Gevolge van vuurwerke PDF Print E-mail
News - Briewe
Friday, 26 January 2018 14:13
Untitled Document

Maritha Fourie Theron van Rayton skryf:
En so gaan ons toe die nuwe jaar in. Ondanks die waarskuwings en bewusmaking dat die afsit van vuurwerke slegs met toestemming mag geskied en onderhewig is aan streng boetes, is dit eenvoudig geïgnoreer.

Vuurwerke is weereens met ’n groot gejuig geskiet terwyl diere, soos elke jaar, angsbevange rondhardloop en voëls verwilderd opvlieg.

Ek kon nog nooit verstaan wat is so vermaaklik aan ’n bomklapper nie. Nou ja, soos altyd slaap die wat hulle geldjies, swaarverdien of nie, so goedgunstiglik aan vuurwerke spandeer het salig terwyl veeartse, die DBV en dokters en verpleegpersoneel onverpoos moet werk om die gevolge van die sinnelose vermaak, op te ruim.

Nou is daar altyd die persoon wat vinnig is om jou daarop te wys dat jy jou kat of hond ’n pilletjie van die veearts kan ingee, maar wat van die vee, wilde diere en voëls. Van die vuurwerke is naby die beeste afgeskiet.

Elke jaar word perde beseer en terwyl party mense jillend die vuurwerke geniet, word die plesier van die Nuwejaarsvieringe so ander mense ontneem.

 

© 2018 Die/The Bronberger