeerde adverteerders dit ervaar dat hulle produkte en dienste behoorlik raakgesien en benut word as dit in die Bronnie geadverteer word.

Dit is bewys dat die meelewing en lojaliteit van die Bronnie se getroue lesersvriende ook ‘n positiewe oorspoeluitwerking vir ons adverteerders inhou. Mense wil ondernemings ondersteun wat hulle advertensies in Die Bronberger plaas.

Die positiewe terugvoer wat ons in welkome oormaat van die Bronnie se lesers ontvang, kan as getuigskrif dien in ons strewe om deurlopend nuwe, meer en gereelde adverteerders in ‘n groter en beter Bronnie te verwelkom. Ter stawing plaas ons hier onder net enkele uittreksels uit onlangse terugvoer van ons lesers en adverteerders.

Hendrik Ver Loren van Themaat: “Sterkte verder met julle wonderlike tydskrif. Julle lewer ’n groot diens aan ons gemeenskap.”

Marie Hattingh: “Die mense ondersteun die maandblad en sy adverteerders so goed omdat dit uit ons kontrei en vir ons kontrei is.”

Henk Smit: “Elke uitgawe wat ek van julle lees is beter as die vorige. Wow, julle doen ongelooflike werk vir ’n onafhanklike publikasie!”

Jakes Stadler: “As adverteerder, kan ek met oorgawe (en feitelik) getuig dat die reaksie uit Die Bronberger merkwaardig en meetbaar beter is as uit advertensies in verskeie ander publikasies.”

Lila Oechler: “Nogmaals baie dankie vir so ’n oulike tydskrif en vir al die harde werk. Ek sal in kontak met julle wees om ’n advertensiespasie te koop.”

Anita Robertse: “Die Bronnie was skaars uit toe kry ek goeie navrae. In die toekoms sal ek slegs in Die Bronberger adverteer.”

Sue Schipholt: “Ons woon in ’n aftree-oord naby Silver Lakes en ons almal geniet Die Bronberger. Dit is omtrent ’n skrum as hy in ontvangs land!”

Dirk Hanekom: “Baie dankie vir die plasing van ons kleuterskooladvertensie. Ek vind julle publikasie baie doeltreffend en met interessante nuus uit die omgewing.”

Antoinette Basson: “Soos gewoonlik kan ons en ons vriende nie wag om die nuutste Bronnie te kry nie.”

Wilna van Visser en Pieters: “Baie dankie vir julle wonderlike werk. Julle kan ons advertensie net so hou.”

Gene de Lange: “Die Bronnie is soos gewoonlik vinnig opgeraap deur die kliënte in dié verspreidingspunt – mag julle sukses net voort en voort gaan.”

 

 

© 2024 Die/The Bronberger