Vyftig jaar in Bronberg-wêreld PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 26 January 2018 14:22
Untitled Document

Anton Jansen van Belofte op Rietfontein bied ‘n nostalgiese terugblik oor die afgelope vyftig jaar in die Bronberg se hoewegebied. Hy onthou die eerste slingerende grondpaadjies, plaaswinkels, skoolbusdiens en die drie liggies wat snags gewys het waar die halwe handjievol bure bly.

Anton Jansen

Hierdie jaar is dit ’n half eeu gelede (1968) dat ons ‘kaart en transport’ gekry het van hoewe nege, Rietfontein 375 JR, tien morg groot (vandag 8.5 hektaar) aan Garstfonteinweg. Ons het dit by ene dr Sachs vir R3 000 gekoop.

Ons het in die stad gewoon en naweke gaan uitkamp en dit was ’n hele reis vanaf Wonderboom-Suid na Rietfontein, want 25e Straat, Menlopark was die einde van die beskawing. Vandaar het ’n grondpaadjie slingerend verby die Sjinese winkeltjie en die Indiërwinkel (vandag kantoorgeboue), waar lampolie en perdesaals te koop was, geloop. Dan deur De Beers Lokasie, oor die Ou Militêre grondpad en verby ‘Eastwood Location’, wat vandag Garsfontein is, en dan verby Wolfaardt se melkplaas (vandag ondermeer Woodlands, Woodhill en The Wilds) om uiteindelik by ons ‘plotjie’ te kom.

Later (in 1971) het ons permanent daar gaan plak en ons kinders is met oom en tannie Strydom  se skoolbusdiens oor die stofpad, nou Garstfonteinweg M30, na Menlopark Laer en Hoërskool  toe. (Sien vorige Bronberger-uitgawes oor dié busdiens).

Ons huis is aan die noordekant van ’n hoogtetjie gebou met die ou Heidelbergpad suid van ons en noord-oos het ons drie ligte gesien: Ver Loren van Themaat onder in Zwavelpoort, een onbekende op Boschkop en dan die myn teen Magaliesberg langs die huidige N4-snelweg.


Anton Jansen in Januarie 2005 op sy plot, Belofte, op die Rietfontein-kleinhoewes

So met verdrag leer jy die bure ken, bure wat sover as Tierpoort strek. Flip Moolman van Tierpoort Handelshuis wat vleis en brood, miergif en mielies verkoop en brandstof vir ons lendelam, voos bakkies.

En wie is jou reddende engel wat jou uithelp op ’n Paasnaweek wanneer die waterpomp nie werk nie? Flip.

Maar nou raak ons ‘grênd’ in die jare tagtigs en negentigs. Garstfonteinweg word ’n teerpad; Opperman se plaas word Mooikloof Landgoed; ons kry krag van Eskom; ons mag nou ook grondbelasting betaal in plaas van hondebelasting; Wolfaardt se melkplaas is nou Woodlands; en twintig mense sterf per jaar op die teerpad wat eens ’n grondpaadjie was.

Die naaste slaghuis op Tierpoort word aan die familie Steenkamp verkoop, wat ’n rukkie later na Moreletapark verhuis en binne twee dekades elke jaar die slaghuis van die jaar toekenning gekry het. Van tjops en wors word dit ’n formidabele sake-onderneming met ’n paar takke in die ooste plus ’n bakkery en restaurant.

Die eens ‘armetierige’ hondeplaas, waar honde dag en nag ons rus versteur, word deur die familie Zwarts gekoop en vandag is dit een van Suid-Afrika se voorste troeteldier ‘hotelle’.

En so kan ons die hekellappie van vooraanstaande Bronbergers uitbrei, maar ons laat dit hierby danksy Die Bronberger wat vir jare al ons ‘superglue’ is. Kenmerkend van die Bronbergers is hulle vindingrykheid en deursettingsvermoë. Hulle maak en ‘regmaak’ alles self, bou hulle eie huise, rig elektriese heinings op (alles sonder ’n sertifikaat), slag beeste en skape en elkeen het ’n boerderytjie aan die gang, of dit nou hase of hoenders, vetplante of voëltjies is, maar boer, boer hulle. 

Maar die diamante is die mamma’s wat hulle kinder skool toe aanry, die eiers of blomme gaan verkoop, inkopies doen in die verre Menlopark, betyds terug om die kinders na ballet te bring en dan, eenmaal tuis, die diere kosgee en laastens vinnig die borsel deur die hare trek om met ’n ‘smile’ manlief te begroet.

Om ’n Bronberger te wees is nie vir sissies nie, maar hulle is die sout van die aarde.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger