Uitgesproke landdros doodgeskiet PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 26 January 2018 14:21
Untitled Document

‘n Landdros van die Cullinanse Landdroshof is koelbloedig doodgeskiet. Die 50-jarige Victor Mabunda is op 10 Januarie in die oprit na sy huis in Prinsloostraat 52 A, Bronkhorstspruit geskiet.

Victor is glo vier keer geskiet en is op die toneel dood verklaar. ‘n Ooggetuie het gesê dat hy ‘n groen Toyota Rav 4 sien wegry het van die toneel. Slegs die bestuurder was in dié voertuig.


Die ingang na die Cullinanse Landdroshof

Victor was glo nog binne-in sy kar toe hy geskiet is en dit is nie duidelik hoeveel verdagtes betrokke was nie. Die moontlikheid dat die moord verbind kan word aan hofsake waarby Victor betrokke was en dat ‘n sluipmoordenaar gehuur is, word ondersoek.

Niks is in die voorval gesteel nie.


Landdros Victor Mabunda
Foto verskaf.

Victor Mabunda was bekend vir sy opspraakwekkende uitlatings oor jeugdige moordenaars. In 2006 het hy in die borgtogaansoek ná ‘n moordsaak aan ‘n 18-jarige seun gesê: “Jy is ’n sadis of ’n satanis, want ’n gewone kind kan nie só iets doen nie.” Hy het gesê as dit sý seun was, hy hof toe sou gegaan het en vir die kind sou sê: “Sien jou in die hel.”

Victor het gesê dat die samelewing uitmekaar val omdat kinders nie meer vir hulle oortredings gestraf word nie. “Ons kweek ’n klomp slange wat ons gaan byt,” het hy gesê.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger