Hans Walvis en die gatkruiper PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 26 January 2018 14:40
Untitled Document

Vroeër jare, het Hans Walvis de Jager vertel, was Fauna en Flora nogal bekommerd oor waar hulle olifante en leeus rondloop. Daarom is Etosha se heining vol elektrisiteit gelaai om ’n skokkie te steek voor die gekuier op aangrensende boere se plase.

Op ‘n dag ry hy saam met sy wildbewaardervriend, Hennie Theron, teen die wildtuin se heining af om te kyk waar die vlakvarke gate onderdeur gegrawe het, het Hans Walvis vertel. Want, sê Hans, hiënas het die varkgate groter gemaak vir hulle pottige lywe om te pas en het sodoende ‘n gerieflike ontsnaproete vir die park se leeus gelos. Die leeus neig dan om die buurboer se bees te vreet en die buurboer hou nie daarvan nie. Hy speel klaar met die beesdief en gee nie eers die vel vir Fauna en Flora terug nie, het Hans vertel.

Kry hulle dan so ‘n gat wat die varke gegrawe het, gooi hulle dit nie toe nie, maar hak ‘n stukkie ketting versigtig aan die lewendige heiningdraad vas dat dit op so manier in die gat afhang dat enige ding wat probeer deurkruip kontak maak met die geweld van die stroom. Só, word die goed dan bang vir gatkruip, het Hans Walvis gesê, en bly hulle binne Etosha.

So sien hulle op dié dag die hiëna aankom draad toe – reguit na die gat wat hulle so pas ‘gestel’ het en hulle staan doodstil dat hulle kan sien wat ta wil maak. Moes ‘n ou gatkruiper gewees het, het Hans gesê, want hy peil sonder skroom direk gat toe. Maar toe meneer sy kop onder die draad indruk, raak hulle ketting hom mooi tussen die skouers.

Met die draad reg bokant die hiëna, was sy vertikale beweegruimte natuurlik erg beperk, maar met sy trurat was niks verkeerd nie. Drie of vier meter, sê Hans. Dis waar hy die eerste keer weer grond gevat het, ná hy in ‘n sierlike agteruitboog deur die lug getrek het. Was seker vir hom snaaks, want hy het gelag. Vreeslik. En hy en vriend Hennie lag toe maar saam.

Dit blyk toe dat ou gatkruipers nie maklik hulle les leer nie. Toe die lagbui bedaar, het hiëna se kind vir ‘n paar minute die heining goed bekyk voor hy baie versigtig nader staan en baie stadig weer met sy kop die gat insak vir die deurkruipslag.

Die gevolg was dieselfde, maar hierdie keer was dit blykbaar eers snaaks want nou lag daardie hiëna vir die eerste span. Uit volle bors, kan jy maar sê. En hy dink darem nie hy sal lag as hy homself so verskriklik moet vuilmaak nie, het Hans Walvis gesê.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger