Nuwejaar soos voorsate gevier PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 26 January 2018 14:23
Untitled Document

Die veertigste Nuwejaarsfees is op 1 Januarie by die Pioniersmuseum gevier. Die weer het goed saamgewerk en besoekers kon soos hulle voorsate die Nuwejaar met vreugde ingaan deur te braai of piekniek te hou op die groen gras onder die wilgerbome.

Die Nuwejaarsfees word sedert 1977 daar gevier en vanaf 1999 in samewerking met lede van ATKV Jakaranda- en Aksie en Woordvreugde-takke. Die winste uit dié fees word vir restourasiewerk by die museum gebruik.


Van die besoekers het dadelik ingespring en begin dans

Voor 7 uur het die uitstallers, wat ‘n verskeidenheid produkte en eetgoed te koop aangebied het, opgedaag. Die hek is deur Tak Jakaranda en Sammy Marks-Museum beman. Voor 8 uur het die eerste besoekers hulle verskyning gemaak met gazebos, piekniekmandjies en braaigoed. 

Handhawer Jeug het die boeresport aangebied. Eerste was die paddaspringkompetisie waar jonk en oud tou gestaan het om hout paddas aan ‘n tou te laat spring. Daarna was toutrek, sakresies en later die dag die sweepklapkompetisie waar die wenners bepaal is deur van ‘n desibelmeter gebruik te maak. Daar was dié jaar selfs inheemse Afrikaspeletjies soos Marabaraba en Ditini.


Mense moes hout paddas aan ‘n tou laat spring

Aksie en Woordvreugde het medaljes aan die wenners van die eerste drie plekke oorhandig, waarop veral die kinders baie trots was. Daar was ook pretkompetisies met pryse soos die oudste tannies en ooms asook die jongste baba.

Maxie Potgieter van Tak Jakaranda vertel dat die nuut gerestoureerde Pioniershuis deeglik besoek is en die gids wat in periodedrag geklee was, het haar goed van haar taak gekwyt. Toe die baksel warm brood uit die tradisionele buite-bakoond kom, het die mense in rye gestaan en moes lede van Tak Jakaranda bontstaan om die mense te bedien. Heel brode is verkoop asook lekker dik snye met botter en konfyt.   

 

 

© 2018 Die/The Bronberger